Lutherse Kerk, Martin Melck-huis en Kostershuis
December 12, 2017
Die Burgerwaghuis
December 12, 2017

Bokant die deftige Seestraat (Strandstraat), waar vandag nog die Koopmans-De Wet-huis en die unieke groep Lutherse kerkgeboue geleë is, het reeds in die 17de eeu Heerestraat (Kasteelstraat), Rijgerstraat (Kortmarkstraat), Olifantstraat (Langmarkstraat) en Tuinstraat (Kerkstraat) ontstaan. Hier iewers in Tuinstraat was toe nog die ingang tot die Kompanjiestuin, terwyl daar aan die bo-end van laasgenoemde drie strate op heel natuurlike wyse ’n markplein ontstaan het. Waarskynlik was dit die Kompanjie wat die eerste sy groente vanuit sy aangrensende tuin hier vir verspreiding en bemarking byeengebring het. Boere en vryslawe het spoedig sy voorbeeld gevolg en hulle produkte met ossewaens, eenperdekarre en stootkarretjies hierheen gebring sodat die markplein ’n skilderagtige groentemark geword het onder die skaduwee van ’n kleurryke verskeidenheid sonsambrele en ander beskuttings. Hier, net soos op die parade, was ook een van die fonteine of pompe vanwaar die stadsbewoners hul water gehaal het.

Geleidelik het geboue rondom die plein verrys. Aanvanklik was dit gewone woonhuise met enkelverdiepings, grasdakke en gewels, maar toe die plein mettertyd die middelpunt van die stadsadministrasie en die maatskaplike lewe geword het, is die eenvoudige huise deur sierlike en elegante geboue vervang. Die eerste van hierdie geboue was die pragtige ou Burgerwag- en Raadshuis waaraan die geskiedenis van die Groentemarkplein dan ook onafskeidbaar verbonde is.

Teen 1840 was byna al die enkelverdiepinggeboue rondom die plein deur hoër geboue vervang. Aan die regterkant van die Burgerwaghuis was ’n dubbelverdieping met ’n kroonstuk wat met reliëfwerk versier was. Links daarvan was ook ’n dubbelverdiepinghuis met ’n dakkamer en drie beelde daarop. Die ganse suidekant van die plein is deur ’n dubbelverdiepinggebou met platdak afgesluit.

Die Groentemarkplein self was ’n kaleidoskoop van die stadslewe. Allereers was dit die hart van die sakelewe waar daar gekoop en verkoop is. Waens en karre te huur het hier gestaan en die munisipale regulasies het die gelde offisieel vasgelê: 10c per wavrag vir ’n halfmyl (792 m) en 7½c per karvrag vir ’n halfmyl.[1] Aan die suidwestekant van die plein het ook die geskoolde werkvolk, boodskappers en draers gewag om gehuur te word. Laasgenoemdes se lone is eweneens deur regulasie vasgestel: 2c om ’n brief of pakket wat nie meer as 50 lb. (22,7 kg) geweeg het nie, ’n halfmyl te dra en dubbel die som vir ’n myl (1,6 km). Later in die dag en teen die aand, as die gewoel op die plein bedaar het, het dit die toneel geword van deftig geklede burgers met hul swierig getooide dames en van dekoratiewe draagstoele waarmee besoek afgelê is.

Aan die begin van ons eeu het die Plein geleidelik sy kleurrykheid verloor. Met die oprigting van die nuwe Stadsaal teenoor die Parade het die groenteverkopers hulle aktiwiteite daarheen verskuif en met die koms van die motor het hierdie ou historiese plein ’n harde, onsimpatieke parkeerterrein geword. Onlangs egter het die Stadsraad die lofwaardige stap gedoen om parkering daarop te verbied en iets van sy vroeëre, rustige atmosfeer daaraan terug te gee.

(Geproklameer 1961)

 

Sir Charles D’Oyly • Groentemarkplein 1832 • Staatsargief, Kaapstad

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 29-30.

 

[1] Bird, W.W., On the State of the Cape in 1822.