Groot Paardevlei, Somerset-Wes (Geen toegang)

Parel Vallei, Somerset-Wes
January 31, 2018
Die Ou Ned. Geref. Kerkgebou, Somerset-Wes
January 31, 2018

Groot Paardevlei • A.F. Trotter: Old Cape Colony

Regs van die ou Firgrove-pad, enige kilometers nadat dit in die buitewyke van Somerset-Wes uit die pad na Stellenbosch gedraai het, lê daar teen die helling van die heuwel die groot gebouekompleks van die plaas Groot Paardevlei. Ook hierdie plaas, aanvanklik 34 ha groot, het aan Frans van der Stel behoort. Dit is in 1702 aan hom toegeken onder die naam De Paarden Stal en dit moes aan die reedsvermelde Parel Vallei gegrens het. Dit is onwaarskynlik dat hy hier ’n huis opgerig het, maar omdat hy ’n groot voorliefde vir visvang gehad het, word dit vermoed dat hy die vlei wat laer af geleë is, dieper gemaak het en hier met visteelt geëksperimenteer het.

In 1717 is dit saam met Parel Vallei aan Nicolaas van den Heuvel verkoop en tot 1748 bly die twee plase in besit van dieselfde eienaar. Daarna verwissel dit kort-kort van eienaar totdat die bekende Martin Melck, baas van Elsenburg, dit in 1760 koop. Na sy dood behou sy weduwee, Maria Rosina Loubscher, die plaas tot 1794.

Martin Melck was destyds die rykste burger aan die Kaap en hy het Groot Paardevlei nie onbeboud laat lê nie. Om die visteelt te bevorder, het hy die reeds vermelde vlei nie slegs laat skoon en dieper maak nie, maar om dit van ’n konstante voorraad water te voorsien, het hy dit deur middel van ’n sloot met die Lourensrivier verbind. Hy moes egter jammerlik by die Politieke Raad kla dat “sommige vuijl aardigen menschen” die vis vang, voordat hulle kans gehad het om te teel. Om dus te verhoed “de queekerij te ruineren” versoek hy die Raad om deur ’n plakkaat die vang van vis in die vlei te verbied.

Daar bestaan ook weinig twyfel dat Martin Melck die huis en buitegeboue opgerig het, want die vorige eienaars het óf op Parel Vallei gewoon óf die plaas vir so ’n kort rukkie besit dat hulle hoogstens ’n beskeie woning kon gebou het. Waarskynlik was die huis oorspronklik T-vormig. Die jaartal 1782 op die agtergewel dui egter daarop dat Melck se weduwee die jaar na sy dood die huis in ’n H-vorm verander het deur die toevoeging van die westelike deel.

Na die dood van Maria Rosina Loubscher het die plaas kort-kort van eienaar verwissel totdat dit teen die einde van die 19de eeu in besit van die Scholtz-familie gekom het. Aan die begin van hierdie eeu merk Alice Trotter spottend op dat daar uitvoerige verbeteringe aan die huis gemaak word. Die grasdak is deur ’n sinkdak vervang en om dit te doen is die agtergewel getop en die mure ietwat verhoog. Later sou die gewel herstel word en die huidige voorgewel is ’n replika daarvan. Die houtwerk van die voorste fasade is egter nog oorspronklik, nl. die twee enkel en vier dubbele vensters met luike en die bo- en onderdeur met sierlike panele. Ook die stinkhoutmuurkas in die agterkamer en die groot Bataafse teëls in die voorkamer is oorspronklik.

Vanaf die stoep met sy stoepbanke aan weerskante is daar ’n onvergelyklike uitsig op die wit sandduine en Valsbaai.

Die huis is in 1968 deur Historiese Huise van Suid-Afrika Bpk. aangekoop.

(Geproklameer 1970)

 

Groot Paardevlei • A.F. Trotter: Old Cape Colony

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 100-101.