Retiefmonument

In Port Elizabeth, langs die Marine-rylaan

’n Besoeker aan Port Elizabeth wat met Marinerylaan vanaf die middestad suidwaarts al langs die strand verby Somerstrand ry, sal moontlik nie daarvan bewus wees dat hy op grondgebied is wat vroeër aan die Voortrekkerleier Piet Retief behoort het nie.

Piet Retief se eertydse plaas Strandfontein het die gebied omvat wat tans deur ’n gedeelte van die woongebied Somerstrand beslaan word. Dit is dus van pas dat ’n monument ter ere van dié groot Afrikanerleier juis daar opgerig is.

Oorspronklik is die Retiefmonument te Coega opgerig sowat 18 km noord van port Elizabeth, waar destyds die paaie van Uitenhage en Port Elizabeth na die noorde en ooste bymekaar aangesluit het.

Die gedagte aan ’n monument ter ere van Piet Retief het in die Eeufeesjaar van die Groot Trek, 1938, by die Afrikaanse kultuurorganisasies, die Werda-komitee van Port Elizabeth en die Skakelkomitee van Uitenhage ontstaan. Die grond te Coega is deur meneer CJ Mattheus geskenk, terwyl skenkings van die gemeenskap gevra is om die koste te bestry. Die oorspronklike totale waarde van die monument was ongeveer £2000 (R4000).

Die monument, deur Gerhard Moerdijk ontwerp, bestaan uit ’n 4 m hoë sandsteenstruktuur, waarvan die voorkant twee geelkoperpanele van Coert Steynberg bevat: ’n kop-en-skouervoorstelling van Piet Retief bo en ’n vertrekkende ossewatoneel onder. Op die granietgedeelte tussen die geelkoperpanele is treffende gedeeltes uit die manifes van Piet Retief aangebring.

Die hoeksteen is op 16 Desember 1938 gelê deur dominee AJ van Wyk, moderator van die Kaaplandse Ned. Geref. Kerk, en die feesrede is deur doktor TE Dönges gelewer.

By die inwyding, presies ’n jaar later, is die onthulling deur die weduwee van Charl Malan, voormalig Minister van Spoorweë, waargeneem, terwyl doktor DF Malan die feesrede gelewer het. Hy het by dié geleentheid ’n pleidooi om Afrikanereenheid gelewer, maar die voorwaarde gestel dat dit nie ten koste van volksideale moet geskied nie.

Teen 1950 was die Kultuurraad van Port Elizabeth bekommerd oor die vervalle toestand van die monument  weg van die stad. Groot feeste kon nie op die terrein gehou word nie en die feit dat die stad nie in Coega se rigting uitgebrei het nie, het die gedagte laat ontstaan om die monument te verskuif. Na heelwat vertragings het professor Marius Swart, van die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van Port Elizabeth, nuwe lewe in die beweging geplaas met sy onthulling dat die nuwe kampus van UPE aangrensend aan Retief se eertydse plaas gebou sou word. Daar is toe daadwerklik oorgegaan tot die verskuiwing na die huidige plek. Die onthulling is op 16 Desember 1975 deur meneer WA van der Merwe, voorsitter van die Skakelkomitee van Port Elizabeth, waargeneem. Professor Marius Swart se feesrede het oor Piet Retief as Afrikaner gehandel. Die verskuiwing het omtrent R6 000 gekos.

Piet Retief se leiersrol het as ’n inspirasie vir die oprigting van die monument gedien. In April 1837 het die Voortrekkergeselskap by Thaba Nchu byeengekom en Piet Retief as leier aangewys. Hy was toe 56 jaar oud.

Retief is veral om twee feite beroemd. Die Manifes wat hy in 1837 uitgevaardig het, en waarin hy redes vir die Groot Trek uiteengesit het, en sy grondruiltransaksie met die Zoeloekoning Dingane. As leier van die Voortrekkers, het hy die ideaal van ’n eie staat in Natal duidelik geformuleer. Hy wou die staat vestig op grondgebied wat hy deur billike en vreedsame onderhandeling wou bekom. Dit is in die nastrewing van hierdie ideaal dat hy en sy makkers by Hlomo Amabutho gesterf het.

Op 16 Desember 1975 het professor Marius Swart soos volg oor Piet Retief getuig: “Dankie, Piet Retief, dat jy op daardie vertrekoggend nie die Koonap of die Winterberge of Mooimeisiesfontein of hierdie stad beween of begeer het nie, maar dat jy noordwaarts gegaan het, na Hlomo Amabutho, sodat ons ’n volk kan word en vandag kan terugkeer, en bou, en goed leef, en studeer en onderhandel, en mekaar bystaan en ander respekteer en vormingsmenings kan uitspréék soos wat jý dit destyds reeds … nederig … beoog het.”

Bron: Rautenbach, T.C. 1989. Retiefmonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 64–65.