Goud bring nuwe lewe

Wit en bruin Afrikaanstaliges
May 16, 2015
SJ du Toit en die goud van Langlaagte
May 18, 2015

Wat die ekonomie en vervoerwese ingrypend sou verander, was die ontdekking van goud. Van 1884 af het mense op plase in die Witwatersrand begin goud soek. Fred Struben en LDC Geldenhuys was die eerste wat goud gevind het, maar terwyl hulle besig was, het George Walker en George Harrison in 1886 half per ongeluk op die plaas Langlaagte op rotslae afgekom wat weens hul eienaardige samestelling as banketlae bekend was. Eers later sou dit blyk dat hulle die hoofrif van die Witwatersrand ontdek het. Langlaagte, oorspronklik Langeleegten, het in 1853 in besit van ’n Voortrekker, Matthys Johannes Smit, gekom, maar is verdeel in twee helftes wat in 1886 die eiendom was van Gert Engelbrecht en twee Oosthuizen-broers.

Van heinde en verre het duisende delwers na die nuwe goudveld gestroom. In September 1886 is die nuwe delwery geproklameer. Die mynmagnaat JB Robinson het ’n deel van die plaas Langlaagte, 589 morg, vir £6000 van die Oosthuizens gekoop. Die middelpunt van die huidige Johannesburg was Randjeslaagte, ’n stuk staatsgrond wat boere eers as waardeloos beskou het en nie wou koop nie! Johannesburg is genoem na Christiaan Johannes Joubert, hoof van mynwese in Transvaal, en Johann Rissik van die landmeter-generaalkantoor wat by die aanleg betrokke was.

Wat die goud vir Transvaal beteken het, blyk duidelik as mens die staat se inkomste van £178 000 in 1885–1886 vergelyk met dié van £638 000 in 1887. Maar andersins het goud die Afrikaner nie ekonomies soveel gehelp nie. Om die goud behoorlik te kon ontgin, was baie kapitaal, kennis en ervaring nodig. Die Afrikaners het nie een van die drie gehad nie sodat die myne in die hande van die kapitaliste gekom het. In 1898 was die mynbase die volgende: Wernher, Beit & Kie (Julius Wernher was ’n Duitser en Alfred Beit ’n Duitse Jood) 34 myne; Cecil John Rhodes se groep 29; Barney Barnato 21; Anglo French (George Farrar se groep) 13; Goerz en Kie 7; G. Albu 8 (Goerz en Albu was Duitse kapitaliste); Neumann en Kie 10 en Joseph Robinson 11. Verskeie van die kapitaliste was aanhangers van die Britse imperialisme. Imperialisme en kapitalisme was in Suid-Afrika intiem verweef. Robinson was egter steeds simpatiek teenoor Transvaal, en die koerante onder sy beheer soos die Transvaal Times was pro-Afrikaner en anti-Rhodes.

Die goudvelde het een bevolkingsgroep in die goudveld versterk, naamlik die Jode. Die kapitaliste onder hulle was Duits en Brits; Jode wat uit Oos-Europa gekom en geen kapitaal gehad het nie, het na die Rand gestroom. Hulle het hulle op die kleinhandel toegelê en gou ’n belangrike deel van die ekonomiese lewe geword. Ander is na dorpe as algemene handelaars of spekulante.

Dat Afrikaners iets van die nuwe rykdom wou hê, was te verstaan. Die Patriot het op 6 Augustus 1886 geskryf dis wenslik om Afrikaanse maatskappye te vorm wat betroubare mense na die goudveld kan stuur om te sien wat Afrikaners van “die skatte in ons eie land” in die hande kan kry. “Waarom moet vreemdelinge dan altyd mar heengaan met di voordeel wat hier ver ons te kry is?” Ook SJ du Toit het van die “skatte in ons eie land” probeer kry.