Hans Strydom (1947-)

Theuns Stofberg (1955-)
August 20, 2018
Jurie Ferreira (1921-2002)
August 20, 2018

Daantjie Dinamiet

 

Ons het hom die afgelope paar jaar as At Koster; die grootbaas van die Binneland-kliniek in kykNET se sepie Binnelanders leer ken, maar Hans Strydom se loopbaan as akteur strek al langer as veertig jaar.

Johannes (Hans) Strydom is egter al meer as veertig jaar lank een van ons land se bekendste en gewildste akteurs en hy was die eerste Afrikaanssprekende persoon wat Suid-Afrikaanse kykers tydens die SAUK se eerste amptelike televisie-uitsending op 5 Januarie 1976 verwelkom het.

Hans is op 14 Mei 1947 in Durban gebore en het in die regte aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (vandag die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit) gestudeer. Hy het in 1972 ’n staatsaanklaer in Ladysmith in KwaZulu-Natal geword en van 1972 tot 1976 was hy ’n landdros by die hoofkantoor van die Departement van Justisie. Hy is deur die rolprentregisseur Elmo de Witt ontdek.

Hans het in 1976 sy werk bedank om ’n akteur te word, hoewel hy teen daardie tyd al ’n aantal filmrolle losgeslaan het. Sy eerste rol was teenoor Sybel Coetzee in Môre Môre, die rolprentweergawe van ’n radiovervolgverhaal wat deur Jan Scholtz geskryf is. In 1975 was hy te sien in Liefste Veertjie, Oliekolonie en Ter wille van Christine. Een van sy bekendste rolle as rolprentakteur het in 1976 gevolg. Hy het die rol van Dolf Preller in Vergeet my nie teenoor Alice Krige vertolk. Hierdie rol sou mense dalk kon oortuig dat Hans kan sing, maar in werklikheid is Rudi Neitz se sangstem vir Hans se karakter gebruik. Die klankbaan van die rolprent het twee trefferliedjies opgelewer, naamlik “Mooi is die lewe nou” en “Sonder jou”, en ’n jong Johan van Rensburg was verantwoordelik vir die verwerking van die musiek. In dieselfde jaar het hy ook die hoofrolle in ’n Beeld vir Jeannie en Sondag in September vertolk. Hans het gereeld met Jan Scholtz saamgewerk, en die volgende paar jaar het hy in rolprente soos Diamant en die dief, Die eensame vlug en Herfsland gespeel. Jan het die draaiboeke vir al drie hierdie rolprente geskryf. In hierdie drie rolprente het hy onderskeidelik die rolle van ’n swendelaar, ’n dosent wat valskerm gespring het en ’n prokureur vertolk.

Hans het ook verskeie rolle as televisie-akteur vertolk, onder meer dié van Kit Malloy in Die Mannheim-sage, wat vervaardig is ter viering van Johannesburg se eeufees in 1986. In Plek van die vleisvreters het hy die rol van Bertus du Toit vertolk en sedertdien is hy te sien as At Koster, die grootbaas van Binneland-kliniek. Ander televisiereekse waarin hy gespeel het, sluit in Westgate, The Res, Generations, Egoli, Die vierde kabinet, Skoppensboer en Triptiek. Hy was ook te sien as die radio-omroeper Arnoldus Labuschagne in Die Manakwalanners, waarvan daar twee reekse in 1993 en 1994 verfilm is.

In 2000 het Hans ’n saak teen die SAUK aanhangig gemaak omdat akteurs blykbaar nie behoorlik vir heruitsendings beloon is nie. Hy het die saak gewen en sedertdien help hy ander akteurs om behoorlik deur die SAUK vergoed te word. Hy is ook ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Gilde van Akteurs. Hans Strydom is sonder twyfel een van die legendes van die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf!