Gideon Scheepers

Afrikaners onder die krygswet
January 22, 2015
“Lojale” Afrikaners veg teen hul taal
January 22, 2015

Hy “leef in hierdie land nou ewig en altyd!”. Só karakteriseer die digter DJ Opperman die beroemdste martelaar van die oorlog, Gideon Scheepers, in sy grootse “Gebed om die gebeente”. Scheepers is op 4 April 1878 in die distrik Middelburg, Transvaal, gebore en was in 1899 lid van die Vrystaatse Artillerie. Toe De Wet in November 1901 weens vol riviere afsien van sy inval in die Kaapkolonie, het hy ’n afdeling van sy mag onder Scheepers en generaal Kritzinger agtergelaat met opdrag om die rivier oor te steek en hulle op die Oos-Kaap toe te spits. Hulle kon die rivier deurgaan en in die volgende tien maande was Scheepers ’n voortdurende bron van kommer vir die Engelse, veral rondom Graaff-Reinet, Cradock en Murraysburg. Sy prestasies het oral die aandag getrek.

In September 1901 word hy ernstig siek, vermoedelik aan longontsteking, sodat sy kamerade hom op 10 Oktober teësinning in die distrik Prins Albert moes agterlaat. In sy dagboek skryf hy: “Een burger na de andere kwam in, huilende. Rondom myn bed zaten myn offisieren en manschappen allen diep bewogen. […] Myn adjudant, Karl Rehmkühl, ‘n jongen van 16 jaar, dapper en braaf als ooit kan verlangd worden, lag met zyn kop op myn borst snikkende. Overbodig te zeggen dat de tranen langs myne wangen afrolden.” Dieselfde dag het die Britte hom gevang.

Ná sy herstel is hy op Graaff-Reinet deur ’n Britse militêre hof verhoor op aanklagte van moord (hy het gewapende swartes in Britse diens laat teregstel), brandstigting, die vernietiging van treine en die mishandeling van gevangenes. Die verhoor moes by tye onderbreek word weens sy siekte. Nadat Kitchener die doodvonnis bekragtig het, het die Britse kommandant op 17 Januarie 1902 die vonnis op die openbare plein in Graaff-Reinet aangekondig in die teenwoordigheid van Scheepers, wat die heel tyd tydens die verhoor groot moed en kalmte aan die dag gelê het. Daarna skryf hy in sy dagboek: “Indien ik zeggen moet, dat ik bevreesd ben – geheel en al niet. Alleen gevoelde ik jammer voor myn dierbare moeder, en de grootste vertroosting die ik heb is dat ik onschuldig ben – onschuldig!” Elders skryf hy: “Doch wy Afrikaners zullen onder de Engelsman nooit recht zien” en ook: “Hoe de vyand ook moge juigen, het Afrikaner Volk zal leven en niet sterven!”

’n Peloton het Scheepers op 18 Januarie 1901 in die veld buite die dorp langs ’n oop graf tereggestel. Hy is daar begrawe, en volgens sommige is ongebluste kalk oor sy oorskot gegooi. Blykbaar het die Britte sy liggaam dieselfde nag opgegrawe uit vrees dat sy manne dit sou probeer terugkry. Daarna is hy op ’n onbekende plek herbegrawe. Sy teregstelling het groot verontwaardiging in Suid-Afrika en oorsee veroorsaak, ook omdat ’n Britse hof geen bevoegdheid gehad het oor iemand wat geen Britse onderdaan was nie. Baie Afrikaners het sy dood as moord beskou. Olive Schreiner het ’n gedig geskryf wat ’n verpletterende aanklag was teen die Britse oorlogsbeleid. Scheepers se dagboek is met ’n inleiding en aantekeninge uitgegee deur die historikus Gustav Preller.