Gewildheid van die radio

Massakultuur en sport
January 25, 2015
Ou en nuwe digters presteer
January 25, 2015

Die SAUK het in 1950 ’n handelsradio ingestel en het baie luisteraars getrek met ligte, lewendige programme. Dit was van die begin af oorheersend Engels, ondanks ernstige kritiek deur Afrikaanse koerante en kultuurorganisasies. In die jare vyftig het die Afrikaanse radiodiens darem al hoe gewilder geword. Geen radioprogram het soveel luisteraars getrek as Die Du Plooys van Soetmelksvlei nie. Dit is in 1958 elke aand om 19:20 ná die nuus en ’n godsdienstige oordenking uitgesaai. Volgens ’n opname aan die einde van 1958 het 602 000 wit volwasse luisteraars Woensdagaande na dié reeks oor die lief en leed van ’n plattelandse gemeenskap geluister. Gemiddeld was dit egter 514 000, en 13 000 van hulle was Engelssprekendes. Die gewilde handelsender van Lourenço Marques se grootste aantal luisteraars was Sondagaande: 204 000.

Die Du Plooys is geskryf deur Jan Schutte, wat in later jare ’n groot rol in die uitsaaibedryf gespeel het. Die Byvoegsel, ’n naweekbylae van Die Burger, Die Volksblad en Die Oosterlig, het die reeks in 1960 as vervolgverhaal gepubliseer en dit is ook in boekvorm uitgegee. Talle lesers het hul waardering teenoor Die Byvoegsel uitgespreek. Volgens Schutte self het ’n volgende vervolgverhaal van hom, Sondaarspoort, in 1961 nog meer byval by kykers gevind. Op ’ dorpie naby Johannesburg het ’n ouerige dame op ’n biduur gebid dat die hoofkarakter “tog gehelp moet word in haar tyd van beproewing”. Toe ’n ander karakter in ’n ongeluk was, het talle luisteraars telegramme van deelneming gestuur.

Volgens die 1958-opname was die Afrikaanse kerkdienste van die gewildste radioprogramme onder wit volwassenes – sowat 360 000 volwassenes het Sondagaande daarna geluister teenoor 45 000 na die Engelse kerkdiens. Sondagaande het 80 000 kinders ook na die Afrikaanse kerkdiens geluister en 50 000 na die oggenddiens; die getalle wat na die Engelse kerkdiens geluister het, was “onbenullig”. Die Afrikaanse sewe-uur-aandnuus het meer as ’n halfmiljoen luisteraars getrek, teenoor die 163 000 wat na die Engels geluister het. Onder die bekendste radiopersoonlikhede was Verna Vels, Monica Breed en die rugbykommentator Gerhard Viviers.

Hoorspele is gereeld uitgesaai, en die eerste opvoering van Van Wyk Louw se drama Germanicus was in 1956 oor die radio. Oor die wenslikheid van televisie is baie geredekawel, maar onder andere die latere minister van pos- en telegraafwese, doktor Albert Hertzog, was sterk daarteen.

Volwaardige dienste in vier Afrikatale is aan die begin van 1962 ingestel; die ander het kort daarna gevolg. Wat dit moontlik gemaak het, is die oorskakeling na die BHF-uitsaaistelsel. Ook dié dienste was gewild.

Die radio het die luisteraars se musieksmaak help vorm en bygedra tot die bekendheid van die beroemde koloratuur-sopraan Mimi Coertse (1932-); tot selfs onder die Afrikaners van Kenia. Sy het in 1956 haar debuut in die Weense Staatsopera gemaak as die Koningin van die Nag in Mozart se Towerfluit wat sy meer as 500 keer in uitvoerings sou sing. Die Oostenrykse regering het aan haar die gesogte titel Kammersängerin toegeken nouliks ’n dekade ná haar aanstelling by die Staatsopera. Sy is ook bekend deur haar vertolkings van Afrikaanse kunsliedere.