’n Kookpot van strewes

Reeds in 1825 het die luitenant-goewerneur van die Oosgrens, Andries Stockenström, die Britse sendelinge gewaarsku: “Daar is drie keuses vir die grensboer; ons moet óf weghardloop, óf stilsit en ons kele laat afsny, óf ons moet ons verdedig met  wat ons het.” Teen 1830 was die Oosgrens van die Kaapkolonie ’n kookpot van drie botsende strewes. Enersyds het Brittanje met sy imperialistiese ideale voortdurend die Kaapkolonie se oosgrens verder probeer uitbrei. Dit het tot toenemende konflik met die plaaslike bevolking gelei.

Aan die ander kant van die Groot Visrivier het die Xhosa-monargie hulself toenemend begin verset teen die grondhonger van imperiale Brittanje. Hul krimpende grondgebied het nie net ’n verlies aan lewensruimte en voorvaderlike erfgrond beteken nie, maar ook vir die bestaansboere ernstige ekonomiese implikasies gehad.

Vasgedruk tussen die twee botsende monargieë was die Hollandse grensboere, wat later bekend sou staan as die Voortrekkers. Dit was veral hulle wat onder die oosgrenskonflik en onveilige toestande moes ly. Retief beskryf die onveilige omstandighede onder andere as:

•    oproerige en oneerlike gedrag deur rondlopers
•    volgehoue verwoesting en ruïnering
•    misdaad en plundering.

Slagtersnek het ’n simbool geword van die Britse owerheid se onderdrukking. ’n Plaaswerker ’n klagte oor wanbetaling teen sy werkgewer Freek Bezuidenhout ingedien. Daarvoor sou Freek meer as ’n 100 kilometer te perd moes aflê om sy kant te stel en sy plaas alleen laat te midde van die onveilige grenstoestande. Freek het nie by die hof opgedaag nie. ’n Groep soldate is opdrag gegee om hom in hegtenis te neem. ’n Geveg het uitgebreek.  Bezuidenhout is noodlottig gewond. Die saak het hande uitgeruk en ’n rebellie het uitgebreek.  By Slagtersnek is die burgers oorreed om die wapen neer te lê. Van die leiers het gevlug, is later in hegtenis geneem, verhoor, skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die galgtoue was oud en het gebreek met die hangery. Vir die omstanders was dit ’n teken dat hulle nie moes hang nie.  Die owerhede het geweier en die veroordeeldes moes toe wag vir nuwe galgtoue. Die digter Dirk Opperman sê hieroor in sy Joernaal van Jorik: “Hulle sê die die toue was vrot, maar ons sê dis God.”

Kort voor Kersfees 1834 het tussen 12 000 en 15 000 Xhosa-krygers oor die Groot Visrivier-grens gestroom. Met die Sesde Grensoorlog is groot getalle vee weggevoer en ongeveer 7000 Hollandse grensboere oornag in armoede gedompel. Boonop het die Britse regering die skuld vir die oorlog op die Hollandse grensboere gepak.

Foto 2

’n Dryfkrag vir vryheid

Die dryfkrag vir vryheid het geleidelik onder die Hollandse grensboere tot volwassenheid gegroei. Andries Pretorius het verklaar dat die “sug van vrijheid” wat “nu in den harten van den Afrikaanshe boeren woonen” nie net daarin bestaan het om van die Britse monargie vry te wees nie. Die dryfkrag vir vryheid was ook vir die reg om ’n selfstandige gemeenskap met ’n eie identiteit te mag wees. Die vryheidstrewe word onderlê deur enkele faktore wat later die staatsregtelike vorming van die Boererepublieke beïnvloed het.

Eerstens was daar ’n dwingende behoefte aan plek. Die Oosgrens was digbevolk en die behoefte aan plek het jong grensboere genoop om na nuwe ruimtes vir hul gesinne te soek. Sarel Cilliers was maar 34, Gerrit Maritz 38 en Andries Pretorius 39 ten tye van die Groot Trek. Die ontvolking van die Suid-Afrikaanse binneland as gevolg van die vernietigende Mfecane het dit vir die grensboere moontlik gemaak om te verhuis. Die Mfecane was ’n gedwonge migrasie van die inheemse bevolking waar een gemeenskap die ander aanval, onderwerp of laat vlug het. ’n Kettingreaksie van geweld, stropery, konflik, moord en uitroeiing het die inheemse stamstrukture vernietig. Die Suid-Afrikaanse binneland was na die omwenteling verwoes en ontvolk.

Tweedens het sterk gemeenskapsbande ontwikkel. Vanweë die groot afstande en die afgesonderde plase, het die Oosgrensboere vinnig gemeenskaplike verantwoordelikheid vir mekaar se welstand aanvaar. Die hegte gemeenskapsgebondenheid het die grondslag gelê vir die latere verhouding tussen gemeenskap en staat.

Derdens het die voortdurende konflik met die Xhosas by die Hollandse grensboere ’n deeglike besef gevestig van die noodsaaklikheid om goeie betrekkinge met die swart stamme te vestig. Retief het in sy manifes dit duidelik gestel dat die Voortrekkers in vrede trek en vrede sal nastreef, maar wanneer hulle bedreig word sal hulle hulself beskerm. Hierdie benadering het die grondslag gelê vir die verhouding met die inheemse bevolking.

Retief onderneem in sy manifes om die volgende te doen:

•    Behoorlike arbeidsverhoudinge te handhaaf.
•    Geen volk te pla nie.
•    Niemand van die geringste eiendom te ontneem nie.
•    In vrede en vriendskap met die swart volke saam te leef. Dit was nie die Voortrekkers wat die gebiede van  inheemse volke geannekseer het nie. Hulle het hulle gevestig in die gebiede wat deur die Mfecane leeggelaat is. Dit was Brittanje wat Griekeland-Wes, Botswana, Lesotho, die Ciskei en die Transkei, en Zoeloeland geannekseer het.

Foto 3

Post Retief, die laaste fort wat Retief gebou het voordat hy die Kaapkolonie verlaat het. Uit erkenning vir sy bydrae het die Britse soldate die fort na Retief vernoem.

Vierdens het die Oosgrens se haglike omstandighede die grensboere voorberei vir die verdediging van hul eiendom. As gevolg van die onbeholpe Britse bewind, moes grensboere staatmaak op eie vernuf en planne om wet en orde aan die grens te probeer handhaaf. Retief was onder die grensboere bekend as ’n visioenêre leier, entrepreneur en ’n militêre strateeg. Hy was vol energie en daadkrag wat die belange van sy mense op die hart gedra het en hul bekommernisse en frustrasie kon verwoord. As spreekbuis van die Oosgrensboere het hy hulle besware verwoord, briewe geskryf en met die Britse owerhede onderhandel. Retief het Britse forte help bou om die veiligheid aan die Oosgrens te help verseker.

Die praktyk van ’n beweeglike burgerlike kommandostelsel onder leiding van veldkornette en kommandante wat presies geweet het hoe om te verken, aan te val en te verdedig, het die hoeksteen gevorm van die militêre taktiek tydens die Groot Trek en die latere Republieke.

Foto 4

Retief het die Kaapkolonie met 100 waens verlaat. Die waspore van sy trek oor die Winterberge is nog duidelik sigbaar.

Teen 1835 het die Hollandse grensboere in groot getalle die Kaapkolonie begin verlaat. Die hoofkarakter, Rudolf Dreyer, in FA Venter se roman Geknelde land, verklaar: “Hier sal ons altyd slawe bly. Ons lewens sal hier nooit seker wees nie.” Hulle het geen hoop meer op ’n beter toekoms in die Kaapkolonie gehad nie. Die vryheidsideaal van die Voortrekkers word deur AD Keet se “Voortrekkerslied” beskryf:

Laat ons trek na die Noorde, hoër op,
ver van die dwingelandy,
Waar ons hart kan klop, op ’n stywe galop,
Vrolik en vurig en vry.

Want die las wat ons dra, is so swaar as ’n wa
Wat kreun onder grote vrag.
En die drywer die swaai sy sweep met lawaai,
Sonder oor vir die osse se klag.

Laat ons trek oor die Grote Rivier daar bo
Met kudde en huisgesin,
Van die Kamdebo, oor die dor Karoo,
Die wilde wildernis in.

Dit is beter ver, om ’n blinkende ster
Uit die tent van ’n wa te sien,
dan om hoog te woon, op ’n koningstroon –
Met die hoop om môre te dien.

Die republiek-op-trek

Die Voortrekkers se eerste doel was om die Garieprivier, wat destyds ook die Oranjerivier genoem is, oor te steek. Hier het die grens van die Kaapkolonie geëindig. Transoranje of oorkant-die-oranje dra volgens Carl Theunissen drie simboliese betekenisse, naamlik:

•    Trans-beweeg: om oor die Oranje ’n nuwe toekoms te begin by ’n plek wat die verwesenliking van eie potensiaal moontlik maak.
•    Trans-denke: om weg te beweeg van ’n toestand waar voorskriftelikheid en outokratiese optrede denke en vermoëns beperk.
•    Trans-doen: om moeilike situasies deur hoëfunksieprestasies te herskep tot veilige en voorspoedige omstandighede waarbinne eie ideale nagestreef kan word.

Die Voortrekkers se eerste groot versamelpunt was Blesberg, naby Thaba Nchu. Volgens Van Schoor kom die eer die Vrystaat toe vir die stigting van die eerste Boererepubliek in Afrika. Op 2 Desember 1836 het die trekgeselskappe van Maritz en Potgieter by Morokashoek die eerste demokratiese regering in Suider-Afrika gevestig. Volgens Van Schoor was die Groot Trek van die punt af ’n republiek-op-trek, aangesien daar nog onduidelikheid oor die gemeenskaplike eindbestemming was.

Die trekkers was nou nie meer as Oosgrensboere bekend nie. Soos wat hulle teen 5 kilometer ’n dag na vryheid getrek het, sou Afrika en nie meer Europa nie, hul kulturele identiteit vorm. Om dié rede het die Voortrekkers hulself na die kontinent vernoem as Afrikaners en hulle taal Afrikaans. Die naam Afrikaner was reeds deel van hul woordeskat. Louis Tregardt skryf in sy dagboek Africaander en Afrikaanders. Die Voortrekkers se reisjoernale en dagboeke het Afrikaans die binneland ingedra en die grondslag gelê vir die ontwikkeling van Afrikaanse skryfkuns.

Die naam van die eerste, onafhanklike Trekkerrepubliek was De Vrije Provincie van Nieuw Holland in Zuid-Oost Afrika. As uitdrukking van hul eie identiteit en vryheid, het die Voortrekkers twee vlae gehad, naamlik die Potgieter- en die Natalia-vlag. Hierdie vlae was egter ook ’n simbool van hul tweedrag oor die uiteindelike bestemming van die Groot Trek.

Die onsekerheid oor die eindbestemming het nie die Voortrekkers verhoed om die republiek staatsregtelik te orden nie. Op 6 Junie 1837 is Pieter Retief as die eerste goewerneur en Gert Maritz as regter-president naby Winburg ingehuldig. Retief se funksies en verantwoordelikhede as goewerneur het ooreengestem met dié van die presidente van die Boererepublieke. Dit is opvallend dat die Voortrekkers nie die uitvoerende gesag aan een enkele persoon opgedra het nie, maar die uitvoerende en wetgewende funksies geskei het. Dit was ’n reaksie teen die outokratiese optrede van die VOC en Britse goewerneurs in wie se hande al die gesag gerus het.

Die belangrikheid van die gebeure by Thaba Nchu lê ook in die feit dat dit die eerste demokratiese verkiesing van leiers in Suider-Afrika was. Tot op hierdie punt het Europese moondhede eksterne leiers benoem. Hiermee is die Christelik-demokratiese tradisie in Suider-Afrika gevestig waar verkose leiers regeer en deur die burgers verantwoordbaar gehou word vir hul besluite. Die vestiging van demokrasie in Suider-Afrika is een van die Voortrekkers se belangrikste hoëfunksieprestasies en nalatenskappe.

As gelowige mense was die kerk vir die Voortrekkers ’n ankerplek. Dit was vir hulle ’n groot skok toe die Kaapse Sinode die Groot Trek veroordeel het. By Morokashoek was een van die eerste stappe van die Voortrekkers om ook ’n kerk te vestig en ’n eerste kerkraad te kies. Hulle het onmiddellik begin om fondse in te samel om ’n leraar te beroep. Toe die leraars van die Kaapkolonie steeds ’n koue skouer bly gee, het Retief vir Erasmus Smit as die eerste predikant van die Voortrekkers bevestig. Die Kaapse kerk het hulle gelos, maar hulle het nie die kerk gelos nie.

Die verdere verloop van die Groot Trek

5 November 1837: Piet Retief bereik die eerste keer koning Dingane se stat, Umgungundlovu, om grond vir die Trekkers te vra.

Foto 5 12 November 1837: Op hierdie dag, Piet Retief se 57ste verjaarsdag, het Debora Retief haar pa se naam met groen waverf op een van die oorhangende rotse by Kerkenberg geskryf. Boodskappers het die vorige dag (11 November) laat weet dat Retief se onderhandelinge met Dingane suksesvol was en hy grond aan hulle sal gee. Die plek waar die Voortrekkers die Drakensberge af is, staan bekend as Blye Vooruitsig of Retiefspas. Toe die Trekkers die eerste keer die nuwe land sien met die pragtige uitsig op die Drakensberg se Amfiteater, het hulle spontaan “Prys die Heer met blye galme” gesing.

14 November 1837: Die eerste Voortrekkers trek die Drakensberge af. Die eerste dag het 23 waens die onderpunt van die berg bereik. Binne twee weke was daar meer as ’n 1000 waens onder die berg.

Foto 64 Februarie 1838: Piet Retief en Dingane teken die traktaat waarin die Zoeloe-koning Port Natal met die omliggende land, van die Tugela tot die Umzimvuburivier, en van die see noordwaarts wettig aan die Voortrekkers gee.

6 Februarie 1838: Piet Retief, sy 12-jarige seun en hul hele geselskap word deur Dingane vermoor. Hierdie grumoord het die Voortrekker-leierskap ernstig uitgedun met die moord op 70 gesins- en familiehoofde.

16 en 17 Februarie 1838: Die Groot Moord vind langs die Bloukransrivier en Moordspruit plaas. Ongeveer 41 mans, 56 vroue, 185 kinders en 250 diensbodes word onverwags oorval en wreed vermoor. Dit is tot dusver die enigste keer in Suid-Afrika se geskiedenis waar 185 kinders in een nag vermoor is.
Foto 7
11 April 1838: Die Voortrekkerleier, Piet Uys en sy seun Dirkie, sneuwel by Italeni. Die Voortrekkerkommando vlug en Hendrik Potgieter verlaat Natal.

13–15 Augustus 1838: Aanval op Gatslaer wat later Veglaer genoem is. Sowat 2000 Zulu’s het tydens die slag gesneuwel. In die dankdiens wat die Voortrekkers na die tyd gehou het, is Psalm 28:6–7 as teks geneem.
Foto 8
23 September 1838: Die Voortrekkerleier Gerrit Maritz sterf op die ouderdom van 41 jaar. Sy laaste woorde was “Hoe moeilik dit ook lyk julle sal die opbloei van ons volk seker aanskou in die veelbelowende land.” Met die afsterwe van Maritz, was die Voortrekkers sonder leiers.

22 November 1838: Andries Pretorius arriveer by die laers aan die Klein-Tugela en word verkies as kommandant-generaal. Kort hierna vertrek hy met 464 mans en 64 waens op ’n strafekspedisie teen Dingane.

9 Desember 1838: Die Gelofte word die eerste keer onder leiding van Sarel Cilliers afgelê.

16 Desember 1838: Die Slag van Bloedrivier vind plaas. Meer as 3000 Zulu-krygers sterf en net drie Trekkers is gewond.
Foto 9
21 Desember 1838: Andries Pretorius vind die oorskot van Piet Retief en sy kommando, asook die ongeskonde traktaat in Retief se bladsak waarin Dingane die grond wettig aan die Voortrekkers gegee het.

1839: Die Trekkers vestig die hoofstad, Pietermaritzburg, wat na die twee trekleiers Pieter Retief en Gert Maritz vernoem is.

1841: Getrou aan die Gelofte het hulle fondse ingesamel vir die bou van die Geloftekerk. Die kerkie word in 1841 ingewy.

1845: Die meeste Trekkers verlaat Port Natal na die Britse besetting en gaan vestig hulle in die destydse Transvaal en Vrystaat.

Prestasies van die Groot Trek

Afrika se wind en weer kon deur die eeue letterlik en figuurlik nie die Trekkerspore wegwaai nie. Die ou waspore het saam met erosie verdiep en verewig, maar die geslag se daad en prestasies het ’n blywende spoor op die kontinent gelaat. Tydens die Eeufeesvieringe van die Groot Trek in 1938 het Jan Smuts opgemerk dat die Voortrekkers se “daad” groter was as “die plan”. Hulle was slegs van plan om iewers ’n plek te hê waar hulle veilig, vry en voorspoedig kon leef, maar met hul dade het hulle die plan uitpresteer.

Die prestasie van die Groot Trek word die beste weerspieël in die lewe van die trekkerseun, Paul Kruger. Toe Paul Kruger as ’n 11-jarige seun saam met sy pa oor die Oranjerivier getrek het, was daar niks in die binneland van Suid-Afrika nie. Geen dorp, pad, spoorweg, stad, republiek of winkel nie. Toe Paul Kruger in 1904 op die ouderdom van 79 sterf, het die Trekkers en hul nageslag in minder as 50 jaar die volgende gevestig:

1.    Die grense van moderne Suid-Afrika is getrek.
2.    Die konsep van vryheid van tirannie van inheemse volke se konings en vryheid van Britse oorheersing, is vir die hele Afrika gevestig.
3.    Die Voortrekkers wat self gebuk gegaan het onder onreg en despotisme ,het nie net die grondbeginsels vir Christelike demokrasie by Thaba Nchu vasgelê nie. Hulle het twee Republieke as regstate gevestig met grondwette, landswette, onderwyswette en mynwette waarvan baie regsbeginsels tot vandag toe geldig is. So het die Groot Trek as ’n rebellie vir vryheid tot die vestiging van demokrasie in Suider-Afrika gelei.
4.    Die verwoestende binnelandse oorloë tussen Zoeloes, Swazi’s, Sotho’s, Ndebele, Tswana en Griekwas is beëindig.
5.    Voortrekkers wat gewoond was aan staanplekke en laers, het in 50 jaar dorpe en stede gevestig waar almal, wit en swart, ’n verdienste kon bekom. Dorpe soos Kroonstad, Betlehem, Lydenburg, Rustenburg, Potchefstroom en stede soos Johannesburg, Pretoria en Bloemfontein is gevestig. Die infrastruktuur wat in die kort tydperk van vyf dekades geskep is, was meer as wat die Kaapkolonie in 20 dekades geskep het.
6.    Beter landboumetodes het werk geskep wat beter lewensmoontlikhede vir die inheemse bevolking daargestel het.
7.    Die Voortrekkers het ook die grondslag vir natuurbewaring geskep waarvan die Krugerwildtuin groter is as die staat Israel.
8.    Die Trekkers het met die Trap-der-jeugd in die wakis getrek en binne een geslag uitnemende skole en tersiêre kolleges gevestig. Opvoeding en onderwys is die binneland ingedra.
9.    Die ontdekking van goud in die Zuid-Afrikaansche Republiek en die ontstaan van handelstede soos Johannesburg en Pretoria, het ’n nuwe dimensie aan ekonomiese ontwikkeling en vooruitgang in Suid-Afrika geskep.
10.    Die moontlikheid van uiteindelike verengelsing van die hele bevolking soos dit in die Kaapkolonie besig was om te gebeur, is geneutraliseer. ’n Afrikaanse taal- en identiteitsbewustheid is geskep. Die identiteitsbewustheid het ’n nuwe energie en ondernemingsgees vrygestel. Hierdie ontwikkeling sou die geleidelike wegkalwing en verdwyning van Britse imperialisme en kolonialisme tot gevolg hê.
11.    Die Voortrekkers het sonder die ondersteuning van die Kaapse Kerk getrek, met slegs die Bybel in die wakis, maar die Christelike geloof is wyd versprei. Kerke is gebou en teologiese fakulteite is gevestig. Sendingstasies het op plekke tot stand gekom waar dit vroeër nie moontlik was nie.
12.    Daar was geen pad nie, maar in 50 jaar het hulle waspore ontwikkel tot ’n spoorlyn van Kaapstad tot Pretoria en van Pretoria tot Mosambiek.
13.    Hulle het sonder ondersteuning en goedkeuring van Brittanje getrek en binne 14 jaar internasionale erkenning van verskeie Europese moondhede gekry.
14.    Die Voortrekkers was na die Oosgrensoorloë en ontberings verarm, maar het onder leiding van Gert Maritz maatskaplike sorg ontwikkel vir weduwees en wese. Dit het die grondslag gelê vir die latere oplossing van Afrikanerarmoede.
15.    Die gemeenskap van immigrante wat deur die Britse regering as bywoners hanteer is, het hul staanplek en spore in Suid-Afrika bevestig deur die skep van eie simbole deur middel van vlae, liedere en monumente.
16.    Verarmde Oosgrensboere wat met min roerende bates getrek het, het in vyf dekades vaste bates van miljarde pond ontwikkel.
17.    Onderlinge trektwiste het tot gerapporteerde debatte in die Volksraad ontwikkel.
18.    Huisgodsdiens onder tentdoeke het tot sierlike kerke ontwikkel.
19.    Trekbeeste het tot internasionaal erkende stoeterye ontwikkel.

Die Voortrekkers se grootse nalatenskap was dat hulle in een leeftyd sonder politieke, ekonomiese of kerklike bystand uit die verskroeide aarde van die verwoestende Mfecane twee republieke uit niks uit opgebou het. Deur harde werk, vindingrykheid, duursame planne, toewyding en opoffering het hulle hoëfunksieprestasies gelewer wat vandag nog vrugte dra en steeds nuwe betekenis skep. Hul dade en prestasies was die inspirasie vir hul kleinkinders en agterkleinkinders om na die Anglo-Boereoorlog se wrede nalatenskap en die leegheid van ’n verskroeide aarde op te staan en nuut te begin. Die Voortrekkers se dryfkrag vir vryheid het geslagte Afrikaners geïnspireer om met denke en dade na nuwe horisonne te beur. NP van Wyk Louw verwoord dit treffend:

… ek is die jeug, nog in my dood
sal ek deur hierdie nasie trek
’n voortrek wat geen einde kry;
in elke eeu

as rus en rykdom te dierbaar vir hul word,
sal hul die sweep hoor klap,
en in die land van son en wind
sal ewiglik die waspoor lê.