Die kerk is in Kerkstraat geleë

Die kerk is in Kerkstraat geleë

In die een hoek van Markplein, Pietermaritzburg, staan drie geboue: die Voortrekkermuseum op die perseel van die oorspronklike Geloftekerk, die Gedenksaal waar die vroeër die eerste Gedenkkerk, opvolger van die Geloftekerk, gestaan het, en die Voortrekker-Gedenkkerk, ’n moderne Geloftekerk. Die geskiedenis aan hierdie drie geboue verbonde, vorm ’n eenheid en dien vandag as een van die bakens van die Voortrekkers in Natal.

Ter uitvoering van die Gelofte van 1838 het die Voortrekkers in Pietermaritzburg erf 33 in Langmarkstraat bekom om ’n kerk op te rig en erf 34 vir ’n pastorie. As gevolg van die groot armoede wat onder hulle geheers het, het die fondsinsameling vir ’n kerk en pastorie stadig verloop. Omdat ’n predikant en ’n pastorie ’n dringende noodsaaklikheid was, is besluit om op die pastoriegrond ’n kerk op te rig wat later in ’n pastorie omskep kon word. In 1841 is dié gebou in gebruik geneem, terwyl die eerste leraar, dominee Daniel Lindley, in ’n huurhuis gewoon het.

Die kerkgebou het heelwat probleme gegee, en op 9 April 1855 het die gemeente besluit om ’n nuwe kerkgebou op erf 33 op te rig. Dit het egter nou geblyk dat hulle besitreg op die erf verloor het. Met die Britse anneksasie van Natal in 1843 is bepaal dat eiendom wat nie minstens een jaar voor die Britse anneksasie bewoon was nie, gekonfiskeer sou word. Omdat die kerkraad in die geharwar wat op anneksasie gevolg het, vergeet het om erf 33 in sy naam te registreer, het hy die erf en twee plase wat die Volksraad aan hom gegee het, verloor. ’n Lang uitgerekte stryd wat ongeveer ’n eeu sou duur, het oor die besitreg van erf 33 ontstaan.

Intussen het die kerkraad met die insamel van geld vir die oprigting van ’n nuwe kerk begin. Hulle wou graag dié kerk op die oorspronklike erf 33 oprig, maar toe dit vir hulle duidelik geword het dat hulle die stadsvaders nie sou oorreed om die erf aan hulle oor te dra nie, is die kerk langs die ou kerkie op erf 34 gebou. Die gebou is op 7 April 1861 ingewy.

Die oorspronklike kerkie het toe vir die kerkraad ’n probleem geword. Uiteindelik is besluit om hom te verkoop om die skuld op die nuwe kerk te help verlig. Op 26 Januarie 1863 is hy vir R1680 aan V Brayhirst verkoop. Toe hy twee jaar later insolvent raak, het die kerkraad die gebou teruggeneem. Hierna is die gebou agt jaar as ’n skoolgebou verhuur voordat D Whitelaw dit in 1873 vir R1400 gekoop het. Op 21 Maart 1910 is dié gebou op inisiatief van dominee GM Pellisier, sy swaer advokaat EG Jansen en J Hershenshonn aangekoop en in 1912 aan die regering bemaak om as Voortrekkermuseum te dien. Die gebou is in 1937 tot nasionale gedenkwaardigheid geproklameer.

Die tweede kerk op erf 34 het 90 jaar as kerkgebou gedien voordat dit te klein geword het om in die gemeente se behoeftes te voorsien. Nou het die ideaal herleef om ’n waardige Geloftekerk op die historiese erf 33 op te rig. ’n Bitter stryd het tussen die gemeente en die stadsraad oor dié saak ontstaan. Die saak is in 1955 deur die kerkraad in die Natalse Hooggeregshof aanhangig gemaak. advokaat Oswald Pirow het namens die kerkraad opgetree. Regter Holmes het egter by die partye daarop aangedring om die saak buite die hof te skik. ’n Skikking is wel bereik. Die stadsraad het besluit om Voortrekkerstraat aan die een kant te sluit en ’n sewe voet (± 2 m) breë strook van Kerkplein daarby te voeg.

Intussen is die kerkgebou van 1862 deur die kerkraad in 1945 gesloop, ten spyte van vertoë, onder andere van doktor EG Jansen, dat dit bewaar moet word. ’n Gedenksaal is teen ’n koste van R40 000 op dié perseel opgerig. Die ou kerkgebou se klok is in ’n boog voor die Gedenksaal ingebou en die ou geelhoutbalke is in die dak van die konferensiekamer gebruik.

Nadat besluit is dat erf 33 geskik is, is die moderne Gedenkkerk daar opgerig en op 6 April 1962 in gebruik geneem. Die argitek was Paul le Roux, die bekende kerkargitek van Stellenbosch, en die boukoste het R84 000 beloop. Die gedenkkerk word deur ’n hoë spitstoring oorheers. In die portaal is die Gelofte op ’n muurtablet aangebring. Voor die kerk staan Coert Steynberg se beelde van Piet Retief en Gert Maritz. So lewe die Gelofte en die geskiedenis van 1838 nog vandag by die drie geboue.

Bron: Kapp, P.H. 1989. Die Geloftekerk. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 248–249.

Foto 15