Voor die Voortrekkerkerk in Kerkstraat

Voor die Voortrekkerkerk in Kerkstraat

Die ongeveer 3 m hoë standbeeld van Gert Maritz op ’n voetstuk van 1,75 m hoog voor die Voortrekkerkerk (Nederduits Gereformeerde Gemeente van Pietermaritzburg), Kerkstraat 340, te Pietermaritzburg, is deur die Natalse Voortrekkermonumentekomitee opgerig. Dit is gedoen uit dankbare erkentenis teenoor dié vermaerde Voortrekkerleier se bydrae tot die Groot Trek, veral in Natal – die “beloofde land” – wat hy binnegetrek het, maar vanweë ’n vroeë dood nie kon bewoon nie. Net soos hy, was dit ook ander Voortrekkerleiers nie beskore om in Natal te woon nie. Piet Retief is op 6 Februarie 1838 deur die Zoeloe-volgelinge van Dingane om die lewe gebring en Pieter Lafras Uys het ’n paar maande later, op 11 April 1838, in ’n Zoeloe-lokval in die Slag by Italeni gesneuwel.

Die Natalse Voortrekkermonumentekomitee het reeds in 1962 ‘n standbeeld vir Piet Retief laat aanbring, maar eers teen die einde van die sestigerjare planne beraam om ook vir Gert Maritz op ‘n soortgelyke manier te gedenk. Die bronsbeeld is in opdrag van die Natalse Voortrekkermonumentekomitee deur die beeldhouer Jo Roos geskep. Dit het R7300 gekos. Op 16 Desember 1970 is dit onthul deur meneer HJ Klopper, toe Speaker van die Volksraad.

Gerhardus Marthinus Maritz, gebore in Maart 1797 in die distrik Graaff-Reinet, het een van die groot trekgeselskappe in 1836 uit die Kaapkolonie op die Groot Trek gelei.

By Thaba Nchu is Maritz tot voorsitter van die eerste Voortrekkerbestuur verkies. Saam met Andries Hendrik Potgieter het hulle die eerste veldtog teen Mzilikazi onderneem wat op 17 Januarie 1837 by die Slag van Mosega vir die Voortrekkers op ’n groot oorwinning uitgeloop het.

In Natal aangekom, het daar op Maritz en die ander Voortrekkers egter baie teenspoed gewag. Teen Maritz se sin het Piet Retief met ’n groot geselskap Dingane besoek, wat soos eergenoemde aangevoel het, verraad teen die Retief-geselskap gepleeg het. Nie net is die Retiefgeselskap uitgemoor nie, maar Zoeloe-krygers het ook die Voortrekkers by Bloukransrivier en Moordspruit aangeval en hulle mans, vroue en kinders vermoor. Vanweë Maritz se behoedsame en wakker optrede, het hy egter ’n Zoeloe-aanval op sy laer aan die Boesmansrivier op skitterende wyse afgeslaan.

Die Groot Moorde het die Voortrekkers in Natal in ellende gedompel, wat vererger is toe ook Uys by Italeni in ’n lokval gelei en vermoor is. In hierdie donker uur was Maritz vir sy medetrekkers ’n ware bron van krag en steun. As die enigste oorblywende leier van die Voortrekkers in Natal in daardie stadium, het hy noodlydendes gehelp, mismoediges moed ingepraat en noodsaaklike administratiewe en bestuursfunksies verrig. Hy het ook gehelp om ’n verwoede Zoeloe-aanval in Augustus 1838 op Veglaer aan die Klein-Tugelarivier suksesvol af te slaan.

Omdat hy besef het dat die Voortrekkers in Natal te min is en nog leiers nodig het om die Zoeloe-gevaar doeltreffend die hoof te bied, het hy ’n dringende beroep op Afrikanerleiers in die Kaapkolonie, veral op Andries Pretorius van Graaff-Reinet, gedoen om hul by hulle aan te sluit. Intussen het hy die eerste stappe gedoen ter voorbereiding vir ’n veldslag teen die Zoeloes, wat na sy dood deur Andries Pretorius voortgesit is en by die Slag van Bloedrivier op ’n groot oorwinning vir die Voortrekkers sou uitloop. Voordat Pretorius egter in Natal opgedaag het, het Maritz in September 1838 ernstig siek geword en het hy op die 23e van dié maand gesterf.

Foto 16

Voortrekkers by die standbeeld tydens die Viertrek Groot Trek

Die Voortrekkers van Natal het vir Maritz buitengewoon baie respek gehad, veral omdat hy in die tyd van hulle grootste nood hulle ankerfiguur was. Maritz het alles veil gehad vir sy volk en het vir hulle ’n toekomsvisie in die “beloofde land” gehad, soos bevestig is deur sy sterwenswoode: “Graag het ek die bloei van my volk gesien, maar dit is my nie gegee nie. My raad aan julle is: wees getrou aan die Heer, en getrou aan julle owerheid. Hoe moeilik dit ook lyk, julle sal die opbloei van ons volk seker aanskou in hierdie veelbelowende land.”

Dat sy volk en sy opofferinge nie vergeet is nie, getuig die feit dat die Natalse Volksraad reeds op 23 Oktober 1838 besluit het om die nuwe dorp wat hulle wou stig, na hom en Piet Retief te noem: Pietermaritzburg. Daarmee, en met die standbeeld wat in dié dorp vir hom opgerig is, is sy lewe as Afrikanerleier en sy opofferinge vir die Afrikanervolk verewig.

Bron: Van Zyl, D.J. 1989. Gert Maritz. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 246–247.