Geloftedag, 16 Desember
Sedert 1838 het Afrikaners plek-plek 16 Desember as ’n dankdag onderhou. Die Uniegrondwet van 1910 het 16 Desember as ’n openbare vakansiedag verklaar. Eers na die 1914-Rebellie is die dag landswyd herdenk. Geloftedag of Dingaansdag soos dit destyds bekend was, het ’n belangrike rol begin speel in die kulturele opbou van die Afrikaner. Na 1994 is die dag se naam verander na Versoeningsdag. Ten spyte van pogings om die dag nuwe inhoud te gee, het Afrikaners landswyd steeds in groot getalle getrou aan die oorspronklike bedoeling, Geloftedag, bly herdenk.

 

Die Gelofte

Die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 is een van die belangrikste gebeure in die Afrikaner se geskiedenis. Die Voortrekkers was bewus dat hulle ’n klein groepie mans (464) is, teenoor ’n mag van 16 000 Zulu’s. Hulle het besef dat hulle nie met eie mag en krag oorwinning kan behaal nie, maar totaal afhanklik is van die Here se genade om hulle in die stryd te bewaar. Vanaf 9 Desember 1838 het hulle elke aand die Gelofte herhaal waarin hulle nie net hul afhanklikheid teenoor die Here bely nie, maar ook beloof om die eer aan die Here alleen te gee. Onder in die senotaafsaal is die woorde: “Ons vir jou Suid-Afrika”. Elke jaar op 16 Desember, presies om 12 uur, val ’n sonkol op die woorde. Duisende Afrikaners kom jaarliks op 16 Desember in die Monument byeen om die Gelofte te herdenk. Die hoeksteen van die Voortrekkermonument is in 1938 gelê en die monument is in 1949 ingewy.

My broeders en mede-landgenote,
hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde,
om ’n gelofte aan Hom te doen,
dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee,
ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag,
soos ’n Sabbat sal deurbring,
en dat ons ’n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag
en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hul met ons daarin moet deel
tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.
want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur
die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.

 

Die ossewa

Die ossewa is een van die bekendste simbole in die Afrikaner se kultuur. Baie kultuurorganisasies het ’n ossewa of ’n wawiel as deel van hul organisasie se simboliek. Enersyds was die wawiel sterk genoeg om dit te dra wat vir die Voortrekkers kosbaar was, maar andersyds ook sterk genoeg om nuwe spore oor berge, vlaktes en deur riviere te trap. Die ossewa was vir die Voortrekkers ’n huis, maar ook beskerming in die veld. Talle idiomatiese uitdrukkings in Afrikaans hou verband met ’n ossewa. Die foto is van die tweede oudste ossewa in die land wat ook ten tye van die Groot Trek gebruik was. Die ossewa kan in die Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg besigtig word.

 

Die Statebybel

Die Statebybel was die Voortrekkers se kosbaarste besitting. Die groot swaar Bybel het ’n ereplek in die wakis gekry. Familiename, doopdatums en sterfdatums is sorgvuldig opgeteken. Oggendgodsdiens en aandgodsdiens was deel van die Voortrekkers se daaglikse roetine.

 

 

 

Die vlag van die Republiek Natalia

Die vlag van die Republiek Natalia was vanaf 1939 tot 1945 die amptelike vlag van die Voortrekkerrepubliek Natalia. In 1931 het die vlag die amptelike vlag van Die Voortrekkers geword.

 

Die Potgietervlag

Die Potgietervlag is deur die Trekleier Andries Hendrik Potgieter gebruik as sy amptelike vlag. Met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument is die vlag gebruik om die hoeksteen voor onthulling te bedek.

 

 

Piet Retief se tafel

Piet Retief se tafel wat na sy dood in Dingaanstat gevind is, was die eerste onderhandelingstafel van Afrikaners. Die tafel is ’n simbool van die Voortrekkers wat nie soos die koloniale moondhede grond wou steel en ontneem nie, maar dit vreedsaam en wettig wou bekom. Die tafel kan besigtig word in die Geloftekerk in Pietermaritzburg. Retief se waterbottel, snuifdosie en gebedeboek is saam met die traktaat gevind.