Godsdienstigheid van die trekboere

Die oes van die eeu
January 26, 2015
Die Statebybel
January 28, 2015

Simpatieke reisigers uit Europa en besorgde Kapenaars het in die agtiende eeu soms gevrees dat die boere in die binneland mettertyd sou verwilder en barbare word. Tog het dit nie gebeur nie. Hoewel skole nagenoeg onbekend was, het plaaskinders by rondswerwende “skoolmeesters” leer lees, gewoonlik ontslane matrose en soldate, wat deur hul ouers gehuur is. Die skoolboeke was ’n ABC, dan die vervolg hierop met onderrig aan leerlinge van die tweede “trap”, die AB-jab, waarin twee klanke tot letttergrepe saamgevoeg is, asook die spelboek, die Trap der Jeugd. Kinders het net leer lees, skrywe en reken, en ’n bietjie godsdiensopvoeding ontvang.

Met dié kennis was die mense in staat om die Bybel te lees. Feitlik elke gesin het die massiewe Statebybel gehad wat met die grootste sorg opgepas is. Die meeste het ook die gesange van Willem Sluyter, die Heidelbergse kategismus en die Kortbegrip van Helmbroek gehad. Party families het daarby ’n predikasieboek besit. Die bekendste preekbundel was Den Donderslag der Godlozen (wegens het schrikkelyk oordeel en de pyne der Hellen), in dieselfde band met De hemelsche vreugde voor de gelovige zielen.

In die lewe van die pioniersfamilies het huisgodsdiens ’n belangrike plek ingeneem. Etes is begin en beëindig met ’n tafelgebed, wat die plig was van een van die kinders of ’n besoekende grootouer. Die dag se werk is nie begin voordat daar “boekegevat” is nie – en saans ná aandete het “Die Boek” weer op die tafel verskyn. Die huisgesin het aan tafel bly sit, terwyl slawe of Khoi-Khoin langs die muur neergehurk het. Nadat die huisvader iets uit die Bybel en miskien ’n preekbundel gelees en ’n gebed gedoen het, het almal saam ’n gesang of psalm gesing, wat hulle meestal van buite geken het. Sondae was daar ’n spesiale godsdiensoefening.

Dikwels het trekboere petisies aan die Goewerneur gerig om ’n kerk te vra. Die enkele kerke is gereeld en pligsgetrou bygewoon, hoewel hulle lank moes reis om daar te kom. Die meerderheid was te ver om elke Sondag te gaan, maar het moeite gedoen om een of meer keer per jaar die Nagmaal by te woon. Dan het die katkisasie van jong mense en aanneming van nuwe lidmate ook plaasgevind. Voordat ’n kind aangeneem is, wou die ouers hulle nie toestemming gee om te trou nie.

Ernstige sosiale euwels soos dronkenskap was op die platteland onbekend. Talle boere was geheelonthouers en dié wat drank gebruik het, het dit matig gedoen. Mense het respek gehad vir mekaar se lewe en eiendom. Skriftelike koopkontrakte was onnodig – ’n man se woord was sy eer. Kinders het eerbied vir hul ouers gehad.

Aan die begin van die agtiende eeu was daar maar min kleurgevoel teenoor bruinmense. Huwelike is gesluit tussen witmense en gedoopte slavinne en Khoi-Khoin. Dit is sosiaal aanvaar en het godsdienstige sanksie geniet. Kinders uit dergelike huwelike is sonder aarseling in die wit gemeenskap opgeneem. ’n Gevoel teen bloedvermenging het geleidelik ontstaan. Toe die koloniste teen 1770 met die swartes in aanraking kom, was die kleurgevoel sterk genoeg om bloedvermenging met hulle te verhinder.