Karel Landman_klein

Ongeveer 40 km van Alexandria na Port Elizabeth draai die pad regs af, en ongeveer 5 km verder is die plaas De Kol-rant geleë waar die monument staan

Ongeveer 40 km van Alexandria op die pad na Port Elizabeth draai die pad na die Karel Landman-monument regs uit die hoofweg af. Na sowat 5 km kan die pragtige monument ter ere van Karel Landman op die plaas De Kol-rant, in die skilderagtige Olifantshoek, gevind word.

Die gedagte aan so ’n monument het by meneer GDJ Aucamp ontstaan. Hy het op 2 September 1938 die vraag geopper of die Eeufees van die Groot Trek nie ook plaaslik herdenk moet word nie, onder meer deur die oprigting van ’n gedenkteken in die distrik Alexandria. Daardie distrik het immers as wyk Olifantshoek van Uitenhage die grootste trekgeselskap opgelewer, dié onder Karel Landman.

Meneer JA Scheepers het die terrein vir die monument geskenk. Die gedagte was eers om ’n ruwe steen op ’n geskikte voetstuk op te rig. Gerhard Moerdijk, die argitek, is in dié verband genader, en nadat hy die terrein besoek het, het hy gemeen dat ’n reuse-granietklip op ’n paslike voetstuk onprakties sou wees. Hy het ’n groot, hol aardbol van beton, met ’n ossewa oor ’n kaart van Suid-Afrika voorgestel. Dié finale ontwerp is in Mei 1939 ontvang en goedgekeur.

Intussen het die hoeksteenlegging op 16 Desember 1938 plaasgevind. By daardie geleentheid het 844 feesgangers die plegtigheid bygewoon. Na ’n openingsrede deur die voorsitter is ’n diens deur dominee GP le Roux, van Riebeeck-Oos, gelei. Die Voortrekkergelofte, afgelê voor Bloedrivier, is gelees en vier kinders is gedoop.

Die hoogtepunt van die fees was toe die 77-jarige mevrou CJ Scheepers, ’n dogter van Christiaan, die jongste broer van die Trekleier, Karel Landman, en moeder van die skenker van die terrein, die hoeksteen gelê het met ’n silwertroffel wat deur die feeskomitee geskenk is.

Die oprigting van die monument is deur die Gebrs. Lupini, van Johannesburg, teen ’n totale koste van £470 (R940) onderneem.

Die onthulling van die monument het op 16 Desember 1939 op De Kol-rant plaasgevind en meer as 1000 feesgangers het daar vergader. Na ’n erediens onder leiding van dominee CH Latsky, van Alexandria, het meneer JHJ Potgieter die aanwesiges verwelkom.

Daardie middag het dominee WA Landman, ’n seun van Alexandria en bloedverwant van Karel Landman, die monument onthul. In sy rede het hy ’n oorsig gegee van die lewe van Karel Landman. Hy het die hoorders gemaan om die ideale van die vadere te bewaar en sodoende te verhoed dat die monumente later grafstene word, wat slegs as herinnering aan ’n roemryke verlede kan dien.

Die monument, wat hoofsaaklik bestaan uit ’n aardbol met ’n deursnee van ongeveer 5 m, toon ’n ossewa met ’n span osse wat oor Afrika beweeg, simbolies van die feit dat die binneland van Suider-Afrika deur die Trekker met sy wa oopgestel is.

Uitstekende geriewe vir die hou van volksfeeste is op die terrein aangebring en jaarliks op 10 Oktober en 16 Desember word daar groot byeenkomste gehou.

Karel Pieter Landman is op 5 Maart 1796 in die distrik Uitenhage gebore. As ywerige en hardwerkende boer bou hy sy boerderybedrywighede uit, maar as gevolg van swaar verliese wat hy in die Sesde Grensoorlog ly, word hy verplig om sy plaas te verlaat. Toe die eerste Olifantshoekers vroeg in 1836 trek, het hy agtergebly, maar teen die einde van Oktober 1837 met nege en dertig gesinne na Natal vertrek. Hy het hom naby die mond van die Umgenirivier by Port Natal gevestig en ’n leidende rol in die vroeëre geskiedenis van Natal gespeel. Hy was tweede in bevel onder Andries Pretorius met die Slag van Bloedrivier. Later was hy ’n gekose lid en voorsitter van die Volksraad en ook landdros van Pietermaritzburg. Na die Britse besetting van Natalia het hy hom in die binneland van Natal op die plaas Uithoek by Kliprivier gaan vestig, waar hy op 2 April 1875 oorlede en begrawe is.

Sy grafskrif bevat die woorde van Openbaring 14:13 – Salig is van nou af die dode wat in die  Here sterwe.

Bron: Opperman, A. J.P. 1989. Karel Landman. In Afrikanerbakens, FAK: Aucklandpark, pp. 66–67.