Gesogte publikasies oor die Anglo-Boereoorlog beskikbaar

Hierdie moet jy sien!
Oktober 3, 2017
Ons legendes: Lied van Gé se lewe
Oktober 18, 2017

Deur Marthinus van Bart

Die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein het tans vyf gesogte publikasies oor die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) beskikbaar wat regstreeks van die museum se publikasie-afdeling bestel kan word.

Die boeke, almal egte versamelaarstukke, is nie in algemene boekwinkels beskikbaar nie.

Drie hiervan is onderskeidelik opeenvolgende boekdele in hardeband van ’n Gedenkuitgawe-reeks, naamlik Wedevaringe van vroue en kinders in konsentrasiekampe en te velde gedurende die ABO, Wedervaringe van kinders gedurende die ABO, en Op kommando gedurende die ABO.

Die vierde hardebandboek handel oor die betrokkenheid van die swartmense van Suid-Afrika aan die oorlog. Soos die titel dan ook aandui, is dit ’n onderwerp wat nog betreklik min aandag van navorsers gekry het en waaroor betreklik min publikasies tot dusver verskyn het: An illustrated history of black South Africans in the Anglo-Boer War 1899-1902: A forgotten history.

Die vyfde versamelstuk is ’n katalogus in volkleur van gekose kunswerke van 119 kunstenaars vanoor die hele Suid-Afrika en ook die buiteland wat op uitnodiging deelgeneem het aan ’n spesiale huldigingsprojek wat gedurende die Vrouemonument-eeufees van 2013 wat deur die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke aangebied is.

 

Kunskatalogus

Die kunskatalogus, in sagteband, is in Engels saamgestel, en die titel is: Universal suffering during the South African War 1899-1902.

Hierdie kunsprojek, geloods in 2013, was die inisiatief van Johan van Zyl, vakkundige en bestuurder van die museum se menswetenskappe, by geleentheid van die  honderdjarige herdenking van die oprigting van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein in 1913. Die Vrouemonument staan op ’n perseel aangrensend aan dié van die Oorlogsmuseum.

Die projek het dit ten doel gehad om veral die jonger intellektuele geslag Suid-Afrikaners by die herdenkingsgebeure te betrek. Die kunstenaars, heelparty bekendes onder kunsversamelaars, kon kies om grafiese werk, sketse, skilderye en beeldhouwerk in enige medium te lewer. Al voorwaarde wat gestel is, is dat die ingelewerde kunswerke die eiendom van die Oorlogsmusem word en dat dit daar ten toon gestel en bewaar word.

Hul kunswerke is in ’n hoë mate ’n weerspieëling van die huidige geslag se kennis en persepsie van die Anglo-Boereoorlog en die lyding van die konsentrasiekampslagoffers.

Die statistieke en sterftesyfers oor die konsentrasiekampe wat in die kunskatalogus aangegee word, klop egter nie met die nuutste gepubliseerde navorsingsgegewens nie.

 

Wit konsentrasiekampe

Die beroepsargivaris en akademiese navorser Celesté Reynolds van Kaapstad verskaf in haar boek, Konsenstrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoorlog 1899-1902, die nuutste geverifieerde gegewens oor die sterftes in konsentrasiekampe waar Afrikanervroue en -kinders aangehou is.

Sy het die eerste elektroniese databasis oor hierdie onderwerp vir doeleindes van ’n MA-verhandeling (Cum Laude aan die Universiteit van Potchefstroom/Noordwes verwerf) saamgestel. Die databasis is per CD-Rom by haar sagtebandboek ingesluit.

Luidens die Reynolds-opname het die Britse militêre 59 konsentrasiekampe vir 145 000 Boerevroue en -kinders opgerig. Minstens 31 399 van hierdie Afrikanervroue- en kinders het weens ondervoeding, wanvoeding, siektes en blootstelling in die kampe gesterf.

Hiervan was minstens 22 000 kinders onder 16 jaar (79%), 9 000 volwasse en/of bejaarde vroue en 1 676 gestremde en/of bejaarde mans. Van die swart en bruin bediendes wat saam met die Afrikanervroue en -kinders gevange gehou is, het 1 339 weens siekte, honger en blootstelling gesterf. Oor ’n verdere 2 724 sterfgevalle van vroue en kinders kon die betrokke konsentrasiekamp of plek waar hulle aangehou is, nie met sekerheid vasgestel word nie.

Die persoonlike (genealogiese) besonderhede van altesaam 34 051 geverifieerde burgerlike sterfgevalle is in die Reynolds-databasis opgeneem. 

Rig navrae oor hierdie boek en CD aan Celesté Reynolds by e-pos: [email protected]    

 

Swart konsentrasiekampe

Luidens die Kessler-opname oor swart en bruin burgerlikes wat nie bereid wat om saam met die Britte teen betaling teen die Boere te veg nie en wat gevolglik as “vyandiggesindes” in Britse konsentrasiekampe opgesluit is, het die Britse militêre 65 konsentrasiekampe vir hierdie swart en bruin gevangenes opgerig. Daarin is nagenoeg 140 500 saamgehok, en na raming het minstens 24 000 weens ondervoeding, wanvoeding, blootstelling en siektes gesterf. Eerw. SV Kessler se bevindings is vervat in sy hardebandboek The black concentration camps of the Anglo-Boer War (1899-1902), wat by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke verkrygbaar is. 

In totaal was daar 124 Britse konsentrasiekampe, waar minstens 57 190 Suid-Afrikaanse burgerlikes van alle rasse gesterf het. Die meeste van hierdie slagoffers was kinders onder 18 jaar (81%).

Luidens Britse amptelike oorlogsverslae het minstens 30 000 swart en bruin Suid-Afrikaners teen vergoeding saam met die Britte teen die Boere geveg of was in opruimingskolonnes onder bevel van Britse offisiere ingedeel om Boere-opstalle af te brand, die vroue en kinders op te ruim en hulle met geweld na konsentrasiekampe te ontvoer.

Uit die dagboeke en briewe van verpleegkundiges en talle slagoffers blyk dit dat beduidende getalle vroue en kinders deur hierdie gewapende opruimers verkrag en ook met geslagsiektes besmet is. Van hierdie onderwerp skram historiese navorsers steeds weg.

 

Swart deelname aan die ABO

Die museum se spog-uitgawe, An illustrated history of black South Africans in the Anglo-Boer War 1899-1902: A forgotten history, hoort myns insiens saam met eerw. Stowell Kessler se (reeds vermelde) onthullende baanbrekersboek, The black concentration campsof the Anglo-Boer War 1899-1902, oor die Britse konsentrasiekampe vir swart en bruin burgerlikes gedurende die ABO, op die boekrak van enige ernstige versamelaar van ABO-boeke.

Die samestellers was Johan van Zÿl, Tokkie Pretorius en Rodney Constantine. Hulle is bygestaan deur die vakkundige Elmarie Malherbe en die argivaris Etna Labuschagne van die Museum.

In die voorwoord deur Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum, vermeld hy dat die boek juis as opvolg op Kessler se boek bedoel is. Die formaat en voorkoms daarvan is eners, sodat die twee boeke mekaar op enige boekrak sal komplementeer.

In die keurige versorgde boek word die ervaring van die Anglo-Boereoorlog deur die swart gemeenskappe van Suid-Afrika vernaamlik visueel weergegee. Die foto’s en illustrasies, waarvan die meeste nog nie voorheen gepubliseer is nie, kom uit die argiefversameling van die museum en die private versameling van dr. Arnold van Dyk, ABO-versamelaar en mediese spesialis van Bloemfontein.

Die publikasie van die boek is deur die departement van Kuns en Kultuur gefinansier.

Die lywige hardebandboek van nagenoeg 400 bladsye glanspapier, is in 23 hoofstukke ingedeel.

 

Gedenkuitgawe-reeks

Die drie boekdele in die Gedenkuitgawe-reeks, Wedervaringe van vroue en kinders in konsentrasiekampe en te velde gedurende die ABO, Wedervaringe van kinders gedurende die ABO, en Op Kommando ABO, is saamgestel deur Rodney Constantine, Tokkie Pretorius en Johan van Zÿl, al drie verbonde aan die Oorlogsmuseum.

Constantine is ’n gerekende navorser en kundige oor die Kaapse Rebelle, Pretorius is die direkteur van die museum, en Van Zyl is hoof van die museum se afdeling menswetenskappe. Hulle is bygestaan deur Etna Labuschagne, ’n argivale vakkundige by die museum. Die ontwerp en uitleg van die boeke is deur Caria Vermaak gedoen, en die uitgewer is Firefly Publications van Brandfort.

 

 

 

 

 

 

 

 

Al drie boeke is keurig, verbeeldingryk, kleurvol en lesersvriendelik aangebied. Die talle illustrerende foto’s uit die argief van die Oorlogsmuseum is ’n openbaring, en dien voorts ook as vertoonstuk van die museum se tegniese en argivale vermoëns.

Die meeste hoofstukke in die boeke bestaan uit aangrypende artikels wat saamgestel is uit briewe en dagboeke in die museumargief wat nog nie voorheen gepubliseer is nie.

Die Hiemstra Trust het die publikasiekoste van die reeks ruim gefinansier. Hierdie drie boeke beloof om nog gesogte versamelaarsitems met ’n stygende waarde te word.

 

* Bestellings van die Oorlogsmuseum se publikasies kan per e-pos geplaas word by Jane Kok van die museum se publikasie-afdeling by [email protected] of per landlyn-telefoon (051) 447 3447.