Die aftakeling van Afrikaans
January 26, 2015
Afrikaanse instellings
January 26, 2015

Die Waarheid-en-versoeningskommissie met biskop Desmond Tutu as voorsitter het op 29 Oktober 1998 sy verslag ingedien oor skendings van menseregte voor 1994. Dit het gevolg op drie jaar van verhore en lang verslae oor die radio en televisie. Die hoofbevinding was dat die NP-regering die grootste skender van menseregte tussen 1960 en 1994 was. Ook die ANC is egter gekritiseer oor talle skendings van menseregte soos moord, marteling, teregstelling, mishandeling en die aanblaas van geweld.
Die kommissie het geoordeel dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was en dat die bevrydingsbewegings ’n geregverdigde stryd gevoer het. Daar kleef histories ’n groot stigma aan die begrip “misdaad teen die mensdom”, wat verwys na misdrywe wat Nazi-Duitsland teen die Jode gepleeg het. Deur assosiasie is apartheid dus gelykgestel aan Nazisme en sy misdade. Die twee stelsels is egter heeltemal onvergelykbaar en die gelykstelling ’n gruwelike leuen.

Hierdie gelykstelling is weerlê deur kenners soos Hermann Giliomee in sy presidentsrede aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-aangeleenthede in 1996. Hy het gesê dat hy nie verskoning vir apartheid maak nie; dat almal wat nie wit was nie, onder diskriminasie gely het. Maar terwyl die Nazi-analoog die doelbewuste uitwissing of verdunning van ’n volksgroep suggereer, dui die apartheidsgeskiedenis op presies die teenoorgestelde. In Suid-Afrika het die swart mense se lewensverwagting in die twintigste eeu byna verdubbel. Omstreeks 1980 was die sterfsyfer van babas in Soweto waarkynlik laer as in die Sowjetunie. Die mees dramatiese vordering van die bruin mense het in die apartheidsjare plaasgevind. Terwyl die lewensverwagting van die mees begunstigdes van apartheid – wit mans – met net twee jaar toegeneem het tussen 1950 en 1980 het dié van bruin mans met tot tien jaar gestyg en dié van bruin vroue met tot vyftien jaar. Tussen 1970 en 1985 het die sterfsyfer vir bruin babas met ’n verstommende twee derdes gedaal. Dis wêreldwyd ’n bykans ongeëwenaarde prestasie.

Doktor Anthea Jeffery het in The truth about the truth commission skerp kritiek op die WVK uitgeoefen. Sy skryf dat sowat 90% van die verklarings van slagoffers van menseregteskendings (19 200 uit 21 300) nie onder eed afgelê is nie. Min daarvan, indien enige, is in kruisondervraging getoets. Nogtans was hierdie verklarings die belangrikste bron van inligting van die WVK. In 17 500 gevalle het getuies aan die WVK vertel van menseregteskendings teen ander mense, nie hulleself nie. Talle verklarings moes op hoorsê gegrond gewees het en nie op persoonlike waarnemings nie. Dit sou verbasend wees as selfs 100 van die 21 300 verklarings van slagoffers die toets van “feitelike getuienis” sou slaag. Die kommissie het eensydig die klem laat val op die een kant se oortredings, maar dié van die ander kant feitlik ignoreer. So is glad nie geprobeer om die polisie se bewerings oor die people’s war van die ANC te ondersoek nie. Binne agt jaar het dié veldtog gelei tot 80 500 gewelddadige voorvalle waarin 9 200 mense dood is 18 000 beseer is. Gruwele van die struggle, soos die halssnoermoorde, het in die vergeetboek beland.