Foto 23

Monumentkoppie, Pretoria

Op ’n helder dag is hy oor ’n afstand van 40 km sigbaar. Fier, sterk en trots troon die Voortrekkermonument bo sy omgewing uit. Asof dit ’n beplande simboliek is, lê die uitgebreide voorstede van die Hoofstad, die wapenarsenaal van die Suid-Afrikaanse Weermag en die Swartkopse militêre lughawe aan sy voet. Die fierheid waarmee hy onverskrokke, onwankelbaar in die Suid-Afrikaanse aarde geanker, uittoring oor die materiële, die militêre en die politieke bedrywighede van die hoofstad, spreek van ’n stille sterk gees wat besiel. Simbool van die Voortrekkers wie se dade en betekenis in die geskiedenis ver bo hulle klein en swak menswees uitgestyg het, bly die Voortrekkermonument steeds ’n verpersoonliking van en ’n inspirasie vir die Voortrekkernasate se lewe en strewe.

Eenvoud, krag en geweldigheid is in hierdie grootse monument in klip, beton en staal vasgelê. Hoe gee ’n mens simbolies uitvoering aan die werk en nalatenskap van eenvoudige mense wie se dade nie uit groot en hoë intellektuele vlugte gebore is nie, maar uit toewyding, deursettingsvermoë, Godsvertroue en ’n geloof in hulle saak? Dit was die opdrag waaraan doktor Gerard Moerdijk, as argitek van die Voortrekkermonument, uitvoering moes gee. Daaraan het hy en die kunstenaars wat saam met hom gewerk het, uitdrukking gegee met behulp van eenvoudige en sprekende simboliek.

Twee basiese idees het die grondslag gevorm waaromheen die ryke simboliek van die monument wentel. Die middelpunt van die hele struktuur is die senotaaf met die treffende woorde, Ons vir jou Suid-Afrika. Die senotaaf is geïnspireer deur die altaargedagte en is uit eg Suid-Afrikaanse graniet gebou en in die middel van die simmetriese saal met sy mure van kosbare marmer geplaas. ’n Ruitelose, gewyde koel stilte heers in hierdie saal. Deur die koepel val ’n sonstraal elke 16 Desember om 12:00 op die Toewydingsgelofte. Op die ander dae van die jaar val die sonstraal beurtelings op een van die friese in die Heldesaal. Die sonstraal simboliseer ook die seën wat op die Voortrekkers gerus het.

Die tweede konsep wat die simboliek van die monument saambind, is die strewe van die argitek om grootsheid en geweldigheid in die struktuur rondom hierdie eenvoudige middelpunt te skep. Daarvoor het hy sy inspirasie in die natuur gevind en wel in die rotsformasies van Monument Valley, Arizona in die VSA. ’n Foto van ’n rotsformasie in hierdie vallei wat Gerhard Moerdijk in ’n tydskrif van 1932 gesien het, is aangeheg by sy eerste sketse van die Voortrekkermonument en dui op sy bron van inspirasie. ’n Ander bron van inspirasie sis die Egiptiese bouwerk. In die struktuur van die Voortrekkermonument is iets van die geweldigheid van die Egiptenare se werk vasgevang, om daardeur die grootsheid van die Voortrekkers se prestasie te versinnebeeld.

Bokant die gewyde saal is die Heldesaal wat deur ’n groot sirkelvormige opening wat soos ’n magneet trek, afkyk in die gewyde saal en die aandag juis op die senotaaf vasvang. In hierdie saal is die sewe en twintig friese wat tonele uit die Groot Trek uitbeeld en kunswerke uit eie reg is. Die vloer is in kringe, soos watergolwe, uitgelê. Dit simboliseer die wyer uitkringende betekenis van die dade en opofferings van die Voortrekkers. Die groot en magtige koepel wat die hele monument omspan, simboliseer die mag en omvang van die Groot Trek en skep die illusie van die oorweldigende, onvoltooide maar tog sinryk afgeronde betekenis van die Groot Trek.

Die stygende patroon van groot tot klein granietblokke waarmee die monument gebou is, skep die fierheid en grootsheid van die struktuur. Hoewel nie een van die grootste monumente in die wêreld nie, skep die ligging en struktuur juis die beeld van ’n groot en grootse konstruksie. Bokant die groot vensters is ’n sig-sag-lys in graniet aangebring wat die vrugbaarheidsimbool uit die ou spykerskrif is. Voor die hoofingang is die treffende beeld van die Voortrekkermoeder en haar kinders wat op ’n prominente plek hulde bring aan die deurslaggewende rol van die Voortrekkervrou. Haar kop is fier omhoog en met vertroue kyk sy die toekoms in.

Twee dieremotiewe verskyn aan die buitekant van die monument. Aan weerskante  van die vrouefiguur is swartwildebeeste wat verwys na Dingane se beskrywing van sy regimente as wildebeeste. Bokant die hoofingang is ’n buffelkop, die simbool van die Afrikaner wat altyd op sy hoede moet wees. Dit buffel is bekend as ons gevaarlikste dier wanneer dit by selfverdediging kom.

Die monument is omring met ’n muur van sintetiese graniet, waarin die Voortrekkerlaer uitgebeeld word. Dieselfde getal waens as wat in die laer by Bloedrivier was, vier en sestig, is hier gebruik. Die monument, simbool van die Afrikaner se strewe, is veilig beskut binne die laer.

Die Voortrekkermonument is opgerig deur die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK), wat op 4 April 1931 in die lewe geroep is op ’n kongres in Bloemfontein, wat die FAK gereël het. Die komitee, onder voorsitterskap van advokaat EG Jansen, het hom ten doel gestel om ’n waardige monument vir die Voortrekkers op te rig wat tydens die Eeufeesherdenking van die Groot Trek onthul kon word. In 1935 is ’n samewerkingsooreenkoms met die Regering bereik. Die ontwerp van Gerhard Moerdijk, wat uiteindelik goedgekeur is, was veel grootser as wat oorspronklik beoog is. Daarom is besluit om die monument nie in 1938 in te wy nie, maar net die hoeksteenlegging waar te neem. Deur milde staatsbydraes kon die veel duurder monument uiteindelik gebou word.

Heelwat plekke het daarop aanspraak gemaak dat die monument in hulle omgewing opgerig moet word. Die SVK het al die aansprake intensief bestudeer en deeglik oorweeg voordat tot Pretoria besluit is. Die politieke storms van 1938 het uiteindelik meegebring dat die eerste minister, generaal JBM Hertzog, nie die hoeksteenlegging waargeneem het nie, maar dat dit deur drie agterkleindogters van Voortrekkerleiers gedoen is. Met die amptelike inwyding op 16 Desember 1949 het die eerste minister, doktor DF Malan, wel die geleentheidsrede gelewer. By albei geleenthede is reuse feeste landwyd georganiseer, wat ’n hoogtepunt by die monument bereik het. In 1938 was dit die Simboliese Ossewatrek en in 1949 die Rapportryers wat as boodskapdraers uit die hele land na die monument gereis het. Die amfiteater het dan ook die plek geword waar jaarliks groot Geloftefeeste en ander besondere geleenthede aangebied word.

’n Groot aantal mense het meegewerk aan die oprigting van die monument. Die hoofbouaannemer was WF du Plessis. Die moederbeeld is deur Anton van Wouw geskep. Die hoekfigure, Piet Retief, Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en die Onbekende Voortrekker, is deur FJ Kruger gemodelleer en deur die here Yzel en Zederberg in posisie uitgebeitel. Die beeldhouer, Hennie Potgieter, het die buffelkop gemodelleer, terwyl die wildebeeste deur E Ullman gemodelleer en deur Sinclair en Kie, van Pretoria uitgekap is. Die totale koste van die monument beloop £359 600 (R719 200) waarvan die staat £338 000 (R679 000) bygedra het.

’n Museum met kosbare oudhede is mettertyd by die monument ingerig en bevat ’n groot deel van die oudhede wat deur die ATKV tydens die Ossewatrek ingesamel is.

Bron: Kapp, P.H. 1989. Die Voortrekkermonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 170–172.