Godsdienstige lewe

By die uitspanplek
March 16, 2015
Skoolgaan op die trekpad
March 18, 2015

Op enkele uitsonderinge na het die predikante van die NG Kerk die trek afgekeur omdat hulle bang was dat die trekkers sou verwilder, maar veral omdat die trek opstand teen die wettige owerheid was. So het die Sinode van 1837, waarvan die meerderheid Afrikaners was, in ’n herderlike brief die deelname van soveel lidmate aan die trek veroordeel. Predikante wat met die meerderheid verskil het, was JCL en HA Moorrees en veral GWA van der Lingen, wat diep vir die trekkers gevoel het. Hy was ’n deel van sy jeug aan die oosgrens, waar hy ’n kennis van en begrip vir die grensboere se harde stryd opgedoen het.

Kaapse predikante het selfs geweier om kinders van trekkers en voornemende trekkers te doop. Ene Kotie Botha is net voor die Trek in George gebore. Die dominees van George en Cradock het geweier om die kind te doop van ’n “rebel” teen Haar Majesteit. Eindelik moes die ouers soos arm mense aantrek en die predikant om die bos lei om die kind te kon doop. JL Hatting, wat die Trek meegemaak het, het onthou dat dominees van grensdistrikte geweier het om verbytrekkendes se kinders te doop. Ouers moes dan die baba terugneem na hulle vorige woonplek in die Kolonie of deur ’n ander kerkgenootskap laat doop.

Die trekkers was baie ongelukkig oor die houding van die Kaapse kerk, en het hulle daarvoor beywer om ’n eie predikant te bekom. Eerw. Erasmus Smit, wat met Gerrit Maritz se suster Susanna getroud was, het die Maritz-trek vergesel. Omdat hy nie volwaardig georden was nie, was hy nie vir al die trekkers aanvaarbaar nie. Hy het nogtans gereeld gepreek en die sakramente bedien. Hy het glo met so ’n mooi sagte stem gepraat dat mense heeltemal vergeet het hoe lank die preek geduur het!

’n Paar sendelinge het naderhand onder die trekkers gearbei, soos eerw. James Archbell van die Londense en eerw. Daniel Lindley van die Amerikaanse Sendinggenootskap. Trekkers soos Sarel Cilliers, Karel en Jan Landman en Stephanus Maritz het ook die godsdiens waargeneem. Soos Rhe Carstens in Voortrekkerlewe toon, het godsdiens in die Tregardt-trek ’n kleiner rol gespeel as in latere trekke, en verneem mens nie van godsdienstige aktiwiteite nie.

Elders is eredienste meestal in kerktente gehou, of waens is na aan mekaar getrek en ’n seil bo-oor gespan, sodat die diens daaronder kon plaasvind. Sondae was daar drie dienste, en soms ook op Woensdag- en Saterdagaande. Kollektes is gereeld opgeneem, maar die opbrengs was klein omdat die trekkers feitlik geen inkomste gehad het nie. Die lidmate in Hendrik Potgieter se laer het vrywillig tot eerwaarde Smit se onderhoud bygedra. Bidure het dikwels plaasgevind. Nagmaal is elke drie maande gevier, maar dikwels was daar geen wyn nie en is Nagmaal net in die gees gevier.

Nadat aanvalle afgeslaan is, en ook ná oorwinnings, is dankdienste gehou. ’n Franse natuurkundige, A Delegorgue het een kommando ’n “voorttrekkende bidstond” genoem. Huweliks- en doopregisters is aangelê. Voor hulle kon trou, moes jong mense katkiseer. Hulle moes ’n deeglike kennis hê van die Bybelgeskiedenis, en die vrae en antwoorde van die Heidelbergse kategismus van buite ken. Die Bybel en ander geestelike boeke was by ander kosbaarhede in die wakis.