Die Tuinpoort, Pleinstraat
Desember 14, 2017
Outydse Kaapse huisklok (Geen toegang)
Desember 14, 2017

Langs die Moederkerk in Drosdystraat staan ’n gebou met die naam van Grosvenor-huis, waarvan die geskiedenis nou met sy omgewing, en trouens met Suid-Afrika, verbonde is.

Allereers is Grosvenor-huis met die oudste en bekendste Stellenbosse en dus Suid-Afrikaanse families verbonde. In 1781 is die grond waarop dit gebou is, aan Christiaan Ludolph Neethling toegeken. Hy het in 1741 uit Duitsland aan die Kaap aangekom en het die stamvader van hierdie talryke Afrikaanse familie geword. Hy is weldra tot onderkoopman en Sekretaris van die Raad van Justisie bevorder. Hy het onmiddellik ná die toekenning van die grond ’n huis daarop laat bou. In 1790 word die eiendom aan ’n landgenoot van hom, Friedrich Gotthold  Holtzappel, oorgedra en in 1799 kom dit in die besit van ’n derde Duitse immigrant, Johann Wilhelm Herold. Herold was jare lank sieketrooster en sy seun Tobias het die bekende predikant van Stellenbosch geword wat veral gedurende die jare 1824 tot 1837 ’n belangrike rol in die selfstandigwording van die N.G. Kerk gespeel het. In 1820 het die eiendom in besit gekom van Adrian Roux, die seun van Paul Roux en die bouer van die pragtige ou plaashuis op Vredenburg, naby Vlottenbergstasie. Twee jaar daarna is hy egter oorlede en deur die huwelik van sy vrou met Frederik Rijk Ludolph Neethling, seun van die eerste eienaar, kom die huis weer in besit van die Neethling-familie. In 1845 gaan hierdie Neethling egter bankrot, maar sy dogter, wat met Eduard Bernhard Hoffman, broer van die eerste Vrystaatse president, getroud was, het die huis uit die boedel gekoop. In 1872 kom sir Christoffel J. Brand, die eerste Speaker van die ou Kaapse Volksraad en vader van president J.H. Brand van die Vrystaat, in besit van die huis. Na sy dood in 1875 het die woonhuis die eiendom geword van William Collins, wat die naam Grosvenor-huis daaraan gegee het.

Ses-en-vyftig jaar bly dit in hierdie familie se besit tot dit deur die N.G. Kerk gekoop is, wat dit in 1848 weer aan die Munisipaliteit Stellenbosch verkoop het. Dit word gerestoureer en huisves tot 1961 die Phillimore-Ives-Gedenkversameling van 17de- en 18de-eeuse Hollandse, Vlaamse, Italiaanse en Britse skilderye, wat in bruikleen aan die munisipaliteit gegee is. Met republiekwording en die uittrede van S.A. uit die Statebond word die versameling na Engeland teruggetrek. Al dadelik het die Stellenbosse gemeenskap egter ’n ander gebruik vir die ou gebou gevind. ’n Aanvang is gemaak om dit as ’n historiese museum in te rig.

Maar Grosvenor-huis se belangrikheid lê nie slegs in sy konneksies met familiegeskiedenisse nie, dit toon hoe ’n eenvoudige struktuur tot ’n voorbeeld van die Kaapse boukunde kan ontwikkel.

Christiaan Neethling het in Drosdystraat ’n huis gebou bestaande uit ’n enkelry kamers van een verdieping met ’n grasdak. Teen die einde van die 18de en die begin van die 19de eeu is ‘n gewel bokant die voordeur aangebring en is ’n vertrek van agter aangevoeg om die gebou ’n T-vorm te gee. Daarna is dit tot ’n volwaardige H-vormige huis uitgebou. Sieketrooster Herold het ’n tweede verdieping met plat dak op die huis gesit waarskynlik eers net aan die voorkant. Daardeur het dit ’n nuwe fasade gekry: vier gegroefde pilasters met ryk versierde kroonlys; ’n bo- en onderdeur van kiaat, omlys met korter, geribde pilasters; kiaathoutskuifvensters met stinkhout-binneblinders, en heel bo in basreliëf die palmboompie uit die wapen van die gemeente. So staan dit vandag nog. Die buitegeboue aan weerskante van die hoofgebou dateer waarskynlik ook uit Herold se tyd. Frederick Neethling, wat die huis bewoon het juis toe die laat Georgiaanse styl in die mode was, is heel waarskynlik verantwoordelik vir die wawiel-bolig.

Hierdie gebou op sigself ’n kultuurskat, is dus ’n waardige tuiste vir voorwerpe uit die verlede van Stellenbosch en sy omgewing.

(Geproklameer 1955)

Nerine Desmond • Grosvenor-huis • C.S. Grobbelaar
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 78.

 

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 78-79.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui