Geskiedkundige militêre prestasies van die Boere

Boekevat op die trekpad
August 3, 2015
4 AUGUSTUS
August 4, 2015

(Geskryf deur Mariaan Odendaal, st. 10, Hoër Volkskool Heidelberg, Transvaal, soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1964)

Omdat ons in militêr-bewuste jare leef, sou dit goed wees om die militêre prestasies van die Boerevolk van die verlede te ondersoek, om daarop die behoud van blank Suid-Afrika te vestig. Is die soldaat van ons vaderland dan nie daarvoor verantwoordelik om te sorg dat die erwe van ons vaders ons erwe bly nie?

Die eerste gedagte wat by my opkom, is die woorde van AD Keet in die gedig: “Gee my Suid-Afrika”.

Gee my ’n roer in my regterband,
Gee my ’n bok wat vlug oor die rand,
en ’n lekker perd om hom weg te dra,
Gee my SUID-AFRIKA.

Dit mag wees dat in die dae van die geëerde digter na wildsbokke geskiet was, maar dis ook ’n feit dat as die boerseuns van my volk nie ’n bok kon skiet nie, hulle nie sekuur op ’n vyand sou kon vuur nie.

Tap04_VegkopEk verwys na 16 Oktober 1836, die Slag van Vegkop, waar 40 Boere teen 5 000 uitgesoekte soldate van Moselikatze, 50 waens met sukses verdedig het.

Na die slag is 1370 assegaaie in die laer opgetel. Tussen 1200 en 1500 Matabeles sneuwel. Slegs 2 boere sneuwel, nl. Piet Botha en Nicolaas Potgieter. Die vlugtende Matebeles ontvoer 5500 beeste, 50 000 skape en 100 perde.

Die Slag van Mosega, 7 Januarie 1837: 107 man omsingel Mosega – wen die geveg en keer met 6000 beeste terug. Geen verliese aan Boere-kant nie.

Die Slag van Kapain, Oktober 1837.  Met 135 man val Hendrik Potgieter vir Silkaats aan. In die geveg wat 9 dae geduur het, verjaag die Boere die Matebeles tot oorkant die Limpoporivier. Geen verlies aan Boere-kant nie, behalwe siekte en koors. Moselekatze stig sy nuwe kraal Goeboeloewayo.

Thaba Bosigo, 15 Augustus 1865. Soos alom bekend sterf in hierdie geveg kommandant Louw Wepener, maar desondanks wen sy 120 man die geveg teen die Basoeto’s. As bewys daarvan is die huidige distrikte Wepener en Zastron, Vrystaatse en nie Basoetolandse gebied nie. Hierop maak ek die bewering: Louw Wepener se manne het wel die geveg gewen, maar die Basoetovolk is ’n onoorwonne volk, anders sou Basoetoland nie vandag ’n protektoraat gewees het nie. Hiermee vergelyk ek Zoeloeland – Dingaan is totaal verslaan en daarom is Zoeloeland ’n deel van die Republiek.

Ek skuif my datum aan na 27 Februarie 1881 – die Slag van Majuba, waar 150 vrywillige Boere die 600 man van die Britse Generaal Pomeroy Colley aangedurf het. Die uitslag was: 92 Engelse sneuwel, 134 gewond. Die Engelse moes die aftog blaas.

Op 22 Januarie 1896 val dr LS Jameson die Transvaal binne met 500 man met die doel om dit te verower. Drie dae later word hy deur die Boere by Doornkop omsingel en gevang.

Die Slag van Nicholson’s-nek – 21 Oktober 1899. Engelse verliese: 203 sneuwel, 817 gevang, 267 gewond. Boereverliese: 4 gesneuwel en 5 gewond.

Lombardskop en Modderspruit – hier is die mag van 12 453 Engelse met 85 kanonne deur ’n handjievol Boere verslaan. So verwys ek ook na die Slag van Colenso, 15 Desember 1899. Hier het 7000 Boere met 5 kanonne die mag van Buller met 23 000 man met 62 kanonne verslaan. Engelse verliese was: 145 gedood, 762 gewond en 220 gevange geneem. Boereverliese was: 6 gesneuwel en 23 gevang.

Die laaste maar belangrikste feit waarna ek wil verwys, is die Slag van Magersfontein – 11 Desember 1899, waar generaal lord Newton met 15 000 man teen generaal De la Rey se 5000 man opgetrek het. Ook hier moes die Engelse mag die aftog blaas, omdat hulle weereens gebots het met die wil om vir jou vaderland te veg en die vindingrykheid van die Boerevolk. Dit was hier waar die boere loopgrawe gehad het en die Engelse magte daarmee verras het. Dit is ’n bekende feit dat dit die eerste loopgrawe is wat in die oorlog gegrawe is, en hierdie loopgrawe-oorlog is deur die wêreld aangeleer en tot volmaaktheid uitgebou in die Eerste Wêreldoorlog, in België en Frankryk.

President Paul Kruger het gesê: “Haal uit die verlede dit wat goed is en bou daarop in die toekoms.” Omdat hierdie stelling nog nooit verkeerd was nie, wys ek daarop dat as die huidige Suid-Afrikaner met sy wil en spontane dienswilligheid na vore tree en die wil van die Hoër Hand gehoorsaam, en so sy plig teenoor sy Vaderland doen, dan kan die VVO en die res van die wêreld teen ons agiteer, want soos ek my volk ken, sal ons weer oorwin, net soos ons in die verlede geestelik oorwin het, al het ons die Vryheidstryd verloor. Want:

“Ai, dis die land waar die Boerevolk woon.”