Groot Constantia, Constantiavallei

Van Riebeeck se heining, Wynberg
December 13, 2017
Hoop op Constantia
December 13, 2017

Die weg na Constantia draai by Wynberg regs en gaan dan die Constantiavallei in, een van die bekendste skilderagtigste en historiese valleie van Suid-Afrika. Hier pryk die keur van ou Kaaps-Hollandse gewelhuise waarvan die herehuis te Groot Constantia egter die kroon span.

Op 31 Julie 1685 het kommissaris Hendrik Adriaan van Reede aan Simon van der Stel in hierdie vallei ’n plaas groot 762 hektaar geskenk. Dit sou weldra as Constantia bekend staan. Oor die oorsprong van die naam is daar geen sekerheid nie. Tot die oorspronklike skenking is van tyd tot tyd toevoeginge gemaak – Witteboomen, die Zeekoeijenvalleij, wat die teenswoordige Wynberg ingesluit het en ooswaarts tot by Valsbaai gestrek het, en, uiteindelik, die reg om in die Steenbergen te “weijden, ploegen, zaaijen en vissen”.

Die middelpunt van hierdie groot plaas was die huis Constantia. Met R20 000 wat Simon van der Stel van sy seun Willem Adriaan geleen het, het hy waarskynlik onmiddellik na verkryging van die plaas die huis begin bou.

Op Constantia het Simon binne tien jaar meer as 8 000 bome, waaronder meer as die helfte vrugtebome, geplant, terwyl die wynbou sy spesiale aandag geniet het. Die reisiger Valentyn praat dan ook van die “weergaloolu groote en lekkere vrugten”, van “een uitnement groot en schoon steenen persthuis” buite, en van die rooi Constantiawyn wat teen 80 riksdalers per lêer verkoop word en nie vir die Lachryma Christi van Italië hoef onder toe doen nie. Hy noem die plaas self “een ongemeen heerlijk beplante plaats, op welke men het kleurlijkste heefl, dat aan die Kaap te vinden is, en waar op veel boeren zouden kunnen bestaan”.

Na sy aftrede as goewerneur in 1699 het Simon van der Stel hom permanent op Constantia gaan vestig tot sy dood in 1812. Gedurende hierdie jare was die plaas en huis dikwels die middelpunt van onthale waarheen al die hoogste amptenare en besoekers uitgenooi is.

Vier jaar na Simon se dood is die plaas in twee onderverdeel. Honderd twee-en-neëntig hektaar, insluitende die herehuis, het in besit van die bekende Oloff Bergh gekom en het mettertyd as Groot Constantia bekend geword.

Die resterende 570 ha, voortaan Bergvliet genoem, is aan Pieter de Meyer verkoop. Van laasgenoemde is met verloop van tyd agtereenvolgens afgesny Klein-Constantia, Hoop op Constantia, Buitenverwachting, Witteboomen, Silverhurst, e.s.m.

Na die dood van Bergh het Groot Constantia agtereenvolgens in besit van Carel George Wieser, Jacobus van der Spuy en Jan Serrurier gekom. Laasgenoemde het dit in 1778 in ’n taamlik verwaarloosde toestand vir 60 000 Kaapse guldens aan Hendrik Cloete verkoop.

Van 1789-1792 het Cloete die dienste van Thibault en Anreith verkry om die huis en wynkelder in die huidige vorms te herbou. Thibault was vir die ontwerp van die huis en ander geboue verantwoordelik, terwyl Anton Anreith die figuur wat Oorvloed voorstel, in die nis van die voorgewel gemaak het asook die bekende Ganymede kroonlys van die wynkelder.

Constantia het vir geslagte in besit van die Cloetes gebly en sy wyne het binne sowel as buite Suid-Afrika groot bekendheid verwerf. Vir die gebruik van belangrike besoekers en as geskenke aan oorsese vorste het eers die ou Kompanjie en daarna die Britse owerheid die eienaars verplig om ’n kwota van hul produksie teen ’n vasgestelde prys aan hul te lewer. Gedurende die verblyf van Napoleon Bonaparte op St. Helena is sy huishouding gereeld van Constantia wyn voorsien.

Die Constantia landgoed het uiteindelik in besit van die Staat gekom. In 1925 is die huis bykans totaal deur brand verwoes. Slegs die mure het bly staan. In opdrag van die regering het die bekende argitek F.K. Kendall dit egter noukeurig gerestoureer en dit staan tans daar nie slegs as ’n model van die ou Kaapse boukuns nie, maar as ’n simbool van die wellewendheid van sy eertydse bewoners.

(Geproklameer 1936)

 

M.T. Milbert • Groot Constantia 1812 • William Fehr-versameling
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 50.

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 50-51.