Op 3 Februarie 1838 het Piet Retief ’n tweede keer Umgungundlovu besoek. Hy het die vee wat Sekonyela van Dingane gesteel het, teruggeneem en sou volgens ooreenkoms die grondgebied tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier van die Zoeloekoning ontvang. Retief was vergesel van 65 Trekkers, die tolk Thomas Halstead en vier seuns, onder wie sy jongste seun Pieter. Ongeveer 30 bediendes het die 71 lede van die groep vergesel.

Die volgende dag, Sondag 4 Februarie, het Dingane Retief ontbied en Retief het volledig verslag gedoen van die ekspedisie na Sekonyela. Dit is waarskynlik dat die traktaat waarvolgens die grondgebied aan die Trekkers afgestaan is, toe deur Dingane onderteken is. Hoewel Retief haastig was om na die laers terug te keer, het Dingane hom versoek om die volgende dag ook by Umgungundlovu te vertoef. Die dag is deurgebring met danse deur Dingane se impies, vertonings van Dingane se beeste en skynaanvalle van die Voortrekkers op hul perde. Die namiddag het nog meer regimente van Zoeloes aangekom en teen die aand was Dingane se stat ’n byenes van Zoeloe-vegters.

Op die noodlottige oggend van 6 Februarie het Dingane vir Retief en sy metgeselle uitgenooi om hom te kom groet voor hulle vertrek. Kort daarna het Retief, vergesel van al sy manne en die meeste bediendes die kraal binnegegaan. Hul wapens is onder die noorsdoringbome op die Zoeloes se versoek buite die kraal onbewaak gelaat. Dingane het hulle bier aangebied en sy soldate beveel om die Boere te vermaak met sang en dans. Retief en sy geselskap het nie langer as ’n kwartier gesit nie toe Dingane uitroep: “Gryp hulle!” Die krygers het dadelik op hulle toegesak en, terwyl hulle uit die kraal gesleep is, het die koning aanhoudend geskree: “Maak dood die towenaars!” Elke slagoffer is vasgehou deur soveel Zoeloes as wat hom beet kon kry. Volgens die getuienis van William Wood, het die moord reeds begin toe hulle na die koppie KwaMatiwane gesleep en met knopkieries op die kop geslaan is. Hy vertel ook dat hulle Retief vasgehou en gedwing het om die dood van sy kamerade te aanskou, voordat hulle hom vermoor het.

Die sendeling Francis Owen wat naby die toneel gewoon het, skryf in sy dagboek dat sy aandag getrek is deur die gebeure op die bloedbevlekte koppie, waar al die verskriklike teregstellings plaasgevind het. Hy vertel ook hoe die hulpelose, ongewapende Boere na die vreeslike plek gesleep is, en waar hul oë daardie oggend nog die lieflike lig van ’n nuwe dag aanskou het, was hulle toe in die dood gesluit.

Nadat Dingane se impies vertrek het om die Natalse Voortrekkers aan te val, het daar volgens Owen ’n groot stilte geheers. Hy skryf: “Alles is stil soos die dood; dit is regtig die stilte van die dood, want dit het elke tong in ons klein gemeenskap verlam.”

Dit was eers op 21 Desember, vyf dae na die Slag van Bloedrivier, dat Andries Pretorius en sy kommando KwaMatiwane bereik het. Sommige geraamtes was nog herkenbaar, ook dié van Piet Retief. Sy leersak met die traktaat is ook teruggevind. Pretorius het al die beendere in ’n massagraf aan die voet van die koppie laat begrawe. Die massagraf was tot ongeveer 1896 onversorg aan die voet van die koppie totdat ’n Voortrekker JH Hatting, wat by die begrafnis teenwoordig was, die graf uitgewys het. ’n Klipstapel is toe daaroor opgerig.

Die Ned. Geref. Kerk van Babanango het ’n komitee aangestel om die moontlikheid van ’n monument op KwaMatiwane te ondersoek, wat gelei het tot ’n redelik eenvoudige maar besondere monument. Dit is gebou van gekapte blou dolomiet (blouklip) en is in die vorm van ’n suil op ’n reghoekige voetstuk van dieselfde materiaal geplaas. Trappies van gekapte klip lei na die gedenkteken binne ’n sirkelvormige ringmuur. Die name van die slagoffers is ten die suil aangebring. Die firma Sinclair & Kie van Pretoria was vir die oprigting verantwoordelik, terwyl die Ned. Geref. Kerkraad van Babanango die fondsinsameling gehanteer het. Die oprigtingskoste is ongelukkig nie bekend nie.

Die monument is op 8 Julie 1922 deur dominee AJ Louw, toe van Heidelberg en Moderator van die Ned. Geref. Kerk se Sinode in Transvaal, onthul.

Bron: Opperman, A.J.P. 1989. Piet Retief se graf. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 242–243.

Foto 20