Gezina du Plessis (1831-1901): Die eggenote van PauI Kruger
April 7, 2017
Hendrik Potgieter. Die grondlegger van Transvaal
April 7, 2017

(Soos verskyn in Historia Junior)

Die vredesverdrag wat kommandant Hendrik Potgieter op 15 Desember 1852, die dag voor sy dood, met Marap, die raadslid van Moselekatse gesluit het, het vir baie jare standgehou en daar was altyd ’n goeie verstandhouding tussen die Boere en die Matabeles.

Toe die Engelse goudsoekers in 1887 onder aansporing van Cecil Rhodes Matabeleland ingetrek het, het Moselekatse se opvolger, Lobengula, onrustig geword en gesante na president Kruger gestuur en gevra dat die Suid-Afrikaanse Republiek, as bewys van die Boere se vriendskap, ’n gesantskap of konsul by die Matabele-koning se hoofkraal sou aanstel. Hieraan is voldoen en in Mei 1888 het Piet Grobler wat die bynaam van “Piet Jentelman” gehad het, as konsul na Matebeleland vertrek. Piet Grobler het die Matabele goed geken en is ook deur Lobengula vriendelik ontvang. Die traktaat van vriendskap wat deur die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek opgestel is, is aan Lobengula voorgelees en deur hom goedgekeur. Hy moes egter eers die toestemming van sy indoena’s hê om dit te onderteken. Dit sou ’n paar dae duur voordat die raadslede kon vergader en van hierdie tyd wou Piet Grobler gebruik maak om sy vrou wat aan Krokodilrivier vertoef het, na Bulawayo te bring.

Teen die einde van Junie het Grobler met sy waens suidwaarts vertrek. By hom het ook ander aangesluit wat na Transvaal teruggekeer het. Hulle was twee Engelse, G.E. Lloyd en G.W. Cameron, verder A.W. Greeff en Frans Lotrie met sy gesin wat bestaan het uit sy vrou, drie seuns, Willem, Cornelis, Bernard en twee dogters, Nellie en Helena. Helena was ongeveer 15 jaar oud, ’n kind van die veld: lewenslustig en aktief. Die koers wat die geselskap geneem het, het die destydse roete deur Betsjoeanaland gevolg sodat die gevaarlike koorswêreld van die Limpopovallei vermy kon word. Die reis gaan gevolglik deur die noordoostelike gedeelte van die gebied van die Bamangwato-naturellestam onder hul opperhoof Khama.

Terwyl die geselskap op Sondag, 8 Julie 1888, aan trek was om so gou as moontlik deur die droë Betsjoeanaland te kom, het Piet Grobler en die twee Engelse vooruit gery om die pad vir die waens te verken. Skielik het daar ongeveer ’n vyftig naturelle uit die bosse tevoorskyn gekom en die waens omsingel. Dit was duidelik dat hulle geen goeie bedoelings gehad het nie. Een van die naturelle was so astrant dat hy die touleier van Frans Lotrie se wa uit die pad stamp. Frans Lotrie spring dadelik van die wa af en storm die naturel wat die loop neem. “Skiet, die ellendeling,” roep hy aan Greeff. Daar word ’n paar los skote in die lug geskiet. Grobler en die twee Engelse jaag dadelik terug toe hulle die skote hoor. Toe die naturelle die manne gewaar, neem hulle die loop maar Grobler en sy manne trap ’n hele klomp vas en neem hulle gewere af. Willem Lotrie en Cameron skraap die vlugtendes te perd, maar Willem se perd trap in ’n gat en in die geweldige val breek hy sy arm. Die twee moes na die waens terugry.

Grobler wat goed bekend was met die toestande in hierdie gebiede en wat bewus was van opstokery van die Engelse, kon die aanvallers nie ongestraf laat nie. Hy eis toe van die leier, Mokoetsjwane, dat die naturelle 25O osse binne ’n maand as boete moet betaal. Omdat hy wis dat die aanvallers Britse onderdane was, het hy hierdie voorwaarde op skrif gestel en versoek dat Mokoetsjwane dit onderteken as ’n reken van instemming.

Mokoetsjwane het hiertoe ingewillig, maar gevra dat die voorwaardes ook aan sy mense wat gevlug het, verduidelik sou word. Hulle sou ongewapen die konsul ’n ent van die waens ontmoet.

Grobler het teen so ’n reëling geen beswaar gehad nie en Mokoetsjwane het sy manne laat roep. Een van Lotrie se dogters het Grobler gewaarsku en gesê dat hulle die naturelle nie moet vertrou nie, maar Grobler was van oordeel dat die naturelle goed geskrik het.

Die Naturelle het uit die bosse teruggekom en by Mokoetsjwane vergader. Daar het hy stilletjies vir hulle beduie dat hulle op ’n gegewe teken die witman moes aanval. Grobler het na die vergadering geloop en die voorwaardes in hulle eie taal verduidelik. Toe hy klaar is, staan die hoofman op en roep uit: “Julle het gehoor. Staan op.” Die naturelle spring op terwyl die blankes wag om te sien wat gebeur. Mokoetsjwane gee die teken en skree: “Vang en slaan dood!” Meteens sak die 160 naturelle toe op die paar man. Kieries, stokke en asgaaie kom tevoorskyn. Grobler en sy manne probeer deurbreek. Hul slaan met die vuis, maar kry self houe met die kieries. Hulle probeer veral om Grobler teen die grond te kry, maar hy slaan met die vuis en kry sy hande los. Hy pluk sy jagmes uit en skree vir die manne: “Bly bymekaar en loop agteruit na die waens toe.” Hulle hou die naturelle weg van hulle lyf en eindelik kom een of twee manne los en nael na die waens toe om hul gewere te kry. Toe die eerste skote klap hardloop die naturelle in verskeie rigtings die omringende bos in. Maar daar kry hulle hul gewere en voor die blankes hul waens kon bereik, reën die koeëls op hulle.

Grobler kry ’n koeël net bokant die enkel van die linkerbeen wat sy been vergruis. Hy val neer op die grond terwyl die koeëls om hom gons.

Toe die naturelle skreeuend op die blankes toegesak het, het Helena Lotrie haar vader se geweer en patroonband gegryp, gereed om dit weg te bring. Nou dat die naturelle so gevaarlik skiet, huiwer sy vir ’n oomblik. Sy sien egter dat haar vader ’n skoot deur die been kry en neerval. Toe hardloop sy met geweer en patrone vorentoe. Sy gaan haar vader en Grobler nie in die steek laat nie. Toe sy by Grobler kom, skree hy vir haar: “Kind hulle sal jou doodskiet, draai om!” Maar Helena gee niks om nie. Sy gaan tussen die twee gewondes en die aanstormende naturelle staan, sprei haar rok uit om te verhinder dat hulle die gewondes sien. Nou is al die vuur op haar gerig, maar sy bly staan. Die mense by die wa skree vir haar om plat te val, maar sy bly staan. Drie koeëls ruk deur haar rok en ander klap digby haar verby. Sy laai die swaar geweer en trek los op die naturelle wat uit die bos gestorm kom. Daar kom verwarring in hul geledere. Die meisie wat nog steeds daar ongedeerd staan en die dodelike geweervuur vanaf die waens is te veel vir die Bamangwato. Hulle hardloop die bosse in. Die vier manne sit hulle agterna en verwilder hulle. Nou hardloop ander vroumense van die waens af en help vir Helena om die gewondes na die waens te bring. Terwyl hulle die gewondes versorg, hardloop Helena na ’n miershoop ’n end van die waens af. Daar kry sy ’n klomp van die naturelle se gewere wat hulle daar voor die samekoms weggesteek het en nie kon bykom nie. Sy dra die gewere na die waens toe. Klein Bernard kom ook help. So het hulle nie minder as 33 gewere gebuit nie.

Piet Grobler se wond was baie gevaarlik. Daar is dadelik rapport na Krokodilrivier gestuur aan sy vrou. Ook het die berig van die toestand van Grobler die president in Pretoria bereik. Hy het dadelik dr. Lingbeek en mnr. P. de Beer, die volksraadslid vir Waterberg, gestuur om hulp te gaan verleen. Mev. Grobler het uiteindelik die waens bereik. Drie dae later is Piet Grobler dood, voordat dr. Lingbeek opgedaag het.

Die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek het geëis dat die Britse owerheid Khama se mense moes straf. Na verloop van amper ’n jaar het die Engelse regering Khama veroordeel en moes hy jaarliks aan mev. Grobler £200 vir onderhoud betaal. Ook moes hy ’n bedrag van £200 vir Helena se pa betaal as skadevergoeding.

Die naam van Helena Lotrie sal onder die Afrikaner altyd onthou word en ons seuns en dogters sal met trots haar naam noem haar heldedaad huldig.