Gezina du Plessis (1831-1901): Die eggenote van PauI Kruger

Hannie van der Merwe en Catharina Prinsloo
April 7, 2017
Helena Lotrie (Lottering)
April 7, 2017

(Geskryf deur H.M. Rex, soos verskyn in Historia Junior, Maart 1960)

Dit kom vir ’n mens vreemd voor dat van die liewe en saggeaarde tweede vrou van Paul Kruger, so selde iets vermeld word. En tog het sy, meer as ’n honderd jaar gelede, begin om die swaar laste van die beskawingswerk hier in die binneland saam te help dra, en was sy, soos baie ander Afrikanervroue uit ons volksverlede, die stille krag en voortdurende inspirasie in die gebeurtenisvolle lewe van haar eggenoot wat geroepe was om vir meer as ’n halwe eeu een van die sentrale figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te wees.

Die min wat ons van haar weet, is egter genoeg om ons oortuiging te sterk dat sy in alle opsigte ’n waardige eggenote vir Paul Kruger was. In haar persoon het sy blykbaar die mooi eienskappe van saggeaardheid, opregtheid, godsdienstigheid, diensvaardigheid, vaderlandsliewendheid en kuisheid verenig. Sy was inderdaad ’n egte tipe van die veelgeroemde “moeders van die Groot Trek”, en die eienskappe wat sy openbaar het, tref ons vandag nog tot ’n groot mate by ons eie Afrikanermoeders aan.

Gezina Suzanna Frederika Wilhelmina du Plessis is op 5 Mei 1831 gebore en sy was nog ’n jong dogter, toe die Du Plessis-familie hulle enkele jare na die aanvang van die Groot Trek in die Vrystaat, in die omgewing van die latere Kroonstad, gaan vestig het. Sy was skaars twaalf jaar oud, toe die sewentienjarige assistent-veldkornet Paul Kruger, met haar niggie, Anna Maria du Plessis, in 1842 in die huwelik getree en haar direk daarna na sy nuwe aanleg op Waterkloof, noord van die Magaliesberg, geneem het. Tydens die geboorte van haar eerste kind in Januarie 1846 is Maria Kruger en haar eersteling albei oorlede en begrawe in die Krugerkerkhof op Waterkloof. In sy een-en-twintigste jaar was Paul Kruger dus alreeds ’n wewenaar en vir ruim ’n jaar het hy alleen op Waterkloof gewoon.

Intussen het Gezina du Plessis op hulle Vrystaatse plaas grootgeword en in haar sestiende jaar is sy gedurende Desember 1846 met die jong wewenaar van Waterkloof op Potchefstroom in die huwelik bevestig. Die bouwerk waarmee haar niggie Maria vyf jaar vantevore op Waterkloof begin het, kon Gezina Kruger toe verder voortsit en vir meer as 50 jaar het sy as die lewensgesellin van Paul Kruger baie lief en leed saam met hom deurgemaak. Toe sy as ’n eenvoudige en jong Voortrekkerbruid in 1847 op Waterkloof aangekom het, het sy seker nie die minste vermoede gehad nie dat sy mettertyd in ’n presidentswoning in Pretoria sou woon nie.

In sy Rustenburgse tydperk het Gezina Kruger vanaf 1847 tot 1882 al die gevare en bekommernisse saam met Paul Kruger gedeel. Op Kruger het in daardie jare al meer en meer verantwoordelikheid gerus en al sy bekommernisse en leed het sy met hom gedra. Alhoewel sy dikwels nie die aard van sy sorge en bekommernis geweet het nie, was sy tog altyd bewus daarvan dat die las van staatsake en administratiewe pligte swaar op sy gemoed rus. Die bekommerde uitdrukking op sy gesig het dikwels verraai dat die vestiging van ’n nuwe en onafhanklike staat en die beveiliging van sy blanke inwoners te midde van die omringende barbare swaar eise stel aan liggaam en gees. Die hele lewe van Kruger is feitlik in beslag geneem deur sy openbare pligte. Gezina Kruger het nooit op die voorgrond getree nie, omdat ry geglo het dat haar eerste plig teenoor haar huisgesin was en sy het altyd gesorg dat hulle woonhuis op Waterkloof, Boekenhoutfontein en laastens Pretoria vir haar man ’n veilige en rustige hawe is na sy terugkeer van ’n moeitevolle en gevaarlike veldtog of uitputtende onderhandelings, besprekings en urelange toesprake.

Net soos dit met Paul Kruger die geval was, het sy haar volk geken en liefgehad. In die uitvoering van sy ampspligte was Kruger feitlik nooit tuis nie, en gedurende die eerste 35 jaar van hulle huwelikslewe was sy seker ontsettend eensaam. Tydens ’n besoek wat president en mev. Kruger in 1892 aan Waterkloof, sy ou woonplaas afgelê het, is in ’n verwelkomingsadres ook na haar destydse eensaamheid verwys: “De heer M. B. Brink heette ook Mevrouw Kruger hartelyk welkom en wees er onder anderen op dat de genoten vrede eene verhooring was van de gebeden die zy opzond toen zy voor maanden alleen was met haar suigeling aan de borst geklemd, onder woeste barbaren, toen ZHEdelen van haar verwyderd was, zynde hoogst vereischt in den kryg voor de vryheid van land en volk.”

Tant Sannie, soos sy met toegeneentheid genoem is, was bekend as ’n uitstekende huisvrou en sorgsame moeder vir haar groot huisgesin. Sy was die stille krag op die agtergrond en het min geweet en belang gestel in die wêreld buite haar eie huiskring en die plaaslewe i toe hulle nog op Waterkloof en Boekenhoutfontein gewoon het. Sy was nie juis op hoogte van politieke sake nie, aangesien Kruger haar gemoed nooit onnodig met staatsake wou belas nie en baie selde met haar daaroor besprekings gehou het. Dit is ook opmerklik dat mev. Kruger nooit haar verskyning op groot funksies gemaak het nie.

Sy was besonder trots op haar kennis van die volksgeneeskunde. Veral op die gebied van boererate het sy ’n deskundige kennis besit en sy het altyd ’n groot voorraad middels en monsters tot haar beskikking gehad. Vir feitlik enige siekte het sy raad geweet. Haar intense belangstelling in huisdoktery was natuurlik gebore uit die nood van dié tyd toe daar op die voorposte hier in die noorde, nog geen mediese dokters beskikbaar was nie en die mense in tye van siekte geheel en al op hulleself, hulle huisapteke, geneeskragtige warm- en kouewaterbronne of op bossiedokters aangewys was.

Mev. Kruger was self dikwels ernstig ongesteld: op Waterkloof, op Boekenhoutfontein en veral later in haar lewe. In haar eie huiskring moes sy ook gedurig met ernstige siektes worstel. In sommige briewe wat Paul Kruger geskrywe het, word melding gemaak van siekte in sy huis. In September 1872 skrywe hy byvoorbeeld vanaf Waterkloof aan staatsekretaris Swart wat vroeër op Waterkloof vir die Krugerkinders skoolgehou het soos volg: “Ik moet UEdelen melden dat ik met myn vamielie in een treurige toestand is. Een van myn kinders namelyk Antje, nu 14 jaar, leg aan de koors ziekte van dag 5 daagen zoo ilendig, dat doot en leeven geduurig stry, en myn vrou is ook ziek, ook leg Betta Grundeling by my op de plaas ziek, het schyn myn coors(z)ie(k)te. Van de ander klyne kinderen van myn klaag van morgen ook ziek te worden. Wat de einde zal worden weer ik niet. Zoo maak dan myn verschooneng by de hoog Ed. Staatspresedent dat ik niet can kom hoe spyt en het my ook is. Ik was met myn vrouw by de zendeleng, in het haar gezeg gevaarlik ziek te zyn, en die het myn gezeg tegen de laaste van deze maant weeder daar te wees, dan hoop , hy met de hulp van die Heere haar gezont te maak, maar ik moet persies weer haar op de tyd te breng.” Blykbaar het die gesondheidstoestand van mev. Kruger daarna nog verder versleg. Op 27 Maart 1873 skrywe Kruger vanaf Waterkloof weer aan die Staatspresident en Uitvoerende Raad i.v.m. die ernstige siekte van sy vrou: “Ik kan niet nalaaten UEd. te melden omtrent myn treurige toestant; myn vrouw is sleg siek, zy hebben twee dagen geleg dat haar polsten getaa (: gestaan) heb, wy alle, minuten te wagten was haar af te geven. Nu heden weder een wyneg beter. Aangezien dat de ziekten al drie jaar duurden, voel ik my verplig U Hoog Edelen verlof te vraag, al was het voor twee maanden indien zy zoo worden dat zy de wagenryden kunt uithouden, na een of ander dokter te ryden. Ik heb een bekwame zendeling hier gehat. Hy zyde, ik moer met haar tot hem koomen, hoop hy haar te helpen, indien ik by hem een tyd blyven.”

Hierdie brief van Kruger laat mens onwillekeurig dink aan die “Dagboek van Louis Trichardt” waar hy in Delagoabaai op ’n ontroerende wyse oor die laaste siekbed en dood van sy teerbeminde vrou skrywe.

Tog was mev. Kruger ten spyte van baie pyn en jarelange ernstige ongesteldheid altyd opgeruimd in die huis en vir haar groot gesin het sy onvermoeid gesorg en daarby ’n ruim medelye gehad vir die armes en minderbevoorregtes. Dit was juis hierdie meegevoel met die lydendes wat haar by die Boere steeds meer gewild gemaak het. Dit word vertel dat, toe sy verneem het dat die gesneuwelde Britse soldate onbegrawe bo-op Spioenkop lê, sy haar trane nie kon bedwing nie oor die feit dat hulle daar in die veld soos wilde diere sonder ’n Christelike begrafnis gelê het. Hier het die hart van ’n groot vrou en moeder gespreek, terwyl sy in menslike medelye aan die moeders, dogters en susters van die gesneuweldes gedink het.

Wyle mnr. Frederik (“Oubaas”) Wulfse, wat op een tydstip ’n lid van die Lyfwag van president Kruger was, het altyd met die grootste bewondering en agting gespreek, nie alleen van president Kruger nie, maar ook van tant Sannie. Hy vertel onder andere dat sy ’n baie goedhartige vrou was. “Een aand,” so het mnr. Wulfse vertel, “toe ek in die reën, koue en donderweer voor president Kruger se huis in Kerkstraat-Wes waggestaan het, het die liewe vrou die voordeur oopgemaak en geroep: ‘Wag! Kom binne.’ Ek het natuurlik aan mev. Kruger gesê dat ek nie my pos mag verlaat nie sonder die toestemming van my offisier, waarop sy geantwoord het: ‘Maar ék sê jy kan inkom!’. Nogmaals het ek gesê dat ek die uitnodiging  baie waardeer, maar nie nou my pos mag verlaat nie. Later het mev. Kruger ’n boodskap na die wagtent net oorkant die presidentswoning, op die terrein van die Gereformeerde Kerkgebou, gestuur, met die gevolg dat die offisier in bevel toestemming gegee het dat ek in die gang kon gaan sit totdat die verskriklike weer verbygetrek het. Mev. Kruger het self ’n stoel in die gang gesit en vir my boonop ’n koppie warm koffie gebring.”

Toe dit deur die regering van die republiek in 1900 raadsaam geag is dat president Kruger die land moes verlaat en uitwyk na Europa, sodat die Staatspresident nie in die hande van die vyand sou val nie en ook dat hy in Europa sou probeer om simpatie vir die Republiek op te wek, wat miskien kon lei tot die tussenkoms van een van die Europese Grootmoondhede, was mev. Kruger nie in staat om haar eggenoot op sy sending te vergesel nie, en so het dit gebeur dat, terwyl President Kruger verweg in Europa vertoef het in die belang van sy volk, sy troue en liefdevolle lewensgesellin hom vooruitgegaan het na hulle ewige tuiste. Drie jaar later het ook hy die tydelike met die ewige verwissel.