“Groote overwinning”

Nuwe beleid oor onderwystaal
January 23, 2015
Suid-Afrikaanse Akademie gestig
January 23, 2015

Dit was die strydvaardige Afrikanernasionaliste wat in 1908 deur hul volharding ’n besluit afgedwing het wat die ontwikkeling van Afrikaans en later indirek ook die Afrikatale in die 20ste eeu sterk sou beïnvloed. Dit het gebeur op die Nasionale Konvensie wat ’n grondwet vir ’n Unie van Suid-Afrika moes opstel.

Ná die oorlog het Engelssprekende leiers en koerante dit dikwels bepleit dat Engels die enigste amptelike taal moet wees: die nuwe magsverhoudinge noodsaak dit, is betoog; bowendien: daar was twyfel of Afrikaans sal kan voortbestaan – en indien ’n taal gaan uitsterf, behoort dit nie kunsmatig deur wette aan die lewe gehou te word nie. Engels is die taal van beskawing en geleerdheid, die “superior” taal, en dié moet gekies word. Ten slotte is betoog dat ware eenheid amptelike eentaligheid noodsaak. Die Natal Mercury het op  20 Maart 1909 geskryf: “There can be no true union, the nation will never become one, which speaks with two voices.”

Maar leiers soos president Steyn en generaal Hertzog was net bereid om tot unifikasie van die Britse kolonies in te stem indien “Hollands” ’n offisiële taal sou word. So sterk het president Steyn oor die taal gevoel dat hy aanvanklik nie die sitting van die Konvensie wou bywoon nie omdat hy bang was dat dié liggaam die taal sou misken. Hy was eers gewillig om te gaan ná ’n versekering van generaal Botha. By die begin van die sitting is petisies uit verskeie dele van die land voorgelees waarin gevra is dat Hollands en Engels gelyke regte sou geniet. Daar was onder meer petisies van die Afrikaanse vroueverenigings.

Die afgevaardigdes het die taalkwessie op 19 Oktober 1908 bespreek. Hertzog het gesê dat die Afrikaners nooit ’n skikking sou aanvaar wat twyfel laat oor die absolute taalgelykheid, en hulle met ’n gevoel van vernedering sou ervaar nie. President Steyn het gesê dat Hollands op een of ander tyd die ampstaal van al die kolonies was. “Ons taal het sy offisiële karakter alleen deur geweld verloor. Vir geweld moes ons swig. Die Konstitusie wat ons nou gaan opstel, sal ons eie daad wees, en niemand kan verwag dat ons vanself ons taal en ons volk in ’n onderdanige posisie sal gaan plaas nie. As ons dit sou doen, sal die volk nimmer sy goedkeuring daaraan heg nie, en in plaas van vereniging sal ons Suid-Afrika nog meer verdeel.” Die gelykheid van die tale is die simbool van die gelykheid van die volksgroepe, het hy gesê. Verskeie mense was aangedaan terwyl Steyn gepraat het. Volgens FS Malan was die oë van meer as een afgevaardigde betraan. “Ek moes my trane herhaaldelik afvee en het byna beskaamd gevoel oor my weekmoedigheid.”

Op 20 Oktober het die Konvensie ’n besluit geneem wat Hertzog laat neerskryf het: “Groote overwinning” en daarby: “10.27 dezen morgen – 20 Oct. 1908 – besluit algemeen aangenomen verklarende beide de Hollandsche en Engelsche taal als officieele talen der Unie te worden behandeld op gelijke voet en te genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten, ens.” Die Konvensie het dus amptelike meertaligheid erken. Dit maak van 20 Oktober 1908 so ’n groot datum in Suid-Afrika se geskiedenis.