Op die terrein van die Nederduitse Gereformeerde Moedergemeente in Kroonstad (foto geneem deur Willie Engelbrecht)

Op die terrein van die Nederduitse Gereformeerde Moedergemeente in Kroonstad (foto geneem deur Willie Engelbrecht)

Sarel Cilliers het op die ouderdom van 34 jaar saam met sy vrou en ses kinders by Hendrik Potgieter se trek aangesluit. Cilliers was saam met Potgieter by die slag van Vegkop betrokke, maar het later by Retief aangesluit met die doel om hom in Natal te vestig. Cilliers het bekend geword as die geestelike leier van die Voortrekkers. Onder sy leiding is die Gelofte die eerste keer op 9 Desember 1838 aan die Wasbankrivier afgelê.

In Kroonstad se hoofstraat, voor die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die kerkgrond waar Sarel Arnoldus Cilliers as een van die ouderlinge van die Kroonstadse gemeente dikwels beweeg het, is op 16 Desember 1950, 112 jaar na die Slag van Bloedrivier, die Sarel Cilliers-monument onthul. Die minister van finansies, meneer NC Havenga, wat in daardie stadium waarnemende eerste minister in die afwesigheid van doktor DF Malan was, het dit ’n skare van sowat 7000 mense onthul. Ander sprekers by die geleentheid was die minister van justisie, advokaat CR Swart, en die moderators van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Transvaal en die Vrystaat. Sarel Arnoldus Cilliers, van Lindley, oudste genant en enigste toe nog lewende kleinseun van die Voortrekker, het die wit seildoek wat die monument  bedek het, afgetrek.

Die Heldedagkomitee van Kroonstad het van 1945 af hom vir ’n standbeeld van Sarel Cilliers beywer. In hulle opdrag aan die beeldhouer, Coert Steynberg, het hulle gevra dat die beeld van Cilliers die Afrikaner se geloofsvertroue moet verpersoonlik. Steynberg het die twee-maal-lewensgrootte-bronsbeeld – dikwels “Geloof in Brons” genoem – gemaak. Dit stel Sarel Cilliers voor op ’n kanon met die Bybel in die linkerhand en die regterhand omhoog gerig.

Dittberners, van Kroonstad, het die voetstuk uit gekapte graniet 2,3 m hoog vervaardig en die beeld daarop gemonteer. Die totale oprigtingskoste het £8525 (R17 070) bedra. Op die voetstuk is die woorde van die Gelofte in die oorspronklike Nederlands op ’n granietplaat gegraveer. Dit is deur AVBOB geskenk. Op ’n metaalplaat is ’n inskripsie met die volgende woorde:

Sarel Cilliers-standbeeld
Gelofte van 16 Desember 1838
Onthul op 16 Desember 1950

Verskeie Nederduitse Gereformeerde gemeentes, Geloftefeeskommissies en kultuurliggame dwarsdeur Suid-Afrika het oor ’n vyfjaartydperk fondse vir die monument ingesamel.

Die beeld stel Sarel Cilliers voor wat op ’n kanon die Gelofte aflê. Dit versinnebeeld nie alleen Sarel se vertroue in God nie, maar is inderdaad ’n gebed sonder einde vir almal wat daarna kyk: die regterhand strek uit na God en die linkerhand omklem die Woord- die enigste rigsnoer in die lewe.

Periodiek hou die plaaslike Weermagseenheid en die Voortrekkers parades by die monument, terwyl die gemeenskap se Geloftedagvierings ook soms daar plaasvind.

Op 7 September 1801 is Sarel Cilliers in Dal Josafat, Paarl, gebore. Vyf jaar later verhuis sy ouers na die plaas in Blaauwkrans, in die distrik Graaff-Reinet, waar Cilliers grootword, op 22-jarige leeftyd trou en kort voordat hy die binneland intrek, in die nuwe Hantam gaan boer.

Vroeg in 1836 het die Cilliers-gesin die Kaapkolonie verlaat. By Smithfield het hulle hul by die Hendrik Potgieter-geselskap aangesluit en saam die binneland ingetrek. Cilliers het gehelp met die geestelike versorging van die Voortrekkers, maar ook as krygsman ’n dapper rol gespeel by sowel Vegkop as Bloedrivier.

Gedurende 1838 het hulle die afgryse van Bloukrans-, Boesmans- en Tugelarivier belewe. Sarel Cilliers en twee ander manne het na die Kaapkolonie gereis om vir die beproefde Voortrekkers hulp te soek, en daarna het hy saam met Andries Pretorius se sogenaamde Wenkommando die Slag van Bloedrivier belewe.

Teen 1840 het die Cilliers-gesin hulle op Welgevonden, sowat 17 km noord van die teenwoordige Howick gevestig. In 1847 het hulle na Doornkloof, distrik Lindley, verhuis  waar Sarel Cilliers amper 25 jaar lank diep spore in die kerklike lewe getrap het. In 1862 het hy as Transgariepse afgevaardigde die breuk tussen die Ned. Geref. Kerk in die Kaap, die Vrystaan en Natal (die omstrede Loedolfsaak) mee-gemaak. Na die sinodesitting het Sarel op Doornkloof geboer waar hy op 4 Oktober 1871 oorlede is.

Vanweë sy geestelike leiding en rol by die aflê van die Gelofte, staan Sarel Cilliers in ons volksgeskiede-nis as profeet van die Groot Trek en vader van die Gelofte bekend. In alle regverdigheid teenoor die ander Voortrekkers, moet die daarstelling van die Gelofte noukeurig bekyk word. Sarel Cilliers se preke uit die Ou Testament by die Wenkommando het Andries Pretorius op die gedagte van ’n gelofte gebring. Jakob en Gideon  se geloftes, veral, het hom diep getref. Pretorius het toe aan Cilliers te kenne gegee dat hy soos die Ou Testamentiese karakters aan God ’n Gelofte wou aflê. Cilliers het oor die aflê van ’n gelofte geen beswaar gehad nie, maar oor die nakoming daarvan, as die Here aan hulle die oorwinning sou skenk, was hy “diep bezwaar”. Onder druk van Pretorius het Cilliers toegegee, maar alleen as die hele kommando in die saak geken is. Pretorius was die argitek van die Gelofte , terwyl Cilliers op 9 Desember 1838 by Wasbankrivier daaraan uitvoering gegee het. Eers het hy uit Rigters 6:1-24 gespreek en onder beklemtoon dat as hulle die Gelofte aflê, hulle en hulle gesinne dit sou moet nakom. Die bewering dat Cilliers op ’n kanon gestaan het, is aanvegbaar. Waarskynlik het Cilliers op een van die waens waarop die kanons vervoer is, gestaan toe hy die Gelofte in ’n gebed afgelê het.

Die Gelofte het op elke Afrikaner wat hom daarmee vereenselwig, ’n dure verpligting van dakbaarheid teenoor die Almagtige gelê waaraan hy hom nie sonder meer kan onttrek nie; dit wortel hom vaster en dieper in eie bodem en bring terselfdertyd hulde aan ’n voorgeslag wat geloof en vertroue in die Here gehad het.

Bron: De Jongh, P.S. 1989. Sarel Cilliers. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 122–123.