Voor die stadhuis in Paul Krugerstraat, Pretoria

Voor die stadhuis in Paul Krugerstraat, Pretoria

Van die gevierde Voortrekkerleier en Kommandant-generaal, aanvoerder by Bloedrivier (sy grootste oomblik), Congella en Boomplaats (sy diepste vernedering), onderhandelaar by Sandrivier, waar hy die Britse erkenning van die onafhanklikheid van Transvaal verkry het, bestaan daar twee standbeelde: die een op sy geboorteplek, Graaff-Reinet, die ander op die plek van sy laaste rusplaas, Pretoria. Hy is op 27 November 1798 op Graaff-Reinet gebore en sterf op 23 Julie 1853 op Grootplaas, naby Pretoria, daar waar die water van die Hartbeespoortdam vandag uitstrek. Daar is hy ook begrawe, maar in 1891 in die Ou Begraafplaas, Pretoria, herbegrawe.

As Oosgrensboer het Pretorius, veral in die jare wat die Groot Trek voorafgegaan het, ’n leidende rol gespeel. Hy trek egter nie saam toe die boere in Graaff-Reinet se distrik in 1836 trek nie. Na sy besoek aan Natal in 1837 besluit hy om te trek.

Toe die nuus van die gebeurtenisse in Natal hom bereik, laat hy sy laer by die Modderrivier agter en snel die Voortrekkers in Natal te hulp. As bekwame militêr en strateeg beplan hy die aanval op Dingane se Zoeloe-mag deeglik, en as gelowige Christen voor hy die aflegging van ’n Gelofte aan.

By Bloedrivier op 16 Desember 1838 word die Zoeloe-mag onder sy leiding geknak en op 14 Februarie 1840 finaal verslaan.

Pretorius spel na die Trekkers se vestiging ’n belangrike rol om die onafhanklikheid van die Boere-emigrante in Natal te verseker, maar slaag nie daarin nie, enersyds vanweë die Britse oormag en andersyds omdat daar onder die Voortrekkeremigrante onenigheid oor die kwessie bestaan.

Hy verlaat Natal, omdat, soos hy self verklaar het, hy hom nooit aan Britse gesag sou onderwerp nie en gaan woon op sy plaas aan die Magaliesberge. Hy word spoedig weer opgeroep om die burgers te help om anneksasie noord van die Vaalrivier af te weer en al ly die Boere by Boomplaats ’n nederlaag, volhard Pretorius om deur onderhandelinge die Sandrivier-traktaat te laat teken waarvolgens onafhanklikheid aan die emigrante noord van die Vaalrivier toegestaan word.

Standbeeld van Pretorius, langs die hoofpad na Middelburg (Kaap), ongeveer 2 km vanaf Graaff-Reinet geleë

Standbeeld van Pretorius, langs die hoofpad na Middelburg (Kaap), ongeveer 2 km vanaf Graaff-Reinet geleë

Net noord van Graaff-Reinet, langs die hoofpad, staan die een standbeeld. Dit bestaan uit ’n borsbeeld wat op ’n wawiel rus, met ’n voetstuk daaronder, alles van graniet, die geheel omtrent vyf meter hoog. Volgens oorlewering, was dit die plek waar sy trek in Oktober 1838 bymekaar gekom het voor hulle die pad noordwaarts ingeslaan het om hulle landgenote in Natal te gaan bystaan. Skaars twee maande later het Pretorius en sy Wenkommando die Gelofte afgelê en Dingane se magte by Bloedrivier verslaan, wat tot vandag toe nog as die vervulling van die Gelofte herdenk word.

Die onthulling van die beeld by Graaff-Reinet het op 27 November 1943 plaasgevind, opgeluister deur ’n optog van waens en historiese voorstellings. ’n Mens kan seker aanvaar dat die idee om daar tot sy eer ’n monument op te rig in die Eeufeesjaar, 1938, ontstaan het. Die beeldhouer is Coert Steynberg. Die wawiel is simbolies van die Groot Trek wat vir Andries Pretorius daar begin het. Dit kan ook in verband gebring word met die woorde wat hy tot sir Harry Smith gerig het tydens sy vergeefse onderhandelinge met die Kaapse goewerneur daar in Natal: Eenmaal, Eksellensie, sal daar ’n wiel oor die wêreld rol wat vir u en vir my onkeerbaar is.

Die standbeeld in Pretoria is heelwat later opgerig, in 1955, tydens die eeufees van die hoofstad. Toe het die gedagtes teruggegaan na die man na wie Pretoria genoem is, Andries Pretorius, en die stigter van die stad, sy seun Marthinus Wessel Pretorius. ’n Komitee wat onder meer die kunstenaar JH Pierneef, die argitek AL Meiring en die historikus AN Pelzer ingesluit het, moes oor die onderwerp besluit. Die aangewese beeldhouer was Coert Steynberg. Die opdrag was ’n beeldegroep van Andries en sy seun Marthinus Wessel Pretorius. Die beeldhouer het verskillende modelle gemaak en verskillend groeperinge voorgestel en die komitee moes besluit. Een voorstelling was: Pretorius sittende op ’n stoel, sy hoed op sy knieë, en sy seun staande hiernaas. ’n Ander was twee ruiterbeelde langs mekaar soos vader en seun voortry. Die voorstelling van Pretorius te perd en Marthinus te voet kom ’n paar keer voor, een op ’n afstand van mekaar ongeveer aan weerskante van die ingang tot die stadhuis, nog een met Marthinus direk voor die perd asof hy hom voortlei, ’n ander die voetganger voor die voetstuk van die ruiterbeeld. Ten slotte is die voorstel van Coert Steynberg aangeneem. Hy skryf:

“Die standbeeld moes groot en hoog wees om nie deur die kolossale toring van die stadsaal verdwerg te word nie, en ook nie alleen omrede die begrip van Generaal, krygsman en Voortrekkerleier het ek generaal AWJ te perd voorgestel nie, maar ook vanweë die indrukwekkende en interessante ontwerp wat daardeur verkry kan word. President MW was meer ’n staatsman – daarom het ek nie daaraan gedink om hom ook te perd voor te stel nie. Aangesien die vader en seun gedurende verskillende tydperke hul spore gemaak het, het ek gevoel dat hulle nie bymekaar op dieselfde vlak gegroepeer kan word nie, maar wel op verskillende hoogtes – MW as stigter van Pretoria voor op die voetstuk en generaal AWJ as die persoon wat deur die stigter vereer word, agter op, maar hoër, op ’n ere-posisie.”

En daar staan hulle dan vandag: Andries Pretorius fier op ’n perd en MW Pretorius ’n hele ent daar voor met ’n watervywer tussen hulle. Die ruiterbeeld, twee maal lewensgrootte, in brons, op ’n hoë voetstuk van graniet, oorheers die plein voor die stadhuis. Die perd lyk vermoeid, die ruiter egter fier en regop, met sy pluiskeilagtige hoed op sy kop, net soos daar by Graaff-Reinet waar hy ook die ongewone hoofdeksel op het. Dit is in navolging van die bekende skildery wat daar van Pretorius bestaan. Die ruiter het die teuels in sy linkerhand, ’n geweer in sy regterhand met die loop wat skuins na onder wys, kruithoring agter die rug. Die beeld het £20 000 (R40 000) gekos. Op die ruiterbeeld se voetstuk staan slegs die volgende:

Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius 1798-1853.

Die onthulling van die beeldegroep het ingepas by Pretoria se eeufeesvierings. Dit geskied op 21 Oktober 1955, waargeneem deur kolonel IJ Meyer, ’n agterkleinseun van Andries Pretorius.

Bron: Spies, FJ du T. 1989. Andries Pretorius. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 173–175.

foto 11