Versoeningsbeeldegroep_klein

Op die kerkplein van die Moedergemeente van die Nederduitse Hervormde Kerk, Rustenburg

AH Potgieter het geweier om saam met AWJ Pretorius deel te neem aan die Slag by Boomplaats in 1848, aangesien hy so min as moontlik kontak met die Britse gesag in die Oranjerivier-Soewereiniteit wou hê. Dit het ’n verwydering tussen die twee Voortrekkerleiers tot gevolg gehad. Die twee leiers het temperamenteel nogal heelwat van mekaar verskil, wat veroorsaak het dat hulle mekaar nie werklik gevind het nie. Potgieter was baie versigtig en vasbeslote om nie iets met die Britte te doen te hê nie. Pretorius weer was met ’n sekere diplomatieke talent begaaf en het daarin geglo om sy politieke oogmerke ook deur onderhandelinge te bereik. Hulle was dit egter eens dat vir die behoud van hulle onafhanklikheid in Transvaal daar geen moeilikhede met die Britse gesag in die Kaap of die Oranjerivier-Soewereiniteit moet ontstaan nie. Oor die toepassing hiervan het hulle egter verskil.

Groepe Trekgeselskappe het verspreid en geïsoleerd oor ’n groot gebied ten noorde van die Vaalrivier voorgekom. Dit het die behoefte by Potgieter en Pretorius teen begin 1849 laat ontstaan om die groepe te verenig en om saam te werk. Vergaderings is te Hekpoort en Dedepoort gehou, waar die Trekgroepe besluit het om onder een Volksraad te verenig. Gedurende hierdie tyd het Potgieter hom in Schoemansdal, by die Soutpansberge, gevestig. Pretorius, wat in die geweste van Rustenburg by die Magaliesberge gewoon het, het toenemend die leiding geneem om langs ’n vreedsame weg die onafhanklikheid van Transvaal deur die Britse regering erken te kry.

Op 16 en 17 Januarie 1852 het Pretorius met majoor WS Hogge en CM Owen, verteenwoordigers van die Britse regering, by Sandrivier onderhandel, wat uitgeloop het op die ondertekening van die Sandrivier-konvensie, waardeur Brittanje die onafhanklikheid van Transvaal erken het. Die Groot Trek se doel was uiteindelik verwesenlik.

Aangesien die Trekkers in Transvaal egter nie goed geweet het wat die Sandrivier-traktaat presies behels het nie, is dié ondertekening deur Potgieter en sy mense met gemengde gevoelens ontvang. Ten einde helderheid oor die saak te verkry, is ’n vergadering van die Volksraad op 16 Maart 1852 op Rustenburg, waar Pretorius en Potgieter aanwesig sou wees, belê. Potgieter en sy aanhangers, asook die Lydenburgers, het in ’n ontevrede stemming opgedaag. Die verhoudinge was gespanne. Nadat die ware toedrag van sake bekend geword het, is die nuutgevonde onafhanklikheid en eenheid van die Trekkers verseël met ’n handdruk van Pretorius en Potgieter, oor ’n geopende Bybel in die konferensietent.

Die beeldhouer Hennie Potgieter het hierdie gebeurtenis in ’n beeldegroep vasgelê. Hy beeld Potgieter uit as die bebaarde, stoere ietwat stugge Trekleier met die kort “Dopperbaadjie”. Pretorius word as ’n deftige man met die langer “Gatjieponderbaadjie” uitgebeeld. Albei Potgieter se hande rus op die handdruk van Pretorius oor ’n geopende Bybel, terwyl Pretorius sy ander hand op die skouer van Potgieter laat rus. Volgens die beeldhouer het dr. Carel Potgieter, kleinseun van Hendrik Potgieter, as model vir die beeld opgetree. Hy was ook die model vir die Potgieterbeelde in die friese by die Voortrekkermonument, Pretoria. Die bekende skildery waar Pretorius met sy arm in ’n hangverband uitgebeeld word, het as model vir sý beeltenis gedien.

Die twee bronsfigure is 2,7 m hoog. Hulle staan op ’n gepoleerde granietvoetstuk wat ook deur die beeldhouer ontwerp is.

Die bewoording van die voetstuk vertel die hele verhaal, en treffend is veral die volgende gedeelte van die inskripsie: Die son was op 16 Maart nog skaars sigbaar toe die ouderlinge na die tente van die twee leiers gegaan het. Saam het hulle in die tent van Potgieter vergader terwyl die volk buite in spanning wag. Wat sou die uitslag wees? Vyandskap of broederskap, broedermoord of broedermin? Uiteindelik word die tentseil oopgeslaan en wat was dit ’n indrukwekkende tafereel om te aanskou. Die twee Vaders van die volk staan met hande stewig in mekaar voor ’n oopgeslane Bybel en ’n juigkreet tot eer van God styg ten hemel.

Op inisiatief van die Moedergemeente van die Ned. Herv. Kerk op Rustenburg is ’n komitee, bestaande uit lede van die Afrikaanse Kerke, die skole, die stadsraad, die kultuurraad en ander kultuurliggame saamgestel. Die fondament vir die beeld is deur mnr. Bun Malan, Lid van die Provinsiale Raad van Rustenburg, gereed gemaak. Die firma AVBOB het die gepoleerde graniet van die voetstuk geskenk en aangebring. Die koste van die beeldegroep het R28 000 beloop. Die beeldegroep staan op die kerkplein van die Moedergemeente van die Ned. Herv. Kerk – die plek waar die versoening tussen Potgieter en Pretorius plaasgevind het. Die kerkgebou is in 1850 deur Pretorius laat oprig.

Die beeldegroep is deur mnr WA Cruywagen, Administrateur van Transvaal, op 19 Mei 1981 onthul en was die hoogtepunt van die Republiekfeesvieringe op Rustenburg. Professor JP (Bart) Oberholzer, Voorsitter van die Algemene Vergadering van die Herv. Kerk, en sy vrou het as gasheer en gasvrou opgetree.

Bron: Van Heerden, M. 1989. Versoeningsbeeldegroep. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 164–165.