Gustav Preller besluit om te bly

Kerke help ’n ontredderde volk
January 23, 2015
Die Hollands-Afrikaanse pers herleef
January 23, 2015

Ná die oorlog kon Milner ’n tyd lank deur sensuur en krygswetregulasies die stigting van ’n Afrikanerpers teenwerk. Oorsese nuus kon nie vryelik die land binnekom nie en die gevangenskap van redakteurs soos FS Malan in die oorlog was nog vars in die geheue van joernaliste. Laat in 1902 het Milner Eugène Marais toegelaat om sy ou koerant Land en Volk weer in Pretoria te laat verskyn in die hoop dat die blad die Boere sou versoen met sy Transvaalse beleid. As redakteur het Marais iemand aangestel wat binne ’n kort tyd een van die kultuurleiers van die Afrikaners sou word: Gustav Preller, ’n gebore Transvaler wat voor die oorlog werksaam was in die Departement van Mynwese. Met die uitbreek van die oorlog het hy aangesluit as vrywilliger, en ’n dagboek in Nederlands gehou. Op 10 Januarie 1902 is hy en ’n paar ander Boere gevange geneem met die woorde: “Hands up, you Dutch bastards!”

Met sy terugkeer van ’n krygsgevangenekamp in Indië in Augustus 1902 het hy in ’n oomblik van moedeloosheid besluit om, soos heelparty ander Afrikaners, te emigreer na Argentinië. Marais, wat weens sy gesondheid nie sy koerant kon redigeer nie, het op aanbeveling van ’n wedersydse vriend die redakteurskap aan die 27-jarige Preller aangebied. Met welslae het hy op Preller se volksgevoel gewerk en hom oorgehaal om te bly.

Dit is onduidelik waarom Marais in dié tyd ook iets negatiefs gedoen het, naamlik om Milner van waardevolle vertroulike inligting te voorsien oor geheime steun wat doktor WJ Leyds, gewese staatsekretaris van Transvaal, uit Nederland aan Boereleiers verleen het. Daarmee is koerante versterk wat die Boeresaak sou dien en Afrikaanse nasionale aspirasies gepropageer het. Milner het sy mag gebruik om die herverskyning van De Volksstem tot 11 Maart 1903 te verbied. Ook het hy geheime staatsgeld bestee om Land en Volk te subsidieer. Dié blad het op 20 September 1902 weer verskyn. Maar die patriotiese jong Preller sou nie Milner se beleid propageer nie.

Van die eerste nommer van Land en Volk het Preller die Britse owerheid geïrriteer. Na ’n hoofartikel oor verraaiers is hy bowendien deur generaal JC Smuts, toe praktiserende advokaat, uitgenooi en hoor hy by hom die eerste keer van “konsiliasie” en ’n nuwe sienswyse: “Ons moet vergeet en vergewe, nie alleen ons eie mense nie – hulle allereers – maar ook die Engelse. Dit is die enigste uitweg.” Om die joiners te vergewe, was miskien vir die bittereinders die ergste. Ook die joiners het dit nie maklik gehad nie. Baie moes voor die gemeente hul sonde van verraad bely voordat hulle weer tot die Nagmaal toegelaat is.

Maar ook Smuts was, soos generaal Botha, geskok toe Milner se plan in 1903 rugbaar word om Chinese arbeiders vir die myne in te voer. Generaal Botha, wat al meer na vore getree het as Transvaalse leier, het gevoel dat hy ’n koerant as spreekbuis nodig het. ’n Goeie aanbod is aan Land en Volk gedoen, maar Marais het teenoor die owerheid onderneem om die blad nie te verkoop nie. Doktor FV Engelenburg het op aanbeveling van Botha egter toestemming gekry om De Volksstem weer uit te gee, en Preller het daar ’n pos as subredakteur verkry.