“Goue eeu” in Nederland

Waarom ’n handelspos noodsaaklik was
January 2, 2015
Teenslae en suksesse
January 4, 2015

Die koms van ’n groepie Nederlanders na die Kaap was eintlik die gevolg van ’n direksiebesluit van ’n groot maatskappy in een van die kleinste volkere van Europa. Dit was egter ’n volk wat toe sy “Goue Eeu” beleef het.

Die lande van Europa het die bestaan van die sewe verenigde provinsies van Nederland as voldonge feit aanvaar. Die handel het gebloei, en oral was daar werk en welvaart. Die voorspoed en ondernemingsgees was die beste te sien in die hoofstad Amsterdam.  Langs die gragte het die koopmanne pragtige huise gebou.

Die wetenskap en kunste het gebloei. Nederland het vyf universiteite gehad, en geleerdes soos Hugo de Groot is ook in die buiteland geëer. Die werke van skilders soos Rembrandt van Rijn, Frans Hals, Jan Steen, Paulus Potter, Gerard Terborgh en Gerard Dou is vandag kosbaar. Die poësie van Joost van den Vondel, Constantijn Huygens, PC Hooft, Jacob Cats en GA Bredero is oral bewonder. Die skouburge is gretig besoek. Vondel se Gijsbrecht van Aemstel was ’n geliefde toneelstuk.

Die klein landjie het selfs ’n groot koloniale ryk begin stig – behalwe in die Ooste ook langs die kuste van Noord- en Suid-Amerika en aan die weskus van Afrika. Nederlands is versprei na drie vastelande: dis gebruik in Noord-Amerika, Suid-Amerika (in Suriname), Indonesië en Suid-Afrika. Die tyd was gunstig: in Engeland was daar kort tevore revolusie, Duitsland was totaal verwoes en geplunder deur ’n dertigjarige oorlog, Frankryk was die noordelike Nederlande tydelik goedgesind.

Jan van Riebeeck, die hardwerkende man wat aan die hoof was van die 150 mense wat in April 1652 na die Kaap gekom het, is op 21 April 1619 in Culemborg gebore. Hy het ’n lewe gehad vol avonture soos ’n skipbreuk by Sierra Leone en besoeke aan plekke in Japan, China, Formosa, Groenland, die Wes-Indiese eilande, St. Helena en die Kaap. Hy was getroud met Maria de la Quiellerie, dogter van ’n Hugenote predikant. Oor die reis na die Kaap het JJ Wissink ’n gedig gemaak, “Zee-togt ofte zee-ryze naar Cabo de Bona Esperanca”. Met dié gedig open die Nederlandse digter Gerrit Komrij se bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte (1999).

Die groep wat na die Kaap gekom het, was Protestante, en meer spesifiek Calviniste. Saam met hulle het gegaan die “Statebybel”. Waarom “Statebybel”? Die State-generaal, hoogste gesag in die land, het die koste van die Bybelvertaling uit die oorspronklike tale gedra en op 29 Julie 1637 besluit dat dit in alle skole en kerke van die land gebruik sou word. Die Statebybel sou ook lank in die nuwe land ’n vormende invloed op die mense hê. ’n Deel van die geestelike besit van hierdie mense was ook die belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerk wat so ’n belangrike plek in Nederland ingeneem het: die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

Met hul kennis van allerlei ambagte, hul geloof en taal, asook die liefde vir die vryheid van die individu, was die groepie Nederlanders lede van ’n beskawing en taalgroep wat heeltemal verskil het van dié wat Suider-Afrika in daardie stadium geken het – dié van die Khoikhoi (“Hottentotte”) en jagter-versamelaars (“Boesmans” of “San”) wat die gebiede noord en oos van Tafelbaai al eeue lank bewoon het.