Voortrekkermonument Winburg

Die monument staan op die plaas Rietfontein net suid van Winburg

Omdat Winburg so ’n sterk aanspraakmaker as standplaas vir die Voortrekkermonument was, het die Sentrale Volksmonumentekomitee besluit dat daar later op Winburg ’n kleiner Voortrekkermonument opgerig sou word. Hierdie belofte is nagekom toe die Sentrale Volksmonumentekomitee op 21 November 1952 die Vrystaatse Voortrekkermonumentkomitee, onder voorsitterskap van meneer NC Sadie, saamgestel het om hierdie taak uit te voer. Op 5 November 1952 het die Vrystaatse Provinsiale Administrasie die verantwoordelikheid vir die oprigting van die monument aanvaar en is ’n nuwe Vrystaatse Voortrekkermonumentkomitee, onder voorsitterskap van die Administrateur, meneer JWJC (Sand) du Plessis, saamgestel.

In die omgewing van Winburg, geleë in die hart van die Oranje-Vrystaat, het die Voortrekkers die grootste mate van eenheid bereik en is die Groot Trek staatkundig en kerklik georden. Daarbenewens was Winburg die eerste Voortrekkerdorp met ’n eie plaaslike bestuur. As standplaas vir die monument is ’n koppie op die plaas Rietfontein, net ten suide van Winburg, gekies. Rietfontein is die plaas waarop president MT Steyn, iemand wat die gees van die Groot Trek suiwer geadem het, op 2 Oktober 1857 gebore is. Die terrein, wat ongeveer 85 hektaar groot is, is deur die stadsraad van Winburg aan die Vrystaatse Voortrekkermonumentkomitee geskenk.

’n Prysvraag vir die ontwerp vir die monument is uitgeskryf en argitekte is uitgenooi om ontwerpe in te dien. Die prysvraag het ses en dertig inskrywings gelok. Die doeltreffende benutting van die terrein, die gebruik van ’n eietydse monumentale struktuur en rykheid aan simboliek sou uiteindelik die deurslag gee. Met hierdie onderliggende maatstawwe, is die eerste prys van R500 aan menere Hans Hallen en M Dibb, van Durban, en die tweede prys van R200 aan meneer EJ Bloem, van Kroonstad, toegeken.

Voortrekkermonument Winburg 2

Die dinamiek en die idee van stryd en rusteloosheid van die Trek word in die strewende omlyning van die suile uitgebeeld, terwyl die ruimtelike groepering van die pilare die ordeliewende gemeenskap voorstel.

Die argitek, Hans Hallen, het daarin geslaag om ’n monument te ontwerp wat anders is. Die ontwerp maak van gewapende beton in skulpvorm, die kenmerkende bouvorm van die twintigste eeu, gebruik. Die onderlinge verhouding van die struktuurelemente soos dit op verskillende tyde van die dag deur die son belig word, sorg vir ’n altyd dinamiese wisseling. Skakerings van beligting en gesigpunte vertiendubbel, namate tyd en ruimte vir die toeskouer verwissel. Die simboliek van die reusagtige betonsuile is kompleks. Die suile simboliseer die Trekke van Tregardt, Potgieter, Maritz, Retief en Uys. Terselfdertyd versinnebeeld die halfronde suilvorms, wat so beskermend teenaan en teenoor mekaar staan, die wa en laer, die seilsteke en die wakappe. Die sprong na sodanige selfstandige vorme vanaf die onvermydelike betonossewa en die marmerosse in ’n staties onbeweeglike laer, is groot en dien as onderskeidingsteken. Die opstygende krommings bo-aan die suile suggereer nie slegs die os nie, maar is sprekend van die beur vorentoe en boontoe na hoër ideale en die beskawing van die binneland. Die dinamiek en die idee van stryd en rusteloosheid van die Trek word in die strewende omlyning van die suile uitgebeeld, terwyl die ruimtelike groepering van die pilare die ordeliewende gemeenskap voorstel. Die skepping van ’n beskutte binneruim, met ’n bronsplaat in die fokale punt onder die sirkelvormige dakopening, skep ’n geleentheid om die sentrale plek van die Lig van Bo aan te dui. Die vorming van ’n intieme en beskutte ruimte tussen die vertikale vorms spreek ook van die rol van die vrou op die Trek. Ongeveer 3 m bokant die grond word die suile deur ’n waterbak verbind, van waar vyf geute na vyf wewers loop. Hierdie bak vorm die dak tot die beskutte binneruim en versinnebeeld die geloof van die Trekkers. Die aflei van die water na die vyf komvormige holtes is nie net simbolies van die Trek nie, maar is sprekend van die onrustige gees van die Trekkers en van hulle invloed wat verskillende landstreke deurvloei het. Die feit dat reënwater ook by die opvang en uitstorting van ’n lewegewende stroom betrokke is, onderstreep die landelike verbondenheid van die Voortrekkers.

Die eerste sooi van die Voortrekkermonument by Winburg is op 20 September 1967 deur die burgemeester van Winburg, dominee WIL Bosman, gespit. Op Saterdag, 16 Desember 1967 het sowat duisend mense vir ’n luisterryke Geloftefees op die monumentterrein saamgetrek. By hierdie geleentheid het die voormalige staatspresident, advokaat CR Swart, ’n gedenkplaat onthul en die hoofrede gelewer.

Die tender van die firma, Welkom-konstruksie (Edms.) Beperk, is vir die betonwerk aan die monument aangeneem, terwyl menere Michal S Zakrzewski en Vennote as raadgewende ingenieurs aangestel is. Aanvanklik het die gedagte ontstaan dat die monument sover moontlik van goud- en ysterdraende erts uit die Vrystaatse bodem opgerig moet word, maar uiteindelik is besluit om wit beton wat deur middel van ruwe houtvormwerk in seksies gegiet is, vir die monument te gebruik.

Die argitek het aanvanklik beraam dat die totale oprigtingskoste van die monument R49 000 sou bedra, maar die uiteindelike bedrag het op R61 445 te staan gekom. Danksy ’n bedrag van R3000 wat deur die Sentrale Volksmonumentekomitee beskikbaar gestel is, ’n skenking van R12 500 van die stadsraad van Winburg, ’n suksesvolle insamelingsveldtog deur die Vrystaatse Voortrekkermonumentkomitee en ’n rand-vir-rand-bydrae van die kant van die Vrystaatse Provinsiale Administrasie, kon die monument sonder enige skuldelas onthul word.

Die onthullingsplegtigheid het op 10 Oktober 1968 ’n hoogtepunt bereik toe die staatspresident, meneer JJ Fouché, om 16h05 ’n gedenkplaat in die binneruim en daarna die vyf suile onthul het deur die name van die Trekkerleiers uit te roep, waarna breë linte wat aan die suile vas was, afgegly en water uit elke suil se geut begin vloei het. Dit was duidelik dat die feesgangers die monument, wat aanvanklik vreemd voorgekom het, in sy rykdom aan en verskeidenheid van simboliek aanvaar het.

Digby die monument is ’n amfiteater met permanente sitplekke vir 9000 persone aangelê. Verder is die geboortehuis van president Steyn gerestoureer en het die Vrystaatse Museumdiens ’n Voortrekkermuseum naby die monument opgerig. Saam vorm hierdie strukture ’n treffende hulde aan ’n waardige voorgeslag.

Bron: Ferreira, O.J.O. 1989. Die Voortrekkermonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 117–119.