Groenbergskool, dist. Wellington

Blokhuis, Wellington
January 19, 2018
Die Ou Kerk-museum, Tulbagh
January 19, 2018

Ongeveer ag km van Wellington in die rigting van Hermon, digby die teerpad, is die plaas Welbedacht geleë. Binne die grense van hierdie plaas op ’n omheinde stuk grond staan die ou Laerskoolgebou Groenberg met ’n woonhuis daar naasaan. Aan hierdie ou skool en woning is die naam van C.P. Hoogenhout, een van die belangrikste figure in die eerste fase van die Afrikaanse Taalbeweging, onafskeidelik verbonde.

C.P. Hoogenhout het in 1860 in Suid-Afrika aangekom en het naby die Paarl gaan skoolhou, waar hy kennis gemaak het met Arnoldus Pannevis. Ses jaar na sy aankoms is die Groenbergskool opgerig en op 3 Augustus 1874 is hy as onderwyser hier aangestel. Die skoolgeboutjie het toe uit drie vertrekke bestaan – een wat as klaskamer gebruik is en twee wat as woning vir Hoogenhout en sy vrou gedien het. Eers in 1878 is die onderwyserswoning langsaan voltooi en kon hy sy intrek daarin neem. Hoogenhout het tot Desember 1908 onderwys gegee.

Hoogenhout het al in 1873 in die openbaar begin werk vir die erkenning van Afrikaans veral as Bybeltaal en skooltaal, maar baie van sy belangrike werk het hy gedoen terwyl hy in die ou skooltjie self gewoon het en daarna. Met die perd en “treppie” het hy van Groenberg gereeld Paarl toe gery om die voorstanders van Afrikaans aldaar te ontmoet. Met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 word hy gekies tot voorsitter daarvan om aldus vanuit die Groenbergskool die amptelike leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging te word. Hier skryf hy ook onder andere sy “Gesprekke tussen Oom Jan Vasvat en Neef Daantjie Loslaat” vir De Zuid-Afrikaan, sy bydraes vir Di Patriot, sy deel van die Geskiedenis van ons Land in die Taal van ons Volk (1877) en sy Eerste Afrikaanse Printjies Boeki vir Soet Kinders, deur Oom Jan wat Versies maak.

In hierdie skool moes Hoogenhout ook die gramskap, verwyte en dreigemente van andersdenkendes sowel as van mense onder wie se gesag hy gestaan het, verduur.

Afgesien van sy verbintenis met C.P. Hoogenhout en die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, is hierdie skooltjie vir presies ’n eeu as plaasskool gebruik en as sodanig dien dit as sigbare getuienis van ’n ou stelsel wat oneindig veel vir ons onderwys beteken het. Die geboue tesame met die akkerbome wat in 1867 geplant is, vorm ’n aantreklike geheel.

(Geproklameer 1968)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 94-95.