Andries Potgieter

Borsbeeld van Potgieter op die Markplein op Zeerust. Die inlasfoto is van die Potgieterbeeld op die suidwestelike hoek van die Voortrekkermonument, Pretoria

Die Voortrekkerleier, Andries Hendrik Potgieter, wat op 19 Desember 1792 in die distrik Graaff-Reinet gebore is, het die Kaapkolonie teen die einde van 1835 verlaat.

Nadat hy, bygestaan deur Sarel Cilliers, die Matabele by Vegkop in Oktober 1836 verslaan het en in Januarie 1837 saam met Gert Maritz ’n suksesvolle strafekspedisie teen Mzilikazi gelei het, verlaat hy Thaba Nchu en vestig hom by die huidige Winburg. Teen die einde van 1837 het Potgieter en Piet Uys ’n tweede suksesvolle strafekspedisie teen Mzilikazi gelei. In April 1838 het hy en Piet Uys die noodlottige slag by Italeni aangevoer. Potgieter is deur ’n groep van die Trekkers vir die nederlaag verantwoordelik gehou. Hierna het hy Natal verlaat en hom langs die Mooirivier gaan vestig, waar hy Mooiriviersdorp, ook genoem Vryburg, gestig het. Die dorp is later, ter ere van Potgieter, tot Potchefstroom vernoem. In 1845 het Potgieter na Noordoos-Transvaal getrek, waar hy die dorp Andries-Ohrigstad gestig het in ’n poging om kontak met die Portugese hawens te maak en om buite die grense van die Britse invloedsfeer te leef. As gevolg van onenigheid tussen hom en JJ Burger, en ook die stryd teen malaria, het Potgieter en sy trek teen 1848 na die Soutpansberg verhuis, waar hy die dorp Schoemansdal gestig het.

Kort voor sy dood het Potgieter in die winter van 1852 ’n veldtog teen Sekwate gelei. Op 16 Desember 1852 is hy op Schoemansdal, naby Louis Trichardt, oorlede, waar hy ook begrawe is. ’n Grafmonument is in die kerkhof op Schoemansdal op 8 Desember 1938 deur die Sentrale Burgergraftekomitee in samewerking met die Schoemansdalse Geloftefeeskommissie opgerig. Die grafmonument is 2 m hoog.

Die regering van die ZAR wou Potgieter in 1891 in die Heldeakker herbegrawe, maar sy kinders het geweier, en op 10 Mei 1895 is ’n grafmonument ter ere van hom in die Heldeakker onthul. Die graf van Potgieter in die Heldeakker is egter nog leeg.

Aan die suidwestelike hoek van die Voortrekkermonument, Pretoria, is ’n 5,48 m hoë granietbeeld wat Potgieter voorstel, ontwerp deur die beeldhouer Frikkie Kruger.

Potgieter het ’n sterk persoonlikheid gehad en was selde sonder volgelinge. Sy veldtogte, veral teen die Matabele, het bewys dat hy ’n goeie militêre leier was. Hy was ’n rustelose pionier, wat sy aanhangers soos ’n aartsvader gelei het – dikwels sonder die hulp van ’n wetgewende liggaam.

Op 11 Maart 1967 is die borsbeeld van Potgieter, langs ’n bestaande Potgieter-gedenknaald op die Markplein op Zeerust, onthul. Die inskripsie by die borsbeeld lui:

Hoofkommandant Andries Hendrik Potgieter 1792–1852 het in samewerking met Gert Maritz die Matabeles van Silkaats by Mosega verpletterend verslaan op 17 Januarie 1837 en daarmee Zeerust en omgewing vir die beskawing oopgestel. Opgerig deur die Rapportryerskorps van Zeerust en die publiek. Onthul deur prof. C.H. Rautenbach op 11 Maart 1967.

Op die granietdenknaald, wat 3,66 m hoog is en in 1950 opgerig is, verskyn die woorde:

Ter herinnering aan Kmdt-Genl Potgieter 19 Desember 1792 – 16 Desember 1852.
Mede-grondlêer van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
Voortrekkerleier.
Oorwinnaar van Moselakatse.
Stigter van Potchefstroom.

Die Rapportryerskorps van Zeerust het die Volkspelebeweging opdrag gegee om die beeld te laat maak. Die bronsbeeld is anderhalf maal lewensgrootte en is deur die Pretoriase beeldhouer Johan Steynberg gemaak. ’n Replika is ook aan meneer BJ Vorster, toenmalige eerste minister, in Pretoria oorhandig.

Die onthulling is deur professor CH Rautenbach, rektor van die Universiteit van Pretoria, waargeneem. Doktor JF du Toit, voorsitter van die Rapportryerskorps van Zeerust, het in sy toespraak ’n beroep op die volk gedoen om hierdie beeltenis van Potgieter te aanvaar, aangesien daar geen foto van hom bestaan nie.

Nasate van Potgieter het ook die onthulling bygewoon. Die vlag by die geleentheid gebruik, is die Potgietervlag wat in die Voortrekkermonument, Pretoria, gehuisves word.

Bron: Van Heerden, M. 1989. Andries Potgieter. In Afrikanerbakens, FAK: Aucklandpark, pp. 160–161.