Piet Potgieter_klein

Op Piet Potgieter-plein voor die Stadhuis

’n Gruwelmoord op ’n Boerejaggeselskap het tot  die dood van kommandant-generaal Piet Potgieter gelei. Die geselskap, bestaande uit 23 mans, vrouens en kinders, het in Oktober 1854 slagoffers van Mokopane (ook Makapaan genoem) se volgelinge geword. Onder die vermoordes was Hermanus Potgieter, broer van die Voortrekkerleier AH Potgieter.

Kommandant-generaal Piet Potgieter, 31-jarige seun van AH Potgieter, het saam met kommandant-generaal MW Pretorius van Potchefstroom ’n strafekspedisie gelei. Mokopane het voor die boere uitgevlug en in Makapaansgrot, ongeveer 23 km van Potgietersrus, skuiling gesoek. Omdat dit te gevaarlik was om die grot te bestorm, is dit beleër met die oog daarop om die vyand deur uithongering tot oorgawe te dwing. Op 6 November 1854 het Potgieter in ’n oomblik van onbehoedsaamheid hom voor die grot gewaag en is hy noodlottig deur ’n vyandelike koeël getref. Onder hewige vyandelike vuur het die 29-jarige veldkornet Paul Kruger, latere president van die ZAR, die lyk van generaal Potgieter uit die bek van die grot gaan haal. Dit was fisiek ’n byna bomenslike en gevaarlike taak.

Pieter Johannes Potgieter is op 24 Desember 1822 in die distrik Cradock gebore, tweede oudste seun van die Voortrekkerleier. As 13-jarige seun trek hy saam met sy ouers en vestig hom in 1845 op die plaas Twyfelfontein aan  die Steelpoortrivier. Hy word kommandant van die wyk Waterberg en na sy vader se dood in 1853, wat een van die vier kommandant-generaals van die ZAR was, volg Potgieter hom op as kommandant-generaal vir Soutpansberg. Hy is op 17 Maart 1853 in die amp beëdig.

As kommandant-generaal pas hy ’n streng beleid ten opsigte van die swart stamme toe. Sy doelgerigte optrede om vrede te bewerkstellig, ontvang die heelhartige steun van die Volksraad. Sy grootste probleem was om die smokkelhandel met wapens en ammunisie, wat sy strewe na vrede verhinder het, te bekamp. In hierdie verband werk hy ten nouste saam met kommandant-generaal MW Pretorius en hulle tree gesamentlik op teen die vlaag van moord en diefstal in die distrik Marico en Waterberg. Dit was juis in hierdie tyd toe hulle die gesamentlike strafekspedisie aangepak het, dat hy met sy lewe geboet het.

Potgieter se oorskot is per wa vervoer na sy plaas Middelfontein, ongeveer 20 km noord van Nylstroom, waar dit begrawe is. In 1938 in die Voortrekker-eeufeesjaar is ’n grafsteen op sy graf opgerig.

Enkele jare na sy dood het die Volksraad besluit om ’n dorp by Makapaanspoort aan te lê, wat ter ere van hom Pieterpotgietersrus (nou Potgietersrus) genoem sou word.

In 1964 is die oorskot in ’n graf voor die hoofingang van die stadhuis van Potgietersrus op Piet Potgieterplein herbegrawe. Die Voortrekkers van die Nylstroomse Hoërskool het, in samewerking met AVBOB en die Suid-Afrikaanse Polisie, die opgrawing gedoen.

Voortrekkerseuns van die Piet Potgieter-kommando het die graf op Piet Potgieterplein gegrawe, terwyl meneer JB Wouda, agterkleinkind, vir die ontwerp van die grafterrein gesorg het. Twee argitekte, mevrou S de Kock en meneer WM Davel, was vir die ontwerp van die grafsteen en terrein verantwoordelik. Die klippe op die grafterrein stel die skans voor waaragter Potgieter geval het nadat hy dodelik gewond was. Dit is afkomstig van die dorpserwe.

Die simboliek van die grafterrein is volgens die Stadsraad van Potgietersrus: Die moeë swerwer kom by die voet van berge tot rus.

Terwyl die herbegrafnis deur die Afrikaanse Kultuurraad van Potgietersrus aangevoor is, het die Stadsraad vir al die koste betaal. Die bronsplate is teen R64,80 elk deur Minnaar-Engravingsentrum in Johannesburg vervaardig, terwyl die koste verbonde aan die verfraaiing van die grafterrein, nagenoeg R2 000 bedra het.

Kommandant-generaal Pieter Potgieter was ’n waardige krygsman en toegewyde leier wat sy pligte gewetensgetrou uitgevoer het. Hy het slegs agtien maande die amp van kommandant-generaal beklee en kon vanweë sy dood nie ’n blywende stempel as kommandant-generaal afdruk nie.

Bron: Du Plessis, J.G. 1989. Piet Potgieter. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 214–215.