Helena Claudina (Claudie) JOOSTE nee Van WYK

Margaret Constance Twentyman CAIRNS née JONES (26.04.1912-24.01.2009)
August 28, 2020
Shelagh Patricia Mary SPENCER née O’BYRNE
August 28, 2020

Claudie voorheen Bloemfontein en tans van Die Wilgers, Pretoria vertel self

Ek, Helena Claudina Van WYK nou JOOSTE is op 18.06.1934 te Queenstown as tweede dogter van Willem Johannes van WYK (1909-1969) en Gertruida Johanna Catarina Van WYK née NELL (1904-1998) gebore. Ek is na my ouma aan vaderskant, Helena Claudina Van WYK née COETZER (1881-1959) vernoem.

Van kleins af was ek geïnteresseerd in my voorouers en het altyd vir ouma Susanna Magrita NELL gebore Du PLESSIS (1884-1969) en oupa Nicolaas Hendrik Salomon Van WYK (1872-1954) en ouma Helena Claudina gevra wie hulle voorouers was. My moeder was ook ’n BAIE groot bron van inligting wat my met haar stories oor haar oumas en oupas geprikkel het.

Toe ek vir Andre ontmoet, het ek agtergekom dat ook hy belanggestel het in genealogie aangesien hy ’n direkte afstammeling van die Voortrekker Louis Trichardt was en met sy oupa aan moederskant Ignatius Marthinus de Klerk wat in die Diyatalawa krygsgevangenekamp te Ceylon oorlede is. Ons het veral belangstelling in die periodes van die Groot Trek en  die Anglo-Boereoorlog gedeel.

Na Andre se verplasing na Bloemfontein in 1973 het die gogga my behoorlik begin byt, ons twee seuns was groot en het ek aan ons families begin krap. Ek het vir my eerste uitgawe van die Handleiding vir genealogiese navorsing van RTJ (Roelf) Lombard (1977) aangeskaf en so baie inligting en aanmoediging daaruit geput.

Ek was besig om aan my ouma aan moederskant se inligting te  werk en kon net nie ’n deurbraak kry nie, tot ek by die RGN se Genealogie-Inligting aansoek gedoen het vir hulp en die vriendelike dame wat my die inligting oor my ouma stuur was toe ene Isabel Groesbeek wie later ’n bekende genealoog geword het. Sy was ’n groot inspirasie.

Die heel eerste besoek aan Vrystaatse Argief was ongeveer 1978 en daar het ek vir eerste keer ’n regte sterfkennis  en wel die sterfkennis van Andre se oupa Ignatius Marthinus de Klerk wat in Diyatalawa oorlede is, ontdek. Terwyl ek daar gewerk het, het Elsa Coetser die hoof van die leeskamer my gevra om te help met navorsing vir ander.

Daarop het die balle net begin rol … besoeke aan die Kaapse Argief en ook die NG Kerk Argief (daardie dae net om die draai van Kaapse Argief in Die Tuine).

Verskeie  persone  het my gevra  om navorsing vir hulle te doen.  Intussen was ek klaar met my en Andre se VOLLE genealogie en Andre met pensioen en het ons albei heeldag en tot laat net aan genealogie gewerk. Andre hoofsaaklik met nalees en foto’s neem en ek met verwerkings.

Hier is ’n aantal interessante onderwerpe wat ons nagevors het:

  • Genealogie oor ontwerper van die Tunneling Shield, James Henry Greathead wat op sy pa se plaas in die Vrystaat grootgeword het.
  • Navorsing vir Elzabe Britz vir haar boek oor Emily Hobhouse.
  • Britse Setlaars in samewerking met MD Nash.
  • Kroonstad konsentrasiekampsterftes in samewerking met Elria Wessels, Anglo-Boereoorlogsmuseum.
  • Grondeise-sake van ou Vrystaatse plase.
  • Verskeie hofsake.
  • Genealogie oor gedeeltes van verskeie families onderneem o.a. Van Wyk, Jooste (volledig), Trichardt, De Klerk, Coetzer, Botha, Du Plessis, Nell, Symm, Watkins en bydraes vir verskeie publikasies.

Vir ons navorsing het ek in 2010 ’n GGSA-merietetoekenning en ons albei daarna die GGSA Verste Myl-toekenning ontvang.

Nou na aftrede kan ek net verlang na daardie dae van harde maar genotvolle  werk. So baie hegte vriendskappe gesluit, so baie frustrasies, so baie plesier!