Foto 18

Die gedenktuin is in die sentrale stadsgebied van Maputo geleë

Louis Tregardt, die jongste van vier kinders, is op 10 Augustus 1783 in die distrik Oudtshoorn gebore. Hoewel ’n afstammeling van die ’n Sweedse immigrant wat in 1742 as matroos van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie na die Kaap gekom het, was die Tregardts binne ’n enkele geslag deel van die Afrikaner.

In 1835, nog voor die Groot Trek op ’n georganiseerde wyse begin het, het Louis Tregardt tot aan die suidelike oewers van die Oranje getrek. Hier het vyf ander families hul by hom aangesluit, sodat die geselskap uit ongeveer vyftig siele bestaan het. Tregardt wou nie na Natal verhuis nie, waarskynlik omdat die vroeëre kommissietrekke berig het van ’n gevestigde Britse handelaarsgemeenskap aan Port Natal. Eerder sou hy nog verder noord na ’n hawe soek – ’n plek vry van veral enige Britse invloed.

In 1836 het Tregardt ’n ander vroeëre Trekkerleier, Hans van Rensburg, aan die Vaalrivier, teenoor die Suikerbosrand, ontmoet. ’n Tyd lank het die twee geselskappe die tog noordwaarts saam aangepak. By Soutpansberg het Tregardt kamp opgeslaan om op AH Potgieter en sy mense te wag, terwyl Van Rensburg verder noordwaarts getrek het.

Potgieter en ’n klein afvaardiging het weliswaar die Tregardt-trek besoek waar besluit is dat die hele Potgieter-geselskap later by Louis Tregardt sou aansluit. Na bykans ’n jaar het Potgieter egter nog nie sy verskyning gemaak nie. Daarop het Tregardt besluit om op eie houtjie die gevaarlike reis oor die haas onbegaanbare terrein van die Drakensberg na die Portugees beheerde Delagoabaai aan te pak. Na ’n reis van drie maande, gekenmerk deur struikelblokke soos riviere, berge en die gevreesde tsetsevlieg, het die Tregardt-trek op 13 April 1838 Delagoabaai bereik.

Lourenço Marques, soos Delagoabaai bekend gestaan het, was in meer as een opsig die eindpunt van die Tregardt-trek. Meer as die helfte van die boeregeselskap het aan malariakoors omgekom, ook Louis Tregardt wat op 25 Oktober 1838 gesterf het. Die Trekkergemeenskap van Natal het hulle hierna die lot van die paar Boere-oorlewendes in Lourenço Marques aangetrek en die skip, Mazeppa, gestuur om dié mense na Natal te bring.

Die pionierstog en lotgevalle van die Tregardt-trek word in ere gehou in ’n gedenktuin in Maputo op die plek waar Tregardt en negentien van sy mense begrawe is. Die ligging van die gebied is in 1944 na noukeurige navorsing deur doktor Willem Punt bepaal.

In 1955 het onderhandelinge oor die aankoop van die terrein, die agterplaas van ’n Indiërwinkel, begin. Verskeie instansies, kultuur- en welsynliggame, soos die ATKV, AKPOL, ATKB en SAVF het finansieel tot die projek bygedra. Dit was egter veral die Afrikaanse Kultuurvereniging Volk en Verdediging (AKVV) wat uiteindelik onder voorsitterskap van generaal-majoor RC Hiemstra besluit het om die projek vir sy rekening te neem. ‘n Fonds, onder bestuur van doktor Punt, is in die lewe geroep. Meneer JG Strijdom, die voormalige Suid-Afrikaanse premier, was die hoofbeskermheer.

’n Pretoriase argitek, meneer Johan de Ridder, in samewerking met die Portugese ere-argitek, meneer Reis Costa, het in 1962 die finale planne aan die stadsraad van die destydse Lourenço Marques voorgelê.

Die ontwerp van die Louis Tregardt-gedenktuin wat R50 000 gekos het en ’n oppervlakte van 400 vierkante meter beslaan, bestaan uit verskeie elemente:

  • ’n ringmuur in die Kaaps-Hollandse boustyl met ’n poort en hekke, ’n replika van die Ned. Geref. Kerk in Tulbagh, waar Tregardt gedoop is
  • ’n breë monumentale geplaveide pad wat die lydenspad van die Trekkers, maar ook die pad van die beskawing simboliseer
  • ’n boogvormige gedenkmuur, die hoofelement, bestaande uit ’n middeldeel beklee met ’n wit armerpaneel van 12 x 3 m waarop ’n kakebeenwa en ’n span van tien osse met Tregardt langsaan  uitgebeeld is. Die muur is met ’n swaar marmer beklede dekblad omring waarop die woorde “Ter ere van Louis Tregardt en sy mense. Die temmers van die bos” in Afrikaans, Engels en Portugees aangebring is. Aan weerskante van die middeldeel is twee vleuels  van swart gepoleerde Belfast-graniet. Die skip, Mazeppa, met die name van die deelnemers aan die Tregardt- en Van Rensburg-trek, asook diegene wat daar begrawe is, is op die een vleuel uitgebeeld. Op die ander vleuel is die Estrela de Damâo, die skip waarmee Carolus, seun van Louis, aan die ooskus van Afrika noord gevaar het!
  • ’n geplaveide vlak voor die gedenkmuur, met ’n groot landkaart van Suidelike Afrika waarop die verskeie Trekroetes aangebring is, uitgevoer in mosaïek. Die Portugese owerheid het R6000 geskenk vir die oprigting van die geplaveide vlak.

Die firma, M Pardal Monteiro van Lourenço Marques, onder toesig van die ingenieur doktor J Geurra, het die oprigting van die gedenktuin, behartig. Die wa en osse is deur doktor Albert Werth ontwerp en deur die Portugese beeldhouer, Joel Sequira gebeitel, terwyl mej. Jeanne Kotzé van Pretoria, die mosaïekontwerp geskep het.

Op 12 Oktober 1968 is die gedenktuin deur meneer Jan de Klerk, as Suid-Afrikaanse Minister van Nasionale Opvoeding, ingewy. Generaal RC Hiemstra, doktor Punt en meneer Johan de Ridder was in die Suid-Afrikaanse afvaardiging. Die Portugese owerheid is deur meneer Martinez, Minister van Onderwys, verteenwoordig.

Die Gedenktuin, ’n tasbare getuienis dat die Afrikaanse volk waardering en bewondering het vir hulle wat moed en oortuiging gehad het om die onbekende te trotseer en ’n nuwe vaderland vir die nageslagte te skep, staan steeds ongeskonde. Die tuin word deur die Louis Tregardt-trekgenootskap in stand gehou.

Bron: Van der Merwe, P.J. 1989. Die Louis Tregardt-gedenktuin. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 254–255.