“En ek is nog hy”
January 22, 2015
Santam en Sanlam kom tot stand
January 22, 2015

Die nasleep van die Rebellie het gelei tot ’n groot nasionale kragsinspanning – ’n insameling van geld vir die vergoeding van mense wat eise ingestel het vir skade wat rebelle aangerig het. Rebelle het goedere wat hulle nodig gehad het, by winkels en op plase opgekommandeer en kwitansies uitgereik omdat hulle die geld later wou terugbetaal. Die eisers het soms met die kwitansies geknoei. Verder het regeringsmagte ook geweldige skade aan eiendom van rebelle aangerig, waarvoor laasgenoemde nie vergoed is nie.

Die Regering het besluit dat die rebelle self die skade moes vergoed, anders as wat die Britse regering ná die Ierse Paasopstand van 1916 gedoen het. Daar het die regering die skade van die rebelle betaal.

Die Noord- en Oos-Vrystaat is die meeste deur die Rebellie geraak en dáár het in 1915 ’n gedagte ontstaan “om over en weder de een de ander bij te staan”. So het die Helpmekaar in 1915 tot stand gekom. Skuld is tussen distrikte verdeel, en die takke het geld waarvoor hulle getakseer is, byeen gebring met onder meer basaars en verkopings. In die Vrystaat moes geweldige bedrae geïn word, en aan die begin van 1917 het dit bekend geraak dat die Vrystaters nog £110 000 skuld. Daarop het die Kaaplandse Helpmekaar in Julie 1917 besluit om ’n fonds te stig om die skuld te probeer delg voor die sperdatum op 10 November 1917, wat later “Afrikanerdag” gedoop is.

De Burger het met talle hoofartikels en lesersbriewe groot belangstelling gewek. Meneer Jakob Elisa de Villiers van die Paarl het op 29 Augustus in ’n brief aan die blad geskryf dat hy bereid is om £500 tot die fonds by te dra as daar oor die hele land nog 500 gevind kan word wat elk £100 (huidige reële waarde R20 000) sal gee. Baie het getwyfel of dit moontlik was, maar die honderd ponde het ingestroom. Sommige mense het saam ’n £100 gegee en hul bydraes is erken onder name soos “Die Jong Ongetrouwde Boertjies” van Trompsburg, “Jonge Boer Seuns” van Wellington, “Moeders en Dochters” van verskeie plekke en “Leden Joodse Inwoners” van Heilbron. Leerlinge van ’n Stellenbosse skool het ’n tyd lank een maal per week sonder ontbyt gebly en die geld wat dit sou gekos het, aan die fonds geskenk. Paarlse skoolseuns het hul rugbyonthaal opgeoffer en ooreengekom om ’n kwartaal lank droë brood te eet. Toe ’n paar mense hiervan hoor, het hulle aangebied om die leerlinge ’n paar keer van botter te voorsien. Die seuns het die aanbod gretig aangeneem, maar verlof gekry om die botter vir die fonds te verkoop.

Die honderdponders het vinnig ingestroom – op 16 November was daar 1361. Op Afrikanerdag was die oorskot £60 000. Die Vrystaat het 621 honderd-ponders gelewer, Kaapland 546, Transvaal 167, Natal 25 en Rhodesië 2. Onder die distrikte het Malmesbury voorgeloop met 75, daarna Bethlehem 54, Stellenbosch 53, Paarl 52, Smithfield 42, Boshof 35, Bloemfontein 33 en Heilbron 31.

Wat bygedra het tot die sukses, is oproepe van die Afrikaanse kerke, koerante en politici, veral van die Nasionale Party. Maar ook De Volkstem het die veldtog gesteun. Gustav Preller was heimlik rebelgesind.