Geskiedenis van die Voortrekkertapisserie in die Voortrekkermonument: Deel 5

Geskiedenis van die Voortrekkertapisserie in die Voortrekkermonument: Deel 4
May 4, 2020
Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek
May 11, 2020

saamgestel deur John Roderick

Die storm”

Sir Harry Smith het by geleentheid die Voortrekkers aan die Drakensberge besoek. Hy skryf onder meer dat die Voortrekkers op daardie stadium in uiters moelike  omstandighede gelewe het. Ten tye van Smith se besoek, was die laers juis getref deur ’n enorme hael- en donderstorm. Dit is hierdie tipe omstandighede, waarvan die weer maar een faktor was, wat Coetzer in hierdie paneel probeer weergee het.

In hierdie paneel is twee kaalvoet mans besig om ’n voor te grawe sodat die water kan afloop. Ook word die haelkorrels eenkant toegekrap. Alles en almal is feitlik deurnat aangesien die kakebeenwaens se seile deur die hael aan flarde geslaan is. Let op na die bome, veral na regs waarvan die blare afgeslaan is, asook die een langs hom waarvan daar ’n stuk seil in die takke hang. Kyk ook net regs is ’n vrou besig om met ’n blaasbalk lewe in ’n vuur te probeer blaas. Koffie, op daardie stadium sou sekerlik vorentoe gesmaak het. Kyk net bietjie na die dogter amper in die middel wat haar ore toedruk vir die donderslag wat na agter toe uitslaan. Ongeag die mense se omstandighede is daar steeds hoop in die vorm van ’n reënboog na links in die hoek. Let gerus ook op na die voorste kakebeenwa in die paneel. Mevrou Steyn het haarself hier oortref deur die wa se wiele in die water te laat weerkaats.

Sy het in die skrywer se opinie meesterlik daarin geslaag om aan die nageslag nie net ’n kosbare kleinood na te laat nie, maar ook te wys hoe swaar aan die land gekom is.

Boekevat”

Met hierdie paneel het Coetzer aan die publiek en nageslag die diepe Godsdiens-sin van die Voortrekkers geïllustreer. Dit is nag-donker buite die ligkring van die drie vetkerse wat brand. Aan die sterrehemel kan die Suiderkruis duidelik gesien word. Let gerus mooi op. Die familie sit in ’n vierkant getrek deur kakebeenwaens waarvan die een been weggelaat is. Hierdie vierkant, oorspan deur ’n seil bied ’n amperse huislike atmosfeer aan die familie. Eerwaarde Erasmus Smit skryf dikwels in sy dagboek hoe suile bo-oor waens gespan is om ’n kerk te vorm. Heel regs sit die patriarg, waardig en stemmig soos dit die geleentheid betaam. Coetzer het “ou Vader” dominee JD Kestell hier gebruik en kon nie ’n beter keuse gemaak het nie. Oue moeder net regs van die patriarg het ’n huislike atmosfeer geskep deur ’n groen tafeldoek oor die tafel te drapeer. Dat sy oud is, kan gesien word in haar grys hare, kopdoek en mantel vir die nagkoue oor die skouers. Na regs agter die patriarg en binne die wa is ’n moeder met ’n suigeling. Die leë stoel in die voorgrond is waarskynlik haar sitplek. Let gerus op die drie sterre wat deur die seile flonker in die donker nag. Langs die “oue” moeder sit ’n vrou met ’n dogtertjie duidelik aan die slaap met haar oë toe. Coetzer het sy drie kinders in hierdie paneel as modelle gebruik. Let ook op die 3 anderskleuriges, effe in die agtergrond wat ook luister na die Skrif. Let ook op hoe mooi en duidelik die kakebeenwa agter die tafel uitgewerk is.

Bloedrivier”

Die skilder WH Coetzer het met hierdie paneel sy verbeelding vrye teuels gegee om een van Suid-Afrika se mees bekendste veldslae te skep. Reg agter in die agtergrond kan miswolkies getint deur die gloed van die oggendson gesien word. Kruitdampe, asook natuurlik die krygers kan duidelik vanaf die onderste deel van die waens gesien word. Ook kan die vetkerslanterns duidelik aan die sweepstokke gesien word. Daar is ongeveer 30 duidelike Zoeloefigure in die paneel te sien. Die bekende Vegkop kan duidelik in die agtergrond gesien word.

Simboliese samevatting”

Hierdie laaste tapisserie kan omskryf word as ’n samevatting van die Groot Trek. Reg in die middel kan die see gesien word wat aanduidend is van die Voortrekkers se wil om ’n eie hawe en kontak met die wêreld. Die branders teen die rotse beeld die storms uit wat hul moes deurstaan. Die donderende bliksemstrale en storm is tekenend van die geweld en bloedvergieting wat hul deurstaan het. Die wolk het ’n silwer rand wat hoop en oorwinning beteken.

Hierdie toneel is binne ’n wawiel geplaas waarvan  die vellings verweer en gehawend is. Dit is aanduidend van die talle ontberings wat die mense deurstaan het. Die band van hierdie wiel is rooi omrede dit deur baie bloed geloop het. Die wiel rus op ’n anker van hoop, en die anker weer op ’n Bybel wat oop is. Laasgenoemde simboliseer geloofsvertroue. By die punte van die anker kan die Potgietervlag en die Voortrekkervlag gesien word. Direk daarnaas is kruithorings wat seëvier  oor skildvelle wat aanduidend is van  oorwinning.

Die gewel van die Geloftekerk in Pietermaritzburg omkrans die middelste gedeelte en is aanduidend van die dankbaarheid en erkenning van die Voortrekkers aan die Almagtige. Die berg Majuba is direk agter die Geloftekerk. Let op die wit duif  op die Geloftekerk se gewel wat aanduidend is van vrede.

Links in die halfdonkerte is die amfiteater van die Drakensberge. ’n Draak, groot en oorheersend, is daarby afgeteken en stel chaos voor. Onderkant die Drakensberge trek ’n aantal Voortrekkerwaentjies asof uit newels en onsekerheid die oop wêreld binne. Net na dit is ’n aantal Voortrekkervroue met fakkels wat die newels en onsekerheid verdryf. So word erkenning aan die vroue van die Trek gegee.

Regs word ’n groeiende toekomstige stad met wolkekrabbers teen ’n helder agtergrond afgebeeld. Dit is aanduidend van vooruitgang, en die vrug van arbeid. Net onder die wolkekrabbers is die stadsaal van Pietermaritzburg, Raadsaal van Pretoria,  die standbeeld van president Paul Kruger en laastens die Raadsaal in Bloemfontein. Ook is die kerkie wat die Voortrekkers op Lydenburg gebou het te sien.

Onder en na regs daar twee ratte wat inmekaar draai wat op hul beurt uitloop in twee rokende skoorstene. Ook dit is aanduidend op groei en vooruitgang. Samelopend is daar ook vrugte, ’n gerf graan, ’n protea, landerye en boorde wat  vooruitgang simboliseer.

Nikè die mitologiese godin van oorwinning is na regs te sien. Sy het ’n palmtak wat vrede voorstel in haar linkerhand en in haar regterhand ’n lourierkrans.

 

Slot

Die maak, en borduur van die tapisserie-reeks was gewis nie sonder probleme gewees nie. Die grote van die panele, asook beligting daarvan, was maar enkele van die probleme  waarmee die vroue te make gehad het. Coetzer het ook elke paneel deeglik ondersoek en kritiek was na beide kante goed opgeneem en hanteer.  Coetzer was byvoorbeeld nie tevrede met die kleure van ’n reënbui in “Die Uittog”-paneel nie. Die werkster, mev. Prinsloo het sonder dat Coetzer dit gevra het die reënboog se wol uit- en afgeknip en die reënbui se kleur na oorlegpleging  verander.

Coetzer het self ook kritiek goed aanvaar en gehanteer. Hy het op die derde paneel, “Oor die Drakensberge” ’n geslagte skaap geskilder soos wat hy dit in ’n slaghuis geken het. Mevrou Prinsloo het Coetzer daarop gewys dat skape onmoontlik tydens die trek middeldeur gesaag was. ’n Skaap was, soos ons dit vandag steeds ken en noem, boud en blad gemaak. Coetzer het haar punt ingesien en die nodige verandering gedoen.

Die eerste tapisseriepaneel wat voltooi is, was dié van “Oor die Drakensberge” deur mev. Henrietta Combrink. Hierdie paneel is op die 20ste Augustus 1954 op luisterryke wyse in ontvangs geneem. Al die panele is op soortgelyke manier in ontvangs geneem. Soms het eregaste-vroue die geleentheid gehad om voor die tyd ’n stekie of twee in die paneel te doen.

Coetzer het al die uitgewerkte panele ’n tyd lank in sy ateljee gehou om te ondersoek. In dié tyd is slegs geringe verbeteringe aangebring. Coetzer het onderneem om self verantwoordelikheid te neem vir die raam van die panele. Al die paneelrame is van brons gemaak. Panele is eers oor spanrame van kiaathout , 11 cm breed en 3 cm dik getrek. Spykertjies is in karton-vierkantjies ingeslaan en met lak bedek om moontlike roes en of vlekke te voorkom. Masonite-borde is aan die agterkant gebruik, en die was bedek met gegalvaniseerde ysterplaat. Gaatjies is deur die borde en yster geboor sodat die panele kon “asemhaal”. Hierdie gaatjies is toe gesoldeer met kopergaas om insekte uit te hou. Spasie is by elke raam aan die agterkant gelaat vir omtrent ’n vuurhoutjiedosie grootte houer waarin silika gelpoeier geplaas is om vog te help beheer. Dit het Coetzer 44 dae geneem om die panele te raam.

Die panele is in totaal verseker vir R60 000. Eers nadat dit verseker is, is dit na die Voortrekkermonument geneem waar dit op die 14de Desember 1960 aangekom het.

Dit word bereken dat gedurende die eerste tien jaar sowat 869 741 mense na die tapisseriereeks gekyk het. Dit moet genoem word dat mev. ES Boshoff vir baie jare lank daagliks in die saal gesit het om die “tapisserie op te pas”.

Bron: Kruger, Nellie. 1988. Die geskiedenis van die Voortrekker-Muurtapisserie. Pretoria: Gutenberg Boekdrukkers.