’n Nederlandse erfenis
July 26, 2018
Martin Luther (1483-1546)
July 26, 2018

Onder die lewensverhale van ons land se toonaangewende figure bly dié van Gustav Preller seker die merkwaardigste. Aan hom kom die eer toe dat hy met ’n skoolopleiding van nouliks drie jaar (vanaf sy twaalfde jaar) gevorder het van ’n onbeduidende winkelassistent op Standerton tot bekende joernalis, stoere taalstryder, onderlegde kultuurman, geliefde skrywer en toonaangewende historikus. Wat hy tot stand gebring het, was die vrug van selfvorming en -ontwikkeling.

Sy dinamiese persoonlikheid sal altyd gekoppel bly aan die Tweede Taalbeweging en die erkenning van Afrikaans. Preller was baanbreker, leier van die Tweede Taalbeweging in die noorde, stigter van die Afrikaanse Taalbeweging asmede stigterslid, tydlank sekretaris en later erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie. Sy kalm, stil, dringende gestalte sal steeds herinner aan die ontwaking van die Afrikaner tot die belangrikheid van sy eie vaderlandse geskiedenis, waartoe Preller self ’n reuse-bydrae gelewer het deur navorsing en geskiedskrywing. As vaderlandse geskiedskrywer het hy sy volk na die Driejarige Oorlog geleer om sy verlede en homself te respekteer en deur middel van sy eie taal homself te bly en sy toekoms uit te bou. Deur selfstudie het hy ’n veelsydige joernalis geword, ’n knap toneelkritikus en het hy ’n fyn aanvoeling vir musiek en die beeldende kunste ontwikkel.

In 1931 toe Preller van die Universiteit van Stellenbosch ’n ere-doktorsgraad in Lettere en Wysbegeerte ontvang het, het mnr. Willem van Heerden in Die Huisgenoot (29 Mei 1931) o.m. geskryf: “Die lengte van die leer na roem wat hy beklim het, is langer as dié van die meeste ander van ons bekende figure, omdat hy soveel verder van onderaf begin het, en die hoogte wat hy bereik het, sal beny word deur die meeste van sy tydgenote, soos dit besieling sal wees vir dié wat na hom in dieselfde omstandighede moes en moet begin … Hy was van die grootstes op twee gebiede, in albei waarvan hy sedert 1903 gewerk het met ’n vuur en ywer waartoe vlees en bloed slegs baie selde ’n mensegees in staat stel, bedags aan die joernalistiek en snags aan die geskiedenis van sy vaderland … Hy het gehad ’n ‘infinite capacity for taking pains’ wat hom tot die grootstes onder ons gemaak het.”

 

LEWENSLOOP

Gustav Schoeman Preller, seun van komdt. Robert Logie Preller en Stefina Schoeman, is op 4 Oktober 1875 op die plaas Klein Schoemansdal, Klipdrif, buite Pretoria gebore. Dit was destyds die eiendom van sy grootvader aan moederskant, genl. Stefanus Schoeman, en vorm tans deel van die stad Pretoria, ten noorde van Boomstraat tot aan die Apiesrivier.

Genl. Schoeman was een van die bekende Voortrekkerfigure wat in die tyd van genl. Pretorius waarnemende president was. Sy oorgrootvader aan vaderskant, stamvader van die Prellers, was oorspronklik uit Duitsland. Toe hy nog heel klein was, het sy ouers van Hammanskraal na die distrik Standerton verhuis waar sy vader geboer het. Later is die gesin weer terug nader aan Pretoria. Komdt. Preller het bekendheid verwerf as teler van volbloedperde en merinoskape en was later vrederegter op Amsterdam, Transvaal. Hy was in die oorlog Boerekrygsgevangene op Ceylon. Die egpaar het ses kinders gehad.

Foto: ’n Dagboek wat Preller in 1891 op 18-jarige ouderdom in Pretoria gehou het, is nog in besit van sy seun, mnr. RH (Bob) Preller. Dis in Engels geskryf. Interessant is die lang lys boeke wat Preller gedurende dié jaar gelees het: romans, ontdekkingsreise, geskiedkundige werke en die volgehoue studie wat hy meld. Hy was besig aan rekeningkunde, natuurwetenskap en geologie. Die aantekeninge getuig verder dat sy werk as winkelassistent hom tot die dood toe verveel het.

Gustav Preller was in ’n groot mate die produk van die wye Suid-Afrikaanse veld en van sy eie leergierigheid. Hy was reeds twaalf jaar toe hy vir die eerste keer skool toe gegaan het. Dit was op Standerton in die skool van mnr. Charles Coldrey. ’n Skoolmaat en latere kollega van hom, mnr. J.P. Ia Grange Lombard, het na Preller se dood getuig dat hy altyd getref is deur die diepe erns waarmee die jong Gustav sy studie en klavierlesse benader het. “Die verskil was eenvoudig dat hy skoolgegaan het om te leer en kennis op te doen vir die lewenstryd, terwyl ons skool gegaan het omdat ons pa’s ons daarheen gestuur het.”

Preller het ongeveer drie jaar skoolonderrig gehad toe die onderwyser wegtrek en die skool moes sluit. Sy ouers wou hom na Stellenbosch stuur, maar Gustav was daarteen gekant en het verkies om as winkelassistent op Standerton te begin werk. Te Pretoria, waarheen die gesin later verhuis het, was hy agtereenvolgens winkelassistent, prokureursklerk en klerk in die Departement van Mynwese. Sy vrye tyd het hy meestal aan studie gewy. Met die uitbreek van die oorlog in 1899 was Preller hoofklerk en reeds getroud.

Foto: ’n Groep Boerekrygsgevangenes op 18 Desember 1901 op Ceylon afgeneem. Voor heel regs sit komdt. Robert Preller, vader van Gustav Preller. (Uit die Preller-versameling, SA Argief, Pretoria)

Foto: Een van die talle telegramme wat Gustav Preller aanvanklik gereeld aan sy jong vroutjie gestuur het om haar op hoogte te hou van die gebeure op die slagveld.

Preller het in die huwelik getree met mej. Johanna Pretorius van luit.-kol. Henning P.H. Pretorius, destyds hoof van die Transvaalse Staatsartillerie, ’n direkte afstammeling van Piet Retief en verwant aan die bekende Pretorius-geslag waarvan genl. Andries Pretorius, held van Bloedrivier, die beroemdste was. Preller was besonder geheg aan sy vrou en onteenseglik het haar karaktervastheid, patriotisme en liefde vir die vaderlandse geskiedenis hom blywend geïnspireer. In ’n skets oor hoe sy die Transvaalse Vierkleur uit die Engelse kamp in Pretoria gesmokkel het, het hy haar later beskryf as “slank en lenig soos ’n wilkerloot”. Vandag nog besit mev. Preller tasbare bewys van haar man se toegeneentheid in die vorm van talle telegramme wat sy gedurende die oorlog van hom ontvang het om haar op hoogte van die gebeure op die slagveld te hou.

Foto: ’n Brief van Preller aan sy vrou, gedateer 1 Desember 1899 en geskryf op amptelike papier wat van die vyandelike magte verower is. Hy bedank o.m. vir ’n mandjie goedere en sê “de kleeren en schoenen zullen zeer te pas komen”. (Uit die Preller-versameling, SA Argief, Pretoria)

As amptenare was Preller die eerste paar maande van die oorlog belas met die toesig oor die ontginning van sekere myne. Die nag voor die inname van Pretoria was hy die enigste amptenaar wat genl. J.C. Smuts (destyds staatsprokureur) kon help om die staafgoud van die regering in veiligheid te bring. Met dié goud is die so bekende veldponde later geslaan. Deur sy eerstehandse kennis van dié aangeleentheid kon Preller later altyd die hardnekkige storie van die Kruger-miljoene as ’n gekke verhaal weerlê.

Preller is na die front as lid van die Derde Battery van die Staatsartillerie. Hy het terselfdertyd as oorlogskorrespondent vir De Volkstem en De Zoutpansherg Wachter opgetree.

Gedurende die driejarige stryd het hy kennis gemaak met genl. Louis Botha, kommandant-generaal van die Republikeinse magte. Op ’n slag het hulle toevallig dieselfde tent te lande gekom – Preller om sy berigte op te stel, genl. Botha om te. Heel toevallig het hulle saam die tent verlaat en oomblikke later het ’n vyandelike bom die tent vernietig. Genl. Botha het laggend na Preller gekyk en kalm opgemerk: “Dit was amper, nè jongeman!” Dié gebeurtenis het ’n groot indruk op Preller gelaat en nog nadere kennismaking met die Boeregeneraal het van hom ’n lewenslange bewonderaar van Botha gemaak.

Vier maande voor die einde van die oorlog is Preller naby Ermelo gevange geneem en na Indië verban.

Dit skyn of Preller feitlik toevallig in die joernalistiek beland het. Voor die oorlog het hy soms artikels oor mynaangeleenthede vir De Volkstem en ’n klompie sketse vir Engelse blaaie geskryf; gedurende die oorlog het hy verslae oor veldslae opgestel. Toe hy as banneling uit Indië terugkeer (Augustus 1902), vind hy sy mooi woning Sunnyside, Pretoria, verniel en deur die owerhede as kantore ingeruim. Al sy besittings was vernietig en sy vrou was verpleegster by die konsentrasiekamp te Irene. Sy ou departement is van Pretoria na Johannesburg verskuif en soos so baie van sy volksgenote moes hy weer sy lewe uit die puin opbou.

Hy het na Johannesburg gereis om sy ou betrekking by Mynwese terug te vra. Maar daar was ’n nuwe hoof, mnr. Wybergh, wat hom kil meegedeel het dat sy aansoek te laat was – hy moes ses maande voor die einde van die oorlog aansoek gedoen het.

Diep onder die indruk van die vernedering waaronder sy volk deur die nuwe bestuur gedwing is, het Preller besluit om saam met ds. Louis Vorster se groep in September na Argentinië te vertrek om ’n nuwe lewe daar te begin.

Intussen was sy ou vriend Eugène Marais in Pretoria ernstig siek aan moeraskoors wat hy opgedoen het in ’n desperate poging om ’n vars besending plofstowwe uit Duitsland deur die Ooskus na die Boeremagte te smokkel. Toe die tyding van die vrede hom bereik, was hy reeds siek aan koors as gevolg van die maandelange ontbering in die moerasse.

Sy drukkery waarme hy vroeër Land en Volk in Pretoria uitgegee het, was egter nog bruikbaar en op advies van mnr. P. van Hoogenhout Tulleken het hy sy vriend Preller gevra om redakteur van Land en Volk te word. Preller was toe 27 jaar oud en is slegs met groot moeite oorreed om van sy plan om na Suid-Amerika te verhuis, af te sien. Hy het in Pretoria aangebly en in die joernalistiek beland omdat dit waarskynlik so moes gebeur, want hy was bestem om ’n groot rol in Suid-Afrika te vervul. Gevolglik het daar op 2 September 1902, vier maande na vrede, weer die eerste Hollandse koerant in Transvaal na die oorlog verskyn.

Dit was ’n tydperk van armoede, ellende en moedeloosheid onder ’n streng militêre regime van die Britse owerheid.

“Skoorvoetend het ek die eerste skrede gedoen op die doornige weg,” het Preller later geskryf. En vir hom moes dit ’n groot uitdaging gewees het. Totaal onervare as koerantman het hy ook geen ervare personeel gehad nie. Sy leserspubliek, van wie die voortbestaan van die blad sou afhang, was in armoede gedompel. Die owerheid was vyandig en agterdogtig. Preller en Marais moes verlof kry om die blad weer uit te gee en hulle is belet om oor die politiek te skryf. “Maar dit het moeilik gegaan om weg te bly van aktuele dinge elke dag – die naamlose verdriet wat mens oral aanskou, die verwoesting, die uitroeiing, die blykbare verdere verdelgingsplanne,” het hy geskryf.

Van die begin af het hy egter tevoorskyn getree as ’n forse, dringende persoonlikheid wat sy moedelose volksgenote geleidelik weer moed kon inpraat en aan hulle ’n toekomsblik kon gee. Sy woorde in die hoofartikel van die eerste uitgawe was nie alleen ’n wekroep nie, maar sou ook die wagwoord van sy joernalistieke en ander werk word, veral dié van 1902 tot 1910.

“Wij hebben onze verschijning in ’t strijdperk gemaakt door de gratie der boven ons gestelden; en aan de gratie is verbonden de voorwaarde dat de politiek voor ons ’t gesloten boek zijn. Het zijn zo. Er is grootser, edeler werk dan de politiek op ’t ogenblik. Er zijn diepe wonden geslagen…dwars over ons aller geheugen ligt de schaduw van’t verledene…Doch we willen veeleer ’n zoodanige boodschap tot ons volk brengen waardoor hij in staat gesteld zal worden ’n hand te reiken door te Tijd, en de vér verwijderde voordelen onzer tranen te grijpen!”

So kon hierdie ruim gees, nadat hy besluit het om in sy vaderland te bly en sy lot met sy verslane volk in te werp, daarin slaag om sy blik weg te keer van die omringende ellende en verbittering en dit op die toekoms te rig. Temidde van die puinhope van ’n verpletterende oorlog kon hy reeds soek na die toekomstige voordele van die verlore stryd waaraan hy self ook deelgeneem het.

In 1903 is Land en Volk met De Volkstem verenig. Preller het assistentredakteur van De Volkstem geword tot 1924, toe hy dr. F.V. Engelenburg as redakteur opgevolg het. In 1925 het hy om politieke redes bedank en redakteur van Ons Vaderland (later Die Vaderland) geword. Toe Die Brandwag op 31 Mei 1910 onder redaksie van dr. W.M.R. Malherbe opgerig is, was Gustav Preller mederedakteur. Na die eerste ses maande was dr. Malherbe alleen redakteur. Met dr. Malherbe se vertrek na Stellenbosch, waar hy die leerstoel in die Regte aanvaar het, het die redakteurskap opnuut aan Preller toegeval; en hy het die blad tot in 1922 bly redigeer, toe dit om finansiële redes gestaak moes word. Vir die taalbeweging was die blad van onskatbare waarde. Van die gereelde medewerkers was Jochem van Bruggen, Leon Maré, E. de Roubaix, M.M. Jansen, Hettie Cillié en mev. Izak van Heerden. In dié jare het Preller, behalwe sy werk by De Volkstem, ook nog Die Brandwag geredigeer en met sy geskiedkundige arbeid voortgegaan.

Foto: Redaksielede van De Volkstem. V.l.n.r: Gustav Preller, Frederik Rompel, dr. FV Engelenburg, JP la Grange Lombard en Adam Boshoff. (Goedgunstiglik geleen deur mnr. Orban van Wallachs-drukkery, Pretoria)

In 1936 het hy hom aan die joernalistiek onttrek om hom as staatshistorikus aan geskiedkundige navorsing te wy en hom op sy plaas by Pelindaba gevestig. Hier het hy ook self sy sierlike klipsteenwoning gebou. Reeds in 1930 het hy vir sy baanbrekerswerk as Suid-Afrikaanse historikus en vir sy groot dienste andersins ’n ere-doktorsgraad in die Lettere en Wysbegeerte van die Universiteit van Stellenbosch ontvang. Ook buitelandse eerbewyse het hom te beurt geval. Sedert 1919 reeds was hy lid van die Historische Genootschap van Utrecht en verder van die Maatschappij voor Nederlandsche Letterkunde.

Foto: Die rondawelhuis wat dr. en mev. Preller jare lank as naweekverblyf op hul plaas Pelindaba gebruik het en waar talle van die Prellers se vriende, veral uit die kuns- en skrywerskringe, ook gehuisves is. Hier het Eugène Marais tot aan sy dood gewoon toe die Prellers reeds die groot huis hoër teen die bult betrek het. Ander bekende inwoners was Coert Steynberg Frans Oerder en Uys Krige. Die rondawels staan nou leeg. (Foto Dotman Pretorius)

Kort na sy 68de verjaardag is dr. Preller op 7 Oktober 1943 oorlede terwyl hy nog besig was aan ’n werk oor die Eerste Transvaalse Onafhanklikheidsoorlog, wat hy Ons Eerste Goudroman genoem het.

Sy stoflike oorskot is op tradisionele wyse per waentjie na die familiebegraafplaas te Pelindaba vervoer en weggelê saam met dié van Marthinus Wessel Pretorius en die groot Voortrekkervrou Deborah Retief. Daar is sprake dat die begraafplaas tot historiese monument verklaar sal word. Op die oomblik is daar groot gewerskaf in die omgewing, omdat Suid-Afrika se eerste atoomreaktor net oos van dieselfde koppie opgerig word.

Foto: Die familiebegraafplaas van die Pretoriusse en Prellers is tans geleë bo-op ’n skurwe kliprant te Pelindaba. Die ou begraafplaas is hierheen verskuif toe die Hartebeespoortdam gebou is uit vrees dat die damwater die kerkhoffie sou oorstroom. Hierdie monument van opgestapelde klippe is opgerig ter ere van twee bekende figure uit die Voortrekkertyd wie se stoflike oorskot in die begraafplaas lê: Deborah Retief, dogter van Piet Retief, en haar man MW Pretorius, held van die opstand van Silkaatsnek. Hulle was die grootouers van mev. Johanna Preller. Die inskripsie lui: “Deborah Retief, 1815-1900 en Marthinus Wessel Pretorius, 1822-1864. Deur ’n dankbare nageslag opgerig, 1922.”
Op Gustav Preller se graf pryk volgens sy eie voorskrif ’n enkele groot klip soos een van dié in die stapel. ’n Huldeblyk van die Afrikaanse Skrywerskring is later by die voetenent aangebring en deur mnr. Harm Oost onthul.

DIE TAALSTRYD

Joernaliste het ’n belangrike rol in die Tweede Taalbeweging gespeel. In die suide het J.H.H. de Waal en in die noorde G.S. Preller die voortou geneem en in die Vrystaat het Joh. Visscher (Blikoor) en ds. W. Postma (dr. O’Kullis) hulle vir die saak beywer.

Voor die Driejarige Oorlog was daar ’n meningsverskil tussen die Genootskappers wat Afrikaans so gou moontlik tot skryftaal wou verhef, en die Taalbonders, wat ’n vereenvoudigde Nederlands as voorloper tot die erkenning van Afrikaans voorgestaan het. Na die Vrede van Vereeniging het daar ’n verskerpte besef gekom van die gevaar van algehele oorheersing deur die Engelse taal. Adv. Jannie de Waal het die gedagtes van die Genootskappers hervat toe die tydskrif Goede Hoop in April 1903 onder sy redaksie opgerig is.

In Maart 1905 het Onze Jan Hofmeyr op Stellenbosch die beroemde rede gehou Is ’t ons Ernst?, waarin hy die toenemende gebrek aan handhawing van die moedertaal gelaak het. Hy het egter Nederlands bedoel. Dit het Preller besiel, maar by hom was dit toe reeds ’n uitgemaakte saak dat Afrikaans die moedertaal van die Afrikaner is. Die volgende maand, April 1905, het sy reeks artikels Laat ’t ons toch Ernst Wezen in De Volkstem verskyn. Dit is later ook in pamfletvorm uitgegee en versprei. Hiermee het Preller onmiddellik die voortou geneem en dit is tereg die manifes van die Tweede Taalbeweging genoem. Dit was ’n goed gedokumenteerde stuk wat met Preller se onverbiddelike logika al die argumente van die teenstanders ontsenu het.

Sy stelling was positief. Afrikaans moet die fondamentsteen wees waarop Hollands in Suid-Afrika moet rus – nie omgekeerd nie. “Nee, laten wij het toch niet ontkennen: het Afrikaans wortelt diep in de Afrikaner nasie, zó diep dat ’n onuitroeibaar is! In het Afrikaans alleen is de Afrikaner in staat met de meeste kracht weer te geven wat er in hem omgaat, zijn natuurlikste gewaarwordingen, zijn innerlikste gedachten, zijn diepste gevoelens—het is de taal die ook by uitnemendheid hoort te wezen het voertuig zijner op papier geschreven gedachten.”

Preller het drie stellings neergelê:

  1. “De taal die in een land leeft, die in het volk wortelt, heeft in dat land en onder dat volk de meeste kans op voortbestaan en laat zicht niet uitroeien dan met de uitroeiing van het volk waarin ze leeft…
  2. Onze schrijftaal verschilt zover van ooze spreektaal, dat de gros der Afrikaners het geschrevene slechts met moeite verstaan en het nagenoeg nooit schrijven.
  3. Daarom heeft Afrikaans in Zuid-Afrika de grootste en beste kans op voortbestaan. Daarom behoort zich onze schrijftaal te regelen naar ooze spreektaal.”

Deurgaans het Preller die doel as volg voorgehou: “Afrikaans schrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen.”

Aan die einde van die manifes doen hy ’n beroep op enersdenkendes om met hom in verbinding te tree ten einde ’n vergadering te belê om ’n Afrikaanse taalgenootskap te stig. Daar was groot reaksie selfs uit Nederland en op 13 Desember 1905 is die Afrikaanse Taalgenootskap gestig met dr. N. Hoogenhout, seun van die staatmaker van die Eerste Taalbeweging, as voorsitter.

Preller se pleidooi was feitlik die aanvang van die latere triomf van Afrikaans. Deur sy kragtige en doelbewuste optrede het hy die Afrikanerkragte gemobiliseer, het hy die welsprekende voorspraak geword wat hom die onbetwiste leier van die taalstryd in die noorde gemaak het. Terselfdertyd het hy De Waal se stryd teen die voorstanders van Nederlands in die suide gesterk.

Foto: Preller se pleidooi wat so ’n groot rol in die opkoms van Afrikaans as skryftaal gespeel het en later tereg die manifes van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging genoem is. Die afdruk toon die voorblad van die gedrukte brosjure. (Africana-biblioteek, Johannesburg)

Foto: Preller se pleidooi wat so ’n groot rol in die opkoms van Afrikaans as skryftaal gespeel het en later tereg die manifes van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging genoem is. Die afdruk toon die laaste bladsy met die oproep dat belangstellendes met hom in verbinding moet tree, wat regstreeks tot die stigting van die Afrikaanse Taalbond gelei het. (Africana-biblioteek, Johannesburg)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hoewel Preller later alombekend geword het weens sy historiese werke, navorsing en versameling, bly sy aanvanklike aandeel aan die taalstryd en sy rol as beoefenaar van Afrikaans ’n groot en onskatbare nalatenskap aan sy volksgenote. Teen die agtergrond van die nasionale stryd van daardie tyd sal sy forse, kalm en ewewigtige gestalte al hoe groter verrys.

Na die oorlog toe daar vir die volkstaal slegs duisterheid geheers het, het hy die manmoedige voorspraak geword wat sy verslae en verslane volksgenote met ’n onblusbare geloof besiel en aangespoor het en sy kortsigtige teenstanders met onverbiddelike logika oortuig het.

Met sy heldere blik het Preller besef dat daar uit die puin van wat hy die goudoorlog genoem het, slegs die volkstaal ongeskonde en versterk oorgebly het. In die worstelstryd het hy met sy kamerade die verguisde taal gepraat, was dit die sterwenstaal van held, heldin en kind. Die volk sou ondergaan as die taal nie kon seëvier nie en daarom het hy begin pleit dat die geskrewe en gesproke taal dieselfde moet wees. Om met Nederlands vol te hou, het hy geskryf, sou volkselfmoord wees. Dit maak van die Afrikaner ’n hakkelaar, ’n doofstomme, ’n “taalbywoner” in sy eie land. Na al die “deftige gesukkel” van jare met Nederlands, is daar nog geen noemenswaardige letterkundige vrugte afgewerp nie, het hy geredeneer. Laat die volk dus skryf soos hy praat.

Afgesien van Preller se polemiese bydrae tot en organisasiewerk in die taalstryd, was sy optrede in ander rigtings ook positief. In Junie 1905 het hy in De Volkstem geleentheid geskep vir die beoefening van Afrikaans deur ’n prysvraag uit te skryf. Hoewel die keuse van die taal vry gelaat is, is slegs drie uit die 98 insendings in Hollands geskryf.

 

GESKIEDSKRYWING

Preller het self die daad by die woord gevoeg en begin met sy persoonlike bydraes aan die koerant, in Afrikaans geskryf, oor Piet Retief, wat die volgende jaar (1906) in boekvorm uitgegee is. Hoewel hy toe reeds lank besig was met die versameling van geskiedkundige stukke, was dit die begin van sy historiese geskrifte.

Toe Piet Retief verskyn het, aanvanklik as vervolgstuk in De Volkstem, was historiese figure soos Trichardt, Pretorius, Retief, Cilliers en ander weinig meer as name. Die Groot Trek is voorgestel as ’n uittog van ’n klomp bandelose korrelkoppe wat onder geen gesag wou buig nie en gesmag het na die “lekker lewe” (Walker) waar elkeen sy eie baas kon wees. Preller het die leiers herskep tot lewende wesens en was die eerste historikus wat die Groot Trek in sy juiste perspektief geplaas het.

Sy ontplooiing as geskiedskrywer moet gesien word teen sy deelname aan die taalstryd en sy strewe tot die opheffing en opwekking van die Afrikaner na die oorlog. Piet Retief het eintlik ontstaan as ’n diepgevoelde behoefte vir ’n handleiding by “Dingaansdag”-byeenkomste en dit het verder gevoer tot die reeks Voortrekkermense en ander werke.

In sy beskeidenheid het Preller homself nooit ’n geskiedkundige genoem nie, maar wel “iemand wat die geskiedenis liefhet”. Met groot ywer het hy stof versamel en gerangskik en dit lewend in sy geskrifte weergegee. Daarom kon hy sy volk ook tegelyk leer om hul eie taal te lees en as skryftaal te beoefen. Sy hoofverdienste as historikus sal bly sy bronnepublikasies wat, in sy eie woorde, ons in staat stel “om die Voortrekkers te leer ken soos hulle hulself gesien het, op trek, in die laer, op die jag en in die huislike kring; aan hul arbeid, hul godsdiens en vermake, in hul gewoontes en in die kleredrag van hul tyd”.

Die groot verdienste van sy vroeë bydraes was dat hy daarmee balsem op die wonde van die volk gegiet het deur die helde uit die verlede tot heroïese figure te herskep wat teen die agtergrond van die nasionale verlede uitstaan. In sy liriese prosa het hy die vaderlandse verlede laat herleef en tegelyk ’n vonkelnuwe taal geskep wat van Piet Retief die mees gelese Afrikaanse geskiedenisboek gemaak het.

Prof. dr. C.J. Uys skryf in Ons Eie Boek van Desember 1943: “Vir Preller was geskiedenis, volk en taal ’n onafskeidbare drie-eenheid, waarin die taal die sinlike gestalte van die gees is. Al sou ’n kritieser geslag hom as historikus gering ag, sal hy as taalstryder en volksman voortleef. Geskiedenis was vir Preller godsdiens, sy studeerkamer sy kerk en geskiedenisrolle sy Bybel. Nie op die bokwa en met lawaai nie, maar met sy pen in stilte het hy ’n nasie geleer om homself te respekteer.”

Piet Retief word deur prof. dr. G. Dekker uitgesonder as eerste prosawerk in Afrikaans met ’n nuwe klank. Dr. P.C. Schoonnees skryf daarvan dat Preller daarmee bewys lewer “nie alleen dat die volkstaal geskik is vir ’n wetenskaplike studie nie, maar sy werk word ook ’n bron van inspirasie vir digters en romanskrywers. Preller het ons geleer dat ons geskiedenis nie net ’n aaneenryging van ‘niksbeduidende kafferonluste’ is nie, maar dat die Trekkers die grondslae gelê het van ’n onafhanklike volksbestaan. Hy het ons gewys hoe dwarsdeur die verwarrende opeenstapeling van insidente, politieke kruiperye en lokale rusies, die Afrikaanse Idee met kannie-dood-taaiheid gegroei het, hoe die Afrikaanse Bestemming ,wyd en breed soos die Afrikaanse veld’ is.”

Uiteraard was Preller se belangstelling in die eerste plek op die Voortrekkers en die oorlog toegespits. Hy self het Voortrekkerbloed in sy are gehad en met sy huwelik is die verband nog nouer aangehaal. Preller het nie alleen ’n massa inligting aan die vergetelheid ontruk nie, maar ook ou voorwerpe versamel. Piet Retief is voorafgegaan deur die uitgawe Onze Krijgsoficieren (1903) wat hy saam met dr. Engelenburg opgestel het, en ander bekende werke vane hom sluit in Voortrekkermense (ses dele), Die Dagboek van Louis Trichardt, Andries Pretorius, Scheepers se Dagboek, Oorlogsoormag en Ander Verhale, Kaptein Hindon, Ons Parool, Ons Goudroman, bundels sketse en opstelle van diverse aard, ook Voortrekkers van Suidwes, asmede verskeie kleinere werke.

Wat Preller se waarde as historikus ongetwyfeld verhoog het, was die fyn stilistiese hantering van Afrikaans wat min Afrikaanse skrywers hom kon nadoen. ’n Eie segswyse en pittige uitdrukking het groot bekoring aan sy werke verleen.

’n Geleentheid wat besondere belangstelling verwek het, was ’n openbare debat in 1923 wat plaasgevind het tussen die historikus sir George Cory, prof. dr. Blommaert, van die Universiteit Stellenbosch, en Gustav Preller. Die egtheid van die traktaat tussen Piet Retief en Dingaan is in twyfel getrek, en Preller het hom onmiddellik as kampvegter daarvan in die stryd begeef.

In ’n onderhoud wat prof. dr. F.A. van Jaarsveld goedgunstiglik aan die redaksie van Lantern afgestaan het, verklaar hy van Preller as historikus: “Preller kan die vader van die geskiedskrywing in Afrikaans genoem word. Hy was ’n pionier wat die weg daarvoor berei het. Hy was outodidak en het geen wetenskaplike geskooldheid met universiteitsopleiding ontvang nie. Sy historiese werke het in verband gestaan met die Tweede Afrikaanse Taal beweging. Piet Retief het elf drukke beleef – die meeste wat enige geskiedenisboek nog ooit in Afrikaans te beurt geval het en om dié rede het historici dit “klassiek” genoem. Sy werk het veral die Groot Trek en die Oorlog belig.

“Preller se werk moet as behorende tot die voor-wetenskaplike fase van die geskiedskrywing in Afrikaans gereken word. Hoeveel hy nou ook vir die geskiedskrywing gedoen het, was hy geen wetenskaplike historikus nie. Hy het haastig gewerk, was dikwels onvolledig (bv. sy boeke oor Retief en Pretorius), hy was onkrities op sy bronne en het hulle huid-en-haar oorgeneem, terwyl hy die gang van die verhaal met lopende kommentaar opgevul het. Andries Pretorius wemel van feitelike onjuisthede.

“Maar – en dis belangrik – Preller het die Afrikaners leer lees en by hulle liefde vir die geskiedenis aangekweek. Hy was romantikus. Sy styl is lewendig, soms meeslepend. Hy is op sy beste as hy dinamiese gebeurtenisse beskryf.

“Die fondament van sy geskiedskrywing was nasionalisties, geskryf uit Afrikaner-standpunt. Hy wou ’n fondament neerlê waarop die volk hom na die oorlog kon herstel en gee ’n filosofiese fundering aan Afrikaanse nasionalisme. Daarom het Piet Retief so gewild geword. Sy boodskap was: die lyding van die Groot Trek was net so swaar as dié van die Oorlog van 1899-1902 en die Afrikaanse volk wat die Groot Trek kon oorleef, kon ook die ramp van die Oorlog te bowe kom.

“Preller het geweldig baie geskryf en sy werk het onteenseglik die kennis van ons verlede vooruitgebring sodat heelwat historici daarby kon aansluit. Sy tradisie lê egter nog in die 19de eeu. Streng geoordeel, het die wetenskaplike geskiedskrywing in Afrikaans eintlik eers na die Tweede Wêreldoorlog ’n aanvang geneem,” aldus prof. Van Jaarsveld.

Preller se rol as versamelaar van bronne behoort egter nie onderskat te word nie. Die insameling van dokumente het gespruit uit sy natuurlike en innige liefde vir die taak en die Preller-versameling is vandag een van die belangrikste dokumente-versamelings in die Transvaalse Argief. Dit is nie alleen wyd uiteenlopend van aard nie, maar word ook gekenmerk deur die belangrikheid van sommige van die stukke. Die versameling is in 1934 deur die Staat van Preller in ontvangs geneem en na sy dood aangevul. Mev. Preller het toe ook sy belangrike korrespondensielêers aan die Argief oorhandig. Die versameling is in agt groepe verdeel; waarvan groep E die interessante korrespondensielêers bevat wat ’n beeld gee van die wyse waarop Preller as geskiedskrywer en insamelaar van historiese bronne te werk gegaan het. Die nagenoeg 300 lêers was by Preller daagliks in gebruik saam met die alfabetiese indeks wat hy self opgestel het. Interessant is dit bv. om te sien hoe lank hy met die Britse owerhede in korrespondensie gewikkel was vir die terugvinding van die dagboek wat hy gedurende die oorlog gehou het en van hom as krygsgevangene afgeneem is.

Preller was ook kampvegter vir die behoud van ’n blanke samelewing in Suid-Afrika. Dit spreek uit sy historiese werke, in besonder Andries Pretorius waar hy Pretorius se beleid van rasseskeiding behandel en die betekenis daarvan vir die land beklemtoon. By die afsterwe van genl. J.B.M. Hertzog het hy voor die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie o.m. gesê: “As segregasie misluk het, dan is die Voortrek, waarvoor ons hier in die Voortrekkerhoofstad ’n reuse-gedenkteken bou, ’n mislukking. As segregasie misluk het, waarvoor genl. Hertzog meer dan ’n kwarteeu lank eerlik en opreg geywer het, dan stort ook ons witmansland vir ons land en volk in duie. As dit waar is, dan skryf ons ikabod oor ’n blanke toekoms vir ons kinders, dan streef ons bewus ’n bastertoekoms tegemoet waarin ons ras en ons nasie die ondergang tegemoetgaan in die welsand van Afrikaanse naturellebloed.

“Afskeiding, in teenstelling met gelykstelling, is ’n ideaal uit ons eie volk gebore en uit ons eie ervaring. Dit is geen oppervlakkige, afgeleefde, lewensmoeë Amerikaanse gelofie nie, maar die rype vrug van geslagte van dure Afrikaner-ervaring.”

“Preller was ’n beskaafde, geesdriftige vertolker van ’n verknegte volk se vaste wil om nie onder te gaan in die nag van nederlaag wat op die Traktaat van Vereeniging gevolg het nie”, het ’n oudkollega en vriend van hom, mnr. Harm Oost, getuig. “Hy was ’n onvermoeibare vegter en die stryd wat hy aangeknoop het, het hom gemaak tot literator, digter-in-prosa, ’n historikus. As geskiedkundige het sy werk moontlik gely onder sy strydvaardigheid as pattriot, want historiese onpartydigheid was van minder belang as die openbaring van die idee … Hy was ’n skepper. Want om die stryd te kan wen, moes allereers die wapen geformeer word om dit te kan begin. Daardie wapen was die volkstaal …”

Preller het sy aandeel gehad aan die stigting van die Suid-Afrikaanse Akademie, waarvan hy sy lewe lank ’n aktiewe lid gebly het en uiteindelik, kort voor sy dood, erelid geword het. Hy was lid van die “voorlopige komitee” van twaalf lede wat die ontwerpstatute wat begin 1909 opgestel is, weer moes nagaan en moes sorg vir die finale stigting van die liggaam tydens die kongres op Bloemfontein in Julie 1910.

Die eerste referaat in Afrikaans wat voor die Akademie gelewer is, was dié van Preller in 1913 oor Die Anti-Nasionale Tendens in ons Romanliteratuur, waarin hy veral die vyandige gees en die swartsmering van die Afrikaner in die Engelse Suid-Afrikaanse romankuns aan die kaak gestel het.

Dit spreek byna vanself dat Preller hom in die Akademie in besonder vir die bevordering van geskiedvorsing en geskiedkundige versamelings en museums sou beywer. Saam met dr. Engelenburg was hy die stukrag agter die uitgee van die Akademie se Bulletin. Hierin is hy later opgevolg deur prof. S.P. Engelbrecht. Reeds in 1917 was hy die sameroeper van ’n historiese kommissie wat o.m. ook geskiedkundige publikasies aangemoedig het. Een van die uitgawes wat hieruit gevloei het, was juis Die Dagboek van Louis Trichardt deur Preller.

Preller was sekretaris van die Akademie in 1923-1925 en weer van 1925-1927.

 

EIENSKAPPE

As mens was Preller beskeie, vriendelik, beskaafd, gevoelvol, lojaal en uiters hardwerkend. Hy het nie tyd gehad vir sosiale geklets nie en het slegs ’n handjievol intieme vriende gehad met wie hy liefs tuis verkeer het. Sy lewenslange verbintenis met Eugène Marais is alombekend. Hoewel hy soms met bytende sarkasme kon skryf, was sy denke kalm, sy lewensbeskouing bedaard en ewewigtig en het hy geen blywende wrok ná die hitte van die stryd gekoester nie. Hoewel geen kerkman nie, was hy tog diep godsdienstig. Liefde – en nie haat en vergelding nie – was sy uitgangspunt. Hy kon vergewe sonder om te vergeet, hy kon vir menslike verskille toegewings maak. Daarom kon hy goed bevriend bly met mense wat ook onderling heftige politieke geskille gehad het. Hy was bv. ’n bewonderaar van genl. Botha, maar het gedurende en ná die Rebellie saam met die Rebelle gevoel en het dit ook uiteindelik so bewerkstellig dat hulle voor die verstryking van die strafperiode hul burgerregte teruggegee is. Van jongs af het hy hom daarop toegelê om Engels te bemeester sonder om sy identiteit as Afrikaner in te boet. Hy het ’n verbete kampvegter vir Afrikaans geword, tog het hy geweet om by sy ywer ook ’n behoudende standpunt voor te staan wat hom later by die jonger, meer heethoofdige medestryders ongewild gemaak het. Met sy heldere oordeel het hy daarop gewys dat Nederlands met die erkenning van Afrikaans nie dadelik op skool afgeskaf moet word nie, omdat dit ’n ernstige kultuur-armoede by die Afrikaners sou Iaat ontstaan wat hulle dan na die Engelse kultuur sou laat gryp. Tyd het bewys dat Preller se oordeel korrek was, want sy voorspelling is bewaarheid. Met die verdwyning van Nederlands het die Afrikaner nie meer Nederlands gelees nie; gevolglik moes hy òf sonder diepsinnige stof bly, òf moes hy dit hoofsaaklik in Engels vind.

Ten spyte van die heftigheid van sommige van sy geskrifte was Preller ’n man van onverstoorbare kalmte. Sprekend hiervan en van sy fyn humorsin was die leuse wat hy al die jare in sy kantoor gehou het, uitgeborduur teen ’n agtergrond van die Transvaalse vlag: “Hoe meer dae, hoe meer neukery”.

Foto: Twee intieme vriende stop saam pyp op die stoep van die Preller-woning: Gustav Preller en die skilder JH Pierneef.

Preller het sy foute gehad, maar dit was in hoofsaak die foute van ’n outodidak. Waar hy homself feitlik alles moes leer, is dit maklik te vergewe. Hy kon koppig wees, veral ten opsigte van sy eie menings en bevindings, ook t.o.v. spelling en taalgebruik. In Iaasgenoemde was hy indiwidualis, nes Langenhoven. Preller was egter ’n taalskepper en talle van die woorde wat hy geskep het, sal altyd in gebruik bly, o.m. taalindoena (waarteen hy so te velde kon trek), tikmasjien, tikster, snelskrif, hysbak, uitsaaikorporasie, e.s.m.

 

LETTERKUNDIGE KRITIEK EN DIGKUNS

Preller se alsydigheid spreek ook uit die belangrike rol wat hy veral aan die begin as letterkundige kritikus ingeneem het en in mindere mate ook as digter. Hy was die eerste Afrikaanse kritikus van betekenis en ’n mens staan vandag verbaas voor die fyn deursig en objektiwiteit wat hy uit die staanspoor aan die dag gelê het. Met sy wye kennis en alsydigheid het hy alles kritiseer: Engelse en Afrikaanse boeke, gedigte, geskiedenis, toneelopvoerings, kunskonserte. Die waardevolle leiding wat daar in die beginjare van hom uitgegaan het, is nie te oorskat nie. Ook moet ’n mens rekening hou met die aanmoediging en besieling wat daar van hom as redakteur of vriend aan skrywers en digters en ook ander skeppende kunstenaars uitgegaan het. Soveelkeer het dr. en mev. Preller belowende jongmanne gehuisves of bevriend en aangemoedig. Een van hulle het ná dr. Preller se oorlye as volg aan mev. Preller geskryf: “I shall never forget his tremendous wisdom and extraordinary kindliness. Some of my happiest memories are bound up in your home, and I can well imagine what this loss must mean to you. Many of my ideals and reactions and fidelities are formed on what I learnt under your roof …”

Selfs heel aan die begin, en deeglik onder die besef van die kultuurhistoriese waarde van De Waal se Johannes van Wyk (1906), gee Preller tog skerp objektiewe kritiek. In dieselfde jaar het hy hom kras uitgelaat oor Melt Brink se Afrikaans. “Ons verwag dat daar binne afsienbare tydruimte baie geskryf sal word in Afrikaans, en daarom probeer ons om ons van die staanspoor af te plaas op ’n ruime, vrye werkbasis, nie van ons eie skepping nie, maar ooreenkomstig die opvatting daarvan in ’n ouere wêreld van lettere en kuns getoets aan die intellektuele peil, sede en behoefte van ons eie volk. En van dié standpunt af probeer ons om ’n oordeel te vorm van die voortbrengsels in ons eie moedertaal … Afrikaans … is vatbaar vir uitdrukking van ons subtielste lewensgewaarwordinge; waarom sal ons stilbly wanneer dit vir spot en skimp aangewend word? Té lang het ons dit gedaan; té groot is reeds die kwaad wat daardeur teweeggebring is. Laat dit bekend word dat ons nie langer enkel ons ou grappies en aardighede in Afrikaans wil verkoop nie.”

By ’n ander geleentheid skryf hy: “Kritiek, opbouwende, aanvoelende, eerlike, opregte kritiek op ons Afrikaanse lettervrugte word so langsamerhand ’n ernstige behoefte, ’n noodsaaklike aanvulling van die beweging om ons spreektaal te verbruik in ons skryftaal”. Hy voeg daarby dat die kritiek vanuit onsself en nie van buite nie, bv. Nederland, gegee moet word. By die deurlees van sommige van Preller se eerste kritiese werk, soos versorg en onlangs uitgegee in Eerstelinge deur D.J. Opperman, kom ’n mens sterk onder die indruk van die krag van sy prosa. Nog ’n werk van hom wat onlangs heruitgegee is, is Oorlogsoormag.

Preller het intens in die toneel belanggestel en was voorsitter van die Afrikaanse-Hollandse Toneelvereniging wat in 1907 in Pretoria gestig is. Hollandse en Afrikaanse stukke is opgevoer en hy self het ’n paar Engelse dramas vertaal, o.m. Piet s’n Tante (Charley’s Aunt van Thomas Brandon). Hy het ook Jock of the Bushveld vertaal. Boonop was Preller verantwoordelik vir die vervaardiging van die rolprent Die Voortrekkers in 1916. Preller het die draaiboek geskryf en Harold Shaw uit die V.S.A. was regisseur.

Foto: Geraamte vir ’n historiese drama oor die Voortrekkers wat vermoedelik die begin was van die draaiboek wat Preller vir die rolprent “Die Voortrekkers” geskryf het. Mev. Preller vertel dat die rolprent destyds op aandrang van genl. Louis Botha as Eerste Minister gemaak is en dat haar man moeite gehad het om die verhaal so voor te stel dat dit almal sou bevredig. (Uit die Preller-versameling, SA Argief, Pretoria)

Preller het onteenseglike digterlike talent besit wat hy egter self gering geag het en in sy bedrywigheid as joernalis en sy geesdrif vir die geskiedenis verwaarloos het. Sy digterlik-romantiese aard spreek egter duidelik uit sy geskrifte.

In sy geesdrif vir geskrewe Afrikaans het hy aanvanklik self ’n klompie gedigte geskryf om te bewys dat die veragte taal geskik is om gevoelsuitinge uit te druk. Die eerstes uit sy hand het reeds ’n maand na Eugène Marais se Winternag in Land en Volk verskyn. Hy het die skuilnaam “Stoffie van die distrik Standerton” gebruik en in die verse tref ’n besliste persoonlike klank, ’n verinniging van gevoel wat nuut in Afrikaans was. Hy dig veral oor die smart van die oorlog en die bitterheid van volksverskeurdheid.

In sy nou beroemde inleiding tot Jan Celliers se digbundel Die Vlakte het Preller dele uit sy eie gedigte opgeneem om te wys hoe die digkuns gegroei en ontwikkel het, maar ewe beskeie skryf hy, “die digter is my onbekend”. Sommige letterkundiges het van Preller se gedigte aan Eugène Marais toegeskryf – ’n kompliment vir Preller – en dit selfs as sulks in bloemlesings opgeneem. Een daarvan was Hoe Lang? wat o.m. lui: “Daar ruis soms stemme in die nag, wat fluister eers gesmoor en bang, maar luider straks, skoon altyd sag: ‘Hoe lang?’ Hoe lang moet ons nog swerf en stry en stil-swaar worstel met die dwang, en hoon en smaad en skimptaal ly: ‘Hoe lang?’”

Eers in 1933, nadat Marais geweier het om dié gedig in sy Versamelde Gedigte te laat opneem en ’n aanduiding gegee het dat dit Preller se werk is, het hy erken dat hy dit geskryf het. Aan prof. M.S.B. Kritzinger het hy toe geskryf: “Eindelik het jy my uitgevind,” en verder: “Ek heg daar geen waarde aan nie.” Hy het ook ’n klompie vertalings gemaak, o.a. ’n strofe uit Hamlet van Shakespeare.

 

MEV. PRELLER

Foto: Mev. Johanna Preller, bejaarde weduwee van dr. Gustav Preller, lid van die bekende Pretorius-geslag uit die Voortrek en agterkleinkind van die Voortrekkerleier Piet Retief. Sy woon tans in ’n tehuis vir bejaardes in Danville, Pretoria. (Foto Dotman Pretorius)

Gustav Preller se bejaarde weduwee, mev. Johanna Preller, woon nou weer in Pretoria nadat sy weens stygende ouderdom besluit het om die geliefde plaas by Pelindaba te verlaat en in ’n tehuis vir bejaardes in te woon. Sy gaan nog by tye plaas toe waar haar seun, mnr. Bob Preller en sy gesin nou woon. Die egpaar se oudste seun, Carl, is vyf jaar gelede oorlede en die derde seun, Gustav, is verbonde aan die Nywerheidontwikkelingskorporasie.

Mev. Preller sal onthou word as een van die drietal vroue, direkte afstammelinge van Voortrekkerleiers, wat die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in Pretoria waargeneem het.

Ons het mev. Preller in haar kamertjie in Louis Trichardthuis, Danville, besoek en diep onder die indruk gekom van haar heldere verstand en lewendige belangstelling in landsake, die geskiedenis, kultuur- en wêreldgebeure. Afgesien van haar belangstelling in dinge van geskiedkundige aard, leef sy baie beslis in die hede en praat dan sommer reguit. Sy is verfynd, eerbiedwaardig, eg-vroulik, gasvry, gul en uiters hulpvaardig.

Ons het gesels oor haar lewe saam met haar man, van die jarelange intieme verbintenis van die gesin met Eugène Marais wat die laaste tien jaar van sy lewe by die Prellers in Pretoria ingewoon het en op hul plaas oorlede is; van ander bekendes en beroemdes wat in een of ander stadium deur hulle gehuisves is, meestal op die plaas – skrywers, digters, skilders, beeldhouers.

Van mev. Preller verneem mens meer van haar man se gewoontes. Hy was stil, ’n man van min woorde. Hy kon feitlik aanhoudend werk en het snags selde voor twee-uur gaan slaap. Al die jare het hulle saam allerlei geskiedkundige voorwerpe en dokumente versamel en later ’n groot deel daarvan weer aan verskeie instellings uitgedeel. Preller het ook besonder belanggestel in die sogenoemde “BoesmankIippe” op die plaas en elders in die omgewing en het hul oorsprong nog as ’n raaisel beskou wat nie voldoende verklaar is nie.

Foto: Die sierlike steenhuis wat Preller self te Pelindaba gebou het, met die huidige eienaars, mnr. en mev. RH (Bob) Preller en twee van hul kinders, Monica en Deborah. Die oudste kind, Robert, is op kosskool in Brits. Die sierlike potte by die trappies is deur Coert Steynberg gemaak. Om die muur links het Preller destyds sy versameling van honderde sogenaamde Boesmanklippe opgestapel, maar daarvan het nou slegs ’n paar behoue gebly.
Mnr. HC de Kock, LV, vriend en vroeëre kollega van Preller, vertel o.m., “Pelindaba beteken in Zoeloe die einde van die saak. Daar is destyds naamlik ’n prysvraag uitgeskryf oor die naam van die dorp wat op die plek gestig sou word en wat reeds opgemeet was. Later is besluit om die onderneming te staak en toe het iemand in Zoeloe opgemerk: Gupele indaba, d.w.s. ‘Nou ja, die saak is klaar.’ So het die plek sy naam gekry. Preller het Zoeloe taamlik goed geken.”

Deur middel van ’n klein indeksboekie wat hy self opgestel het, was hy in staat om inligting uit sy groot versameling dokumente of korrespondensie te vind. Mev. Preller versamel nou nog steeds maar deel of leen dan weer net so gulhartig uit. ’n Groot deel van Preller se Africana-versameling het hy aan die Universiteit van Stellenbosch geskenk.

So in die gesels merk ’n mens die groot en blywende agting wat mev. Preller vir haar vader, luit-kol. Henning Pretorius, koester, van wie sy beweer dat hy eintlik die persoon was wat haar man nog voor hul verlowing Afrikaansbewus gemaak het. “Jou vader het my taalbewus gemaak,” het hy meermale teenoor haar erken. Dan vertel sy die voorval nog voor die oorlog toe sy van die jong Preller en ’n paar van sy vriende ’n formele uitnodiging na ’n piekniek by die Fonteine ontvang het. Dit was in daardie jare by baie jongmense die gebruik om in sulke gevalle Engels as voertaal te gebruik. Haar vader het die Engelse uitnodiging gesien en haar gevra of sy dit reeds beantwoord het. Sy het bevestigend geantwoord, waarop hy gesê het: “Nou goed, maar ek gaan dit ook beantwoord.” Die volgende dag verskyn daar in De Volkstem ’n brief deur kol. Pretorius waarin hy dit as skandelik ag dat jong Afrikaners dit nodig vind om Engels in plaas van Hollands te gebruik wanneer hulle aan mekaar skryf of formele uitnodigings stuur. Toe die saak deur die jongmanne bespreek is, en sommige van hulle teen die brief beswaar maak, was Preller se kommentaar: “Die Kommandant het gelyk.”

Mev. Preller meld ook ’n minder bekende feit: Haar man is eintlik die “vader” van die Moedersbond in Pretoria en sy besit nog die briewe en dokumente om dit te bewys. In 1918 – die rampspoedige griepjaar – het talle verwagtende moeders veral op die platteland omgekom. In Maart van die jaar het ’n vrou uit Lydenburg ’n brief aan De Volkstem geskryf en gekla dat sy met die geboorte van haar baba deur ’n naturellevrou bygestaan is omdat daar geen opgeleide vroedvrou in die omgewing was nie. Op 2 April het Gustav Preller in ’n hoofartikel Die Noodkreet van ’n Vrou aandag op die brief gevestig en ’n beroep op die vroue van Transvaal gedoen om bymekaar te staan en hierdie “verskriklike toestande” te beëindig. ’n Afskrif van die artikel is aan ’n aantal toonaangewende vroue gestuur en mev. (ds.) E.F. Van Broekhuizen, wat later ’n belangrike rol in dié opsig sou speel, was die saak dadelik goedgesind. Die saak is nog dieselfde maand op ’n kongres van die Vroue-Nasionale Party geopper en daar is besluit om te ywer vir opleidingsfasiliteite vir Afrikaanse vroedvroue. Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie en Helpmekaar het ook saamgewerk om die Moedersbond te stig.

“Ek het sekretaresse geword, maar die statute van die Bond van Afrikaanse Moeders is deur my man en mnr. Hudson Findlay opgestel. Ook al die oproepe en korrespondensie is aanvanklik deur my man geskryf en deur my onderteken,” vertel mev. Preller.

Foto: Die borsbeeld van Gustav Preller wat deur sy vriend Coert Steynberg geskep is, staan tans in die ingangsportaal van die Gustav Preller-skool, Discovery.

Op Discovery, een van die nuwe woonbuurte aan die Wes-Rand tussen Johannesburg en Krugersdorp, staan daar vandag die Gustav Preller-skool, in 1956 gestig, waarin mev. Preller aktief belangstel. Met behulp van die ouers en beheerraad is daar ’n aparte geboutjie opgerig wat as die Preller-museum bekend staan en in Augustus 1960 deur mev. Preller onthul is. Daar pryk reeds ’n mooi versameling geskiedkundige voorwerpe, baie waarvan deur ouers van leerlinge geskenk of geleen is asmede voorwerpe en dokumente wat mev. Preller aan die museum geskenk het. In die skool se voorportaal pryk die borsbeeld wat Coert Steynberg van sy vriend Preller gemaak het.

Die skool se leuse is Dis Ons Erns, ’n passende antwoord op Preller se wekroep van meer as ’n halfeeu gelede. Die ywerige skoolhoof, dr. H.C. Boshoff, wat intens in die opbou van die geskiedkundige versameling belangstel, verklaar dat dit vir hom ’n besielende taak is om sy leerlinge die ideaal van ’n man soos Gustav Preller voor te hou.

 

Bron: Stead, Rinie. 1961. Lantern, Desember: 9-21.