Foto 19

Voor die Voortrekkerkerk, aan die onderkant van die Ou Markplein, in Kerkstraat

Die beeldhouer, Coert Steynberg, is op 28 Maart 1955 deur die Natalse Voortrekkermonumentekomitee (NVMK) versoek om ’n ontwerp vir ’n standbeeld ter ere van die Voortrekkerleier Piet Retief voor te lê. Op 19 Julie 1958 is sy half voltooide model in klein in Pietermaritzburg uit drie modelle deur ’n komitee onder voorsitterskap van professor GS Nienaber aanvaar. Vir die voltooiing, aflewering en oprigting daarvan sou £7000 (R14 000) betaal word. Dié bedrag is oor ongeveer sewe jaar teen 6% rente op die agterstallige bedrag aan die beeldhouer betaal.

Besprekings het dadelik gevolg, omdat daar geen eietydse afbeelding van Retief bestaan het nie en die weergawe dus ’n persoonlike siening sou vertolk. Steynberg het geantwoord dat hy Retief en karakter en geaardheid volgens tydgenootlike beskrywings sou weergee. Die beeld toon Retief dan as siener en idealis met die blik op die toekoms. Dit staan aan die onderkant van die ou Markplein, byna 20 m van die straat af en kyk in Kerkstraat af sodat dit nie dalk later teen enige toekomstige hoë geboue sou vaskyk nie. Die beeld van 363,3 kg is 2,74 m hoog en is in Oktober 1960 deur meneer Hennie Joubert , van Pretoria, vir £900 (R1800) in brons gegiet. Dit is moeisaam per vragmotor na Pietermaritzburg vervoer en deur Steynberg self staangemaak. Die betonvoetstuk is 760 mm x 760 mm en 1,06 m hoog en is deur die firma Robert Berras en Seun, van Pietermaritzburg, vir £20 (R40) op ’n betonbasis van 1,02 x 1,02 m en 457 mm hoog geplaas. Dit is alles met grond en klippe bedek om ’n natuurlike, ruwe bergvoorkoms te skep. Die beeld is met ’n pen in die beton geanker. Die verweerde klippe is deur P Badenhorst, van die distrik Harrismith, vanaf Blyvooruitsig aangery. Dit is die plek waar Retief in 1837 die Drakensberg die eerste keer oor is na Natal. Die linkerhand skerm oor die gesig. Die regterhand druk die hoed teen die bors vas – ’n houding van eerbied vir die natuurlandskap voor hom. Hy tuur noordwaarts, soos wat die Groot Trek beweeg het, na waar die son lig bring. Hy is sonder geweer en kruithoring, want hy kom in vrede. Alles getuig van eenvoud. Die snor, lyfband en breërandhoed van die beeld is al kwaai gekritiseer, want dit moes glo net ’n baard, kruisbande en ’n hoed moet ’n hoë bol en smal rand gewees het. Die molvel-pak-klere is egter presies korrek.

Doktor EG en mevrou MM Jansen het agter die skerms as goewerneur-generaalspaar besondere meelewing getoon. Mevrou Jansen het in Desember 1955 reeds al die geld wat haar groep Natalse vroue vir ’n eie Retiefbeeld ingesamel het aan die NVMK oorhandig. Sy wou daarom ook ’n paneel, wat ’n Voortrekkervrou uitbeeld en ’n inskripsie wat die geldskenking verhaal, teen die Retiefbeeld laat aanbring, maar Steynberg het botweg geweier. Op Vrydag 6 April 1962 om 15h00 het mevrou Mabel Jansen die rede gehou en die onthulling waargeneem. Die kern van haar toespraak het op die waardering en agting vir die volksleier van die verlede neergekom. Die Voortrekkerbeweging en die Noodhulpliga het ’n erewag gevorm. Professor Nienaber het met die onthulling die dankwoord namens al die betrokkenes gespreek. ’n Besonder groot skare het die verrigtinge bygewoon.

Piet Retief, die Voortrekkers se militêre en politieke leier tydens die Groot Trek, is op 12 November 1780 in die Wamakersvallei naby Wellington gebore. In Februarie 1837 verlaat die Retief-gesin die Kaapkolonie nadat sy bekende manifes oor die redes waarom die Trekkers die kolonie verlaat in die Graham’s Town Journal verskyn het.

Een van Retief se grootste sorge as leier was om ’n eindbestemming vir die Trekkers te vind. Toe daar onder die Voortrekkerleiers nie eenstemmigheid bereik kon word nie, besluit Retief om saam met die ander Trekkers Natal toe te trek.

Trou aan sy aard om deur onderhandeling sy doel te bereik, onderneem hy en ’n paar manne ’n tog na Dingane om oor grondgebied vir die Trekkers te onderhandel. Aan die Zoeloe-opperhoof se eis dat die beeste wat Sekonyela gesteel het, terugbesorg word, voldoen hy.

Met sy tweede besoek aan die Zoeloekoning – teen die wense van die ander Voortrekkerleiers – bereik Retief sy grootste ideaal met die ondertekening van die grondbrief waarvolgens Dingane groot grondgebied aan die Trekkers afstaan. Die Zoeloekoning het egter ander planne gehad en net voordat die Retief-geselskap, op6 Februarie 1838, na die laers sou terugkeer, laat hy hulle om die lewe bring by KwaMatiwane se berugte teregstellingsheuwel.

Die Retiefbeeld staan op ’n historieryke terrein, waarop ook die aanvanklike Geloftekerk, die Gedenkkerk en die Gert Maritz-beeld staan.

Hoewel die stadsraad aanvanklik al die versoeke in verband met die terrein afgekeur het, het die betrokkenes daarmee volhard. Piet Retief was immers die Afrikaner wat, ná onderhandelings met die Zoeloekoning Dingane, aan die Groot Trek ’n afrondingsbeslag in ’n vrye Natalia wou gee. hy het onderling vrede gehandhaaf, met swart leiers oorleg gepleeg, die Retief-traktaat opgestel en laat teken en met die Retief-manifes ’n betroubare verslag aangaande die oorsake van en ideale met die Groot Trek wyd bekend gemaak. Die terrein word van tyd tot tyd vir Voortrekkerbyeenkomste benut en lok gereeld toeriste.

Bron: Swart, M.J. 1989. Piet Retief. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 244–245.