Antjie Scheepers

Antjie Scheepers-gedenkteken is op die terrein van die Hoërskool Ladybrand

Op die terrein van die Hoërskool Ladybrand staan ’n gedenkteken van gekapte klip met ’n eenvoudige, treffende inskripsie: Mag Antjie Scheepers ’n besieling vir die dogters van ons volk wees! Dit is een van die weinige monumente in Suid-Afrika wat ter ere van ’n bepaalde vrou opgerig is, waarskynlik omdat háár moed en deursettingsvermoë in die veelbewoë jare van die Groot Trek die verbeelding van haar volk aangegryp het. Die lotgevalle van die weduwee Antjie Scheepers is deur Louis Tregardt in sy dagboek opgeteken en het sodoende vir die nageslag bewaar gebly.

Anna Susanna Scheepers is op 26 Junie 1806 in die distrik Somerset-Oos gebore; sy was die tweede kind van Jacobus Johannes Scheepers en Johanna Jacomina van der Westhuizen. Na haar huwelik met die veeboer, Gerhardus Stephanus Scheepers uit Graaff-Reinet se omgewing, het hulle in die vroeë dertigerjare geleidelik noordwaarts getrek, en in 1835 saam met vier ander gesinne by die trekgeselskap van Louis Tregardt aangesluit en die Kaapkolonie verlaat.

In die omgewing van die Soutpansberge het die eerste groot slag Antjie Scheepers getref toe haar man op ’n soekekspedisie na die vermiste Van Rensburg-trek, vroeg in 1837 aan die koors beswyk het. Vir die res van die trek sou sy as hoof van die huisgesin vir nege kinders moes sorg en die boerdery behartig, ’n taak wat sy met groot moed en deursettingsvermoë verrig het. Uit die dagboek van Louis Tregardt blyk dit dat die mans haar met ridderlikheid bygestaan het as dit nodig was: hulle het hout vir haar hartbeeshuisie aangesleep, haar wa en watent herstel, vir haar skoene gemaak, asbossies verbrand vir loog sodat sy en die ander vrouens seep kon kook, en haar gehelp met trekosse op pad na Delagoabaai. Antjie Scheepers was egter allermins hulpeloos. Sy het mielies geplant, vir haar gesin ’n rondawel gebou en voorrade van die Swartes geruil. Met die trek berg-af na Delagoabaai was dit sy, Martha Tregardt en Breggie Pretorius wat ’n plek gevind het waar die waens berg af gekry sou kon word. Gebore en getoë in die pionierswêreld, was sy opmerksaam en op haar hoede vir gevaar. Verskeie kere was dit sy wat gewaar het as die beeste afdwaal of as daar leeus in die omgewing was.

Antjie Scheepers tree uit die dagboek van Louis Tregardt na vore as ’n besonder sterk figuur, ’n ware onverskrokke pionier. Nie slegs was sy fisies sterk nie – sy was een van die weinige volwassenes wat die trek oorleef het – maar sy het die geesteskrag gehad om die amper ongelooflike ontberings van die tog na Delagoabaai te oorleef.

Antjie Scheepers, vier van haar seuns en ’n dogter het die trek oorleef en het op 19 Julie 1838 met die skip Mazeppa – wat deur die Natalse Voortrekkers gestuur is om hulle te gaan haal – in Port Natal aangekom. Hiervandaan is hulle na Olifantshoek, in die omgewing van Uitenhage waar sy op 22 Julie 1844 met ’n wewenaar, Ignatius Marthinus Vermaak, getroud is. Op 6 Januarie 1846 is uit hierdie huwelik ’n seun, Kornelis Marthinus Vermaak, gebore. Na die dood van haar tweede man het Antjie by haar oudste seun, Cornelis Coenraad Scheepers, in die distrik Heilbron in die Vrystaat, gaan woon. Toe Cornelis na Vryburg verhuis, het sy haar intrek geneem by haar jongste seun, Kornelis Vermaak, getroud met ’n weduwee Anderson, in die distrik Ladybrand. Op hierdie plaas, Welgevonden, digby Ladybrand, is Antjie Scheepers op 29 Augustus 1878 op 72-jarige leeftyd oorlede.

Meer as sestig jaar lank het haar stoflike oorskot in ’n vergete graf op die plaas Welgevonden gerus. In die 1939 is haar graf egter ontdek en deur haar stiefkleinseun, Frederick Wilhelm Anderson, uitgewys. Doktor SH Pellisier, Direkteur van Onderwys in die Oranje-Vrystaat, het die leiding geneem om vir haar ’n monument te laat oprig, terwyl die landbouhuishoudskool vir meisies op Tweespruit dadelik die naam “Anna Scheepers-landbouhuishoudskool” aangeneem het. Op Ladybrand is ’n monumentkommissie waarin van Antjie Scheepers se afstammelinge verteenwoordig was, benoem. Geld is deur die leerlinge van skole oor die hele Vrystaat ingesamel en hoofde van skole is gevra om uit die dagboek van Louis Tregardt aan die leerlinge van Antjie te vertel. Die reaksie was verblydend, maar stadig. Omdat ’n geskikte terrein nie gevind kon word nie en weens die feit dat die lede van die monumentkommissie uit Ladybrand verhuis het, het twintig jaar verloop voor die monumentjie op die terrein van die Hoërskool Ladybrand uiteindelik opgerig is. Op Krugerdag, 10 Oktober 1963, het doktor SH Pellisier die onthulling waargeneem. Die stoflike oorskot van Antjie Scheepers is in ’n kissie geplaas en in die monument ingemessel. Op die graf op Welgevonden is ’n steen opgerig met ’n inskripsie wat hierdie feit vermeld. Gerhard Moerdijk was vir die ontwerp van die monument van gekapte klip uit die wit kranse van die berge om Ladybrand verantwoordelik. In die gedenksteen is ’n ronde bronspaneel wat ’n toneel uit die veelbewoë lewe van Antjie uitbeeld, naamlik  waar sy, Martha Tregardt en Breggie Pretorius aan die mens die plek aanwys wat hulle ontdek het waar hulle die waens die berg af kan kry. Laurika Postma het die paneel ontwerp en in brons onder haar toesig laat giet. Hierdie bronspaneel het £170 (R340) gekos en was reeds in 1947 gereed. Die klipkapper en bouer van die monument was AL Pike, van Ladybrand.

Die lewe van Antjie Scheepers is ’n spieëlbeeld van dié van honderde onbekende Voortrekkervroue wat deur die nageslag onthou en geëer behoort te word, nie slegs weens die ontberings en leed wat hulle so heldhaftig verduur het nie, maar ook veral vir die beskawende invloed wat hulle in ’n woeste, onbekende land uitgedra het.

Bron: Pretorius, J.C. 1989. Antjie Scheepers. In Afrikanerbakens, FAK: Aucklandpark, pp. 84–85.