Die Bybelmonument is net buite Grahamstad, op die pad na Cradock, geleë

Die Bybelmonument is net buite Grahamstad, op die pad na Cradock, geleë

Die monument net buite Grahamstad is gebou op die plek waar die Uys-trek na bewering vertoef het. Jacobus Uys was 67 jaar oud toe hy saam met sy seun Piet Uys die Kaapkolonie verlaat het. Toe die Uys-geselskap verby Grahamstad trek, het Thomas Phillips ’n groot Statebybel namens die 1820-Setlaars aan hom oorhandig as blyk van die goeie verhoudinge tussen die twee gemeenskappe. Jacobus Uys se ontvangs van die Bybel word ook op die tweede paneel van die marmerfries in die Voortrekkermonument uitgebeeld. Die Bybel wat die hele trek in die wakis meegemaak het, kan vandag nog by die Voortrekkermonument besigtig word. Sy seun, Piet Uys (40) was bekend vir sy heldhaftigheid. Na Piet Retief se moord sterf Piet Uys in April 1838 saam met sy 15-jarige seun Dirkie tydens ’n skermutseling met Zoeloes by Italeni.

Met die oprigting van die Bybelmonument, net buite Grahamstad langs die huidige Cradockpad, is daar gepoog om blywende gestalte te gee aan die gebeure van April 1837, toe ongeveer 100 Britse Setlaars die laer van die Voortrekker Jacobus Uys besoek het. Uys en sy trekgeselskap was op pad na die Noorde en het net buite Grahamstad langs die huidige Cradock-pad uitgespan.

Foto 13

Een van die panele in die Voortrekkermonument

Die inwoners van Grahamstad het die gedagte gekry om, as blyk van hul hoë agting vir die vertrekkende Boere, ’n Bybel aan hulle te oorhandig. Op die plek waar die plegtigheid plaasgevind het, is ’n klipstapel op 16 Desember 1957 opgerig en is ’n komitee gestig – Riebeeck-Oos en die 1820-Setlaarsherdenkingskomitee. Hierdie komitee het spoedig bekend geraak as die Bybelmonumentkomitee, met die toenmalige goewerneur-generaal, doktor EG Jansen, en later sy opvolger, staatspresident CR Swart, as beskermheer.

Die monument is deur professor Thornton-White ontwerp en is so gebou om ’n geopende Bybel voor te stel. Dit is in sy geheel gebou van ongekapte Grahamstadse wildeklip, rooibruin van kleur, bonkig en ongerep, om die wondernatuur van God se skepping te weerspieël. Geen beitel is gebruik nie en die klippe is ingemessel soos hulle gevind is.

Die monument staan soos ’n oop boek. Elke deel is 5,5 m lank en 11 m van end tot end. Op elk van die twee oop bladsye is ’n reghoekige bronsplaat aangebring. Op die linkerplaat is daar afbeeldings van Thomas Philipps, wat die Bybel oorhandig het, WR Thompson, wat die toespraak gelewer het en Louis Meurant, wat die inskripsie in die Bybel uit Engels in Hollands vertaal het. Die regterpaneel bevat afbeeldings van die Voortrekkers Jacobus Uys, sy seun Pieter en laasgenoemde se eggenote, Alida Uys.

Op 13 Augustus 1962 is begin met die bouwerk wat binne tien weke voltooi is. Die ingenieur, meneer TR Morton, het met ’n magnetiese naald die uitsig van die monument bepaal – ’n rapsie oos van noord om so na moontlik die rigting te toon waarin die Voortrekkers getrek het. Rondom die monument is ’n halfmaan bome wat reeds in 1957 deur afstammelinge van die Voortrekkers en die Britse Setlaars geplant is. Na voltooiing van die monument is ’n ringmuur met ’n deursnee van 17 m van rotse en inheemse plante om die monument aangebring.

Op 17 Desember 1962 is die monument onder groot blyke van belangstelling deur staatspresident CR Swart onthul.

Na die amptelike onthaal in ’n plaaslike hotel is die verrigtinge in die namiddag voortgesit deur van die nasate van Jacobus Uys, Thomas Philipps en WR Thompson aan die staatspresident voor te stel.

Drie jaar na die onthulling van die monument is nog twee bronsplate aangebring wat op Van Riebeeckdag (6 April 1965) onthul is. Hierop word die bewoording van WR Thompson se oorhandigingsrede en Pieter Uys se antwoord daarop uitgebeeld. By dié onthulling het meneer CL Newton-Thompson melding gemaak van die feit dat sy vader, regter Newton-Thompson, gedurende die Simboliese Ossewatrek ook ’n Bybel aan die leier van die trek oorhandig het. Regter Newton-Thompson is toe deur doktor DF Malan versoek om namens die Engelssprekende Suid-Afrikaners ’n toespraak by die inwyding van die Voortrekkermonument te Pretoria in 1949 te hou. Die onthulling van die twee bronsplate is deur mevrou Joyce Newton-Thompson, weduwee van wyle regter Newton-Thompson, waargeneem. Die oorspronklike Uys-Bybel is in die Voortrekkermonumentmuseum te Pretoria in bewaring.

Die daarstelling van die Bybelmonument was ’n lewensideaal van wyle meneer Dirk JJ Pretorius, wat as sekretaris van die Bybelmonumentkomitee sy tyd en kragte geoffer het om dit te verwesenlik, en wat die stukrag agter die hele projek was.

Hierdie monument is ook die enigste in Suid-Afrika wat opgerig is om goeie gesindheid tussen Boer en Brit uit te beeld.

Bron: Opperman, A.J.P. 1989. Bybelmonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 68–69.