Nog op ons boekrak: Junie 2021
June 29, 2021
Liedjieskrywer – Rudi Claase
June 30, 2021

deur Daantjie Dinamiet

Groep Twee was Suid-Afrika se suksesvolste sangpaar in die 1960’s en 1970’s en die enigste Afrikaanse sangpaar wat drie treffers op Springbok Radio se Top 20 gehad het.

Gert van Tonder, wat deurentyd deel van Groep Twee was, is op 29 Junie 1941 op ’n bosboustasie tussen George en Knysna gebore en het aan die Hoërskool Outeniqua op George gematrikuleer. Hy het van jongs af in musiek belanggestel en nie net in die skoolkoor gesing nie, maar ook trekklavier gespeel. Hy het in 1960 as bedryfsassistent by die SAUK in Durban begin werk en die Volkssanggroep help stig.

Josias (Sias) Reinecke was Gert se sangmaat vir die grootste deel van Groep Twee se bestaan. Hy is op 23 April 1940 in Johannesburg gebore en het aan die Hoërskool Fakkel gematrikuleer. Hy het in 1959 by die SAUK in Johannesburg aangesluit en het kitaar en mondfluitjie in ’n boereorkes gespeel.

Toe Sias in 1963 saam met die bekende omroeper Eric Eagan vir programwerk Durban toe gegaan het, het Sias en Gert mekaar ontmoet. Eric, Sias en Gert het oor musiek gesels en Gert het belowe om kontak met Sias te maak as hy weer in Johannesburg sou kom. In September daardie jaar is Gert na Johannesburg verplaas, en toe hy een aand by Sias gekuier het, het hy sy kitaar saamgeneem en hulle het musiek gemaak. Hulle het gou besluit om ernstig te begin oefen en hulself Folk Two genoem. Hulle het ’n paar Afrikaanse liedjies opgeneem en ’n oudisieband vir ’n platemaatskappy voorgelê, net om te hoor dat die maatskappy nie in Afrikaanse musiek belanggestel het nie.

Die naam Folk Two was egter ’n probleem, aangesien folk-musiek destyds onderwerpe aangeroer het wat vir konserwatiewe Afrikaners onaanvaarbaar was, onder meer diskriminasie en apartheid. Michael Meyer van Springbok Radio het met die idee van die naam Groep Twee vorendag gekom, en hulle het hul naam verander. In April 1966 is Nick Taylor gevra om “Die oukraalliedjie” vir die SAUK se transkripsiediens met die oog op uitsending op te neem. Mike Heine van Springbok Radio was die seremoniemeester van ’n verskeidenheidskonsert waarby hulle gesing het, en was so beïndruk dat hy hulle dadelik na Louis Combrinck en Anton de Waal van EMI verwys het vir ’n moontlike platekontrak. Die bekende omroeper Nic Swanepoel het hul opname van “Die oukraalliedjie” in sy radioprogram Ateljee 66 gespeel nog voordat dit op plaat uitgereik is, en skielik was dit in groot aanvraag. Hulle het hierdie snit, met “Die padda wou gaan opsit” op die keersy, op ’n kortspeler opgeneem. Op 10 Maart 1967 het “Die oukraalliedjie” in die dertiende plek tot Springbok Radio se Top 20 toegetree; die rekord wat hierdie liedjie opgestel het, naamlik die hoogste plek waar ’n Afrikaanse liedjie tot die Top 20 toegetree het, is nooit verbeter nie. Hulle het die derde plek gehaal en vyftien weke lank op die Top 20 gebly. Toevallig was die Boet van Wyk-orkes se opname van “Oliekolonie”, ’n liedjie wat hulle later sou sing, terselfdertyd op die Top 20. Min Shaw het “Die oukraalliedjie” self in Junie 1966 vir haar debuutalbum opgeneem, maar Groep Twee se opname was meer suksesvol, en meer as 50 000 eenhede elk is van Groep Twee se kortspeler en die daaropvolgende langspeelplaat verkoop.

In 1968 het hulle vier liedjies , onder meer “Mangwane mpulele” en hul eie komposisie, “Little go go girl”, by die Abbey Road-ateljees in Londen, opgeneem. Dit was dieselfde ateljee waar The Beatles hul opnames gemaak het. Hulle het kort daarna die Midem-toekennings in die Franse stad Cannes ontvang vir die Suid-Afrikaanse kunstenaars van wie die meeste plate verkoop is. Tydens hierdie geleentheid het hulle vir die eerste keer met televisie kennis gemaak toe hulle saam met die orkes van Frank Pourcel gesing het. Hulle het in dieselfde jaar as gaskunstenaars in die rolprent Jy is my liefling, met Franz Marx en Min Shaw in die hoofrolle opgetree en die Günther Kallmann-koor op hul konserttoer deur Suid-Afrika vergesel. Dit het na die begin van die einde van Groep Twee gelyk, aangesien Sias met twee van die vroulike koorlede wat in Suid-Afrika agtergebly het, bevriend geraak het. Hulle drie het die groep The Treble Aires, gestig, en Gert moes skielik ’n nuwe sangmaat kry.

Eddie Trautmann het Sias se plek ingeneem, en hulle het saam twee langspeelplate opgeneem. Die titelsnit van die tweede album, “Die bosveld-môredou”, is deur die SAUK verbied. Hulle het ook ’n liedjie wat Hein Toerien na aanleiding van die Australiese krieketspan se toer deur Suid-Afrika geskryf het, naamlik “Daar kom die Ali Bacher”, gesing. In 1971 is Eddie egter in ’n motorongeluk oorlede, en The Treble Aires, wat nie suksesvol was nie, het ontbind.

Sias het hom weer by Gert aangesluit, en Hein Toerien het vir Gert ’n kortspeler van die sanger Udo Jürgens gebring, waarvoor hy Afrikaanse woorde geskryf het. Hulle het die Afrikaanse weergawe ingestudeer en dit tydens konserte begin sing. Lance James, wat in die SAUK se diskoteek gewerk het, het die sagteplaat-opname van dié liedjie, “Daar’s niks soos ware liefde”, gehoor, en wou dit opneem indien Groep Twee dit nie sou doen nie. Albie Venter, die platebaas van Brigadiers, het gedink Groep Twee se tyd was verby, en wou hulle saam met Anita Briel, die dogter van oom Frans en tant Sannie Briel, in ’n nuwe groep opneem. Eers nadat Lance vir Albie gebel het om te vra of hy “Daar’s niks soos ware liefde” kon opneem, het Albie vir Groep Twee toestemming gegee om dit op te neem. Op 27 Augustus 1971 haal Groep 2 die Top 20 op Springbok Radio met hul opname, dit bereik, soos “Die oukraalliedjie”, die derde plek en bly agttien weke lank, destyds ’n rekordgetal vir ’n Afrikaanse liedjie, op die treffersparade. Hierdie rekord is in 1983 deur Lloyd Ross se tema uit die televisiereeks Vyfster verbeter. Groep Twee se laaste toetrede tot Springbok Radio se Top 20 was glad nie so suksesvol nie; op 17 November 1972 het “Dink jy darem nog aan my” in die twintigste plek toegetree maar die volgende week uitgesak. Hulle het ook die liedjie “U is ons ster”, waarvoor Gert die woorde geskryf het, opgeneem, maar die SAUK het dit verbied.

In 1974 het Groep Twee hul tiende bestaansjaar in die musiekbedryf gevier met die album Laat my weet, waarvan die titelsnit heelwat radiolugtyd gekry het. Gert het ook Afrikaanse woorde vir Kevin Johnson se liedjie “Rock and roll (I gave you all the best years of my life)” geskryf. Die resultaat, bekend as “Ons beste jare”, was ’n outobiografiese vertelling van Groep Twee se verhaal. Hulle het kort daarna besluit om te ontbind, maar in 1980 het hulle weer ’n laaste opname gemaak. Toe die Britse Leeus in Suid-Afrika kom toer het, het André Viljoen die liedjie “Pale toe” geskryf en Groep Twee het dit opgeneem, met “Noord-Transvaal”, geskryf deur André Viljoen en die bekende Boereorkesleier Nico van Rensburg op die keersy.

In 1972 het Sias sy eerste tree as solokunstenaar gegee toe hy sy debuutalbum, My geskenk aan jou, vrygestel het. Die groot treffer vanaf hierdie album was “Die seewind bring heimwee”, geskryf deur Hansie Roodt en André Viljoen. In 1977 het sy tweede album, Klein Karoo, gevolg, en veral die titelsnit was ’n groot treffer. Twee jaar later het hy met Joanna Field saamgespan vir hul duetalbum, Want ons is bymekaar. Onder die groot treffers op hierdie album was “Tesame” en “Waarom is maar net ’n woord”. In 1980 het sy volgende soloalbum, Ek en my kitaar, gevolg. Die titelsnit was ’n treffer, maar ’n ander snit het onverwags gewild geword. “Jean-Marie” en “Sproetjies” is op een kortspeler uitgereik, en die platemaatskappy het daarop aangedring dat “Jean-Marie” die treffer sou wees. Een aand op die televisieprogram Platepraatjies het Johan Stemmet die solus-sewe gespeel, maar die plaat het vasgehaak. Hy het toe die plaat omgedraai en “Sproetjies”, waarvan Gert van Tonder die Afrikaanse woorde geskryf het, gespeel. Dit het dadelik die grootste treffer van Sias se loopbaan geword, en hoewel dit Springbok Radio se Top 20 net-net misgeloop het, was dit die treffer van die jaar op Edwill van Aarde se radioprogram Afrikaanse Treffers. Die liedjie was trouens so gewild dat die langspeelplaat Ek en my kitaar heruitgereik is met “Sproetjies” as titelsnit.

In 1982 was André Viljoen en advokaat Retief van Rooyen twee van die stigters van die platemaatskappy Decibel, en Sias se volgende langspeelplaat, Meisie, was die eerste album wat vrygestel is. Hierdie album het die treffers “Parstyd in die Boland”, “Wie sal kom nagsê”, “Sing ’n lekker liedjie” en “My langvlegselnooi” opgeneem. Niemand sou egter kon dink dat dit sy laaste album sou wees nie. Op 8 Oktober 1982, die dag nadat hy op die dorp Amersfoort in Mpumalanga opgetree het, is Sias in die ouderdom van 42 jaar aan ’n hartaanval oorlede.

Gert het die aanbieder van die televisieprogram Wielie Walie geword, en in rolprente, onder meer Die rebel, gespeel. Hy het die woorde van Groep Twee-treffers soos “Ek is lief vir die wêreld”, “Jakkals en wolf”, “Haas Das se nuuskas”, “Ons beste jare” en “Mooifontein” geskryf, maar ook woorde vir ander liedjies soos “Lied van die Boland” van die A Capella-koor, “Woorde” van Amanda Luyt, en “Sproetjies”. Hy het ook ’n solo-opname gemaak van “Jy is so wonderlik”, die Afrikaanse weergawe van Roger Whittaker se treffer “The last farewell”, waarvoor hy die Afrikaanse woorde geskryf het. In 1984 het Gert met Jan Grové, wat voorheen met Mynie Grové getroud was en Ook deel van die sangpaar Tony en Jan was, saamgespan en die album Onthou jy my? vrygstel. Die treffers vanaf hierdie album was “Lola” en “’n Lekkerliedjielewe”. Verder is sy stem in die oorgeklankte televisiereeks Goeiemôre Alaska gebruik.

In 1992, tien jaar na Sias se dood, het Decibel ’n versamelalbum, Sias en Gert, op CD en kasset uitgereik; dit het Groep Twee se grootste treffers bevat, asook Sias se solotreffers en vier snitte wat Gert vir hierdie album opgeneem het, naamlik “Melodie van liefde”, “Vertel my”, “Kom dans met my” en Gert se grootste solotreffer, “Die lewe is mooi”. Die bekende musiekpromotor Lydia Winchester, wat destyds verbonde aan Decibel was, beskou laasgenoemde as een van haar groot gunstelingliedjies. Gert het ook die album Herleef Groep 2 met Gert van Tonder en vriende vrygestel, waarop hy duette van Groep Twee se liedjies en Sias se solotreffers saam met hedendaagse kunstenaars soos Arno Jordaan, Gerhard Steyn, André Schwartz en Anton Botha opgeneem het. Die hoogtepunt was sy opname van “Die padda wou gaan opsit” saam met Snotkop.

Groep Twee het sonder twyfel ’n onuitwisbare indruk op Suid-Afrikaanse musiek gemaak, en die woorde uit hul treffer “Ons beste jare”, “Al ons beste jare sing ons liedjies vir ons land, sing ons Afrikaanse liedjies met ‘n nuwerwetse klank,” was die waarheid.