Guerillastryd begin

Nederlanders en Vlaminge steun die boere
January 22, 2015
Die kommandolewe
January 22, 2015

Teen September 1900 was die Britte in besit van albei republieke buiten sommige Noord-Transvaalse distrikte. Dit het egter maar net daarop neergekom dat hulle die grond besit het waarop hul kolonnes op ’n bepaalde tydstip gestaan het. Sodra ’n kolonne ’n dorp of streek verlaat het, het die Britse gesag ook verdwyn. Dit het die republikeine die geleentheid gegee om tussen kolonnes wat dikwels ver van mekaar was, deur te glip.

Generaal Christiaan de Wet het die militêre stelsel ingrypend verander. Voorheen het die burgers die offisiere gekies – wat veroorsaak het dat onbekwame mense soms offisier geword het. De Wet sou net manne met die nodige bekwaamheid aanstel. Hy het drie assistent-hoofkommandante aangestel wat die burgers in die Suid- en Wes-Vrystaat moes organiseer: generaal Piet Fourie, regter JBM Hertzog en veldkornet CCJ Badenhorst. Ook generaal Botha het van ’n aantal onbekwame manne ontslae geraak en twee assistent-kommandante-generaal aangestel, De la Rey en CF Beyers.

Van September 1900 af het die oorlog ’n heel ander karakter aangeneem. Ná die verowering van Bloemfontein het De Wet al besef dat die tyd van stellinggevegte verby is en dat die vyand in die rug bygekom moet word om die verbindingslinies af te sny. Iets soos ’n vaste linie het nie meer bestaan nie. Die magte van die twee strydende partye het oral rondgetrek. Dit was die strategie van die republikeinse kommando’s om die vyand soveel skade as moontlik te berokken. Wanneer die Britte in ’n oormag aangekom het, het die kommand’s padgegee en vir die vyand onvindbaar geword. Sodra ’n kolonne enigsins geïsoleerd geraak het, het die kommando’s rondom hom versamel en ’n vernietigende slag toegedien, en verdwyn voordat iemand die vyand kon kom help.

De Wet se dade soos ’n oorwinning by Roodewalstasie op 7 Junie 1900 het die weerstand in Transvaal versterk en weerklank gevind in die wêreldpers. In Augustus het die vyand De Wet agternagesit en teen die Vaalrivier by Potchefstroom vasgedruk. Met wonderbaarlike vernuf is hy oor die rivier, dwarsdeur Wes-Transvaal, oor die Magaliesberg wes van Pretoria tot in die veilige Transvaalse bosveld. Daar het hy tydelik afskeid geneem van president Steyn wat met ’n klein lyfwag na Oos-Transvaal is om by Machadodorp met president Kruger en die Transvaalse regering te beraadslaag. Die Engelse magte was gou weer agter De Wet aan. Daar was net een manier om hulle te ontkom, en dit was om oor die Magaliesberge te trek. De Wet het aan ’n ou swart man gevra: “Kan ’n mens daaroor?” Sy antwoord was dat net bobbejane dit kon doen. De Wet het sy burgers beveel: “Waar ’n bobbejaan kan oorgaan, moet ons ook oorgaan.” Hulle is daarna oor die berge en kon op 21 Augustus weer die Vaalrivier oortrek.

Dit was ’n tipiese De Wet-maneuver. So vinnig en bedrieglik het hy die hele oorlog beweeg dat geen enkele Britse kolonne langer as 24 uur op sy spoor kon bly nie. Hy het die Vrystaat goed geken, en nooit moeg geword nie. ’n Paar minute slaap op die rug van ’n perd was genoeg. Hy het steeds spioene uitgestuur en het elke oomblik geweet waar die Britte was. Miljoene mense buite Suid-Afrika het gelees hoe die een Britse aanvoerder ná die ander dit moes ontgeld teen iemand wat geen militêre opleiding ontvang het nie, maar die meerdere was van almal wat teen hom uitgestuur is.

In Februarie 1901 het hy die Kolonie binnegeval. Dit het verskriklik gereën. Een keer het hy, om die vol Oranje te vermy, hom teen ’n ewe vol sytak, die Brakrivier, vasgeloop. Selde was De Wet in so ’n benarde posisie. Hy het egter vinnig in die rigting van die Oranje uitgewyk en toe stroomop langs hierdie rivier getrek … en weer ontsnap.