Geskiedenis van die Voortrekkertapisserie in die Voortrekkermonument: Deel 4

Geskiedenis van die Voortrekkertapisserie in die Voortrekkermonument: Deel 3
April 30, 2020
Geskiedenis van die Voortrekkertapisserie in die Voortrekkermonument: Deel 5
May 6, 2020

saamgestel deur John Roderick

 

“Oor die Drakensberge”

Op die 7de Desember 1837 begin Tregardt teen die berg aftrek. Die hoë piek in die middel van die paneel is die Gopella-piek en is +- 5500 voet hoog. Tregardt het vier osse voor sy wa ingespan.  Die twee agterosse se sterte was aan die kakebeenwa vasgebind, en dan die sterte van die twee voor hulle aan die beul van die disselboom. Blykbaar was dit gedoen om te keer dat die osse teen die skuinste bolmakiesie slaan. Om osse wat briek so na as moontlik aan realiteit te kon skilder, het Coetzer ’n plaaslike boer met osse se hulp ingeroep. Daar op die man se plaas teen ’n afdraand kon Coetzer ’n getroue weergawe vind van hoe ’n os met ’n vrag agter hom teen ’n afdraand rem.

Onder die agter-as van die wa is boomtakke ingedruk en vasgemaak. Die doel daarvan was om te help briek teen die afdraande. Om hierdie rede is die wa se wiele tesame met enkele ander items ook daarop vasgemaak. Tregardt beskryf op meer as een plek in sy dagboek hoedat van die takke aan klippe vasgehak het. Die tent van die wa is gehawend en gelap. Ook val daar ’n skaduwee daaroor wat aanduidend is van die hoë steftesyfer later in Delagoabaai.

Die grysaard regs is die skoolmeester Daniel Pfheiffer, wat op daardie stadium reeds 78 jaar oud was. Duidelik kan gesien word hoe ’n dogtertjie hom laaf met ’n kommetjie water. Let op na die hoed op sy knie, en vrou net effens vorentoe waarvan net haar rug en kappie uitsteek. Regs in die hoek is ’n moeder besig om ’n kind teen die berg af te dra op haar rug. Let op die mooi patroon van haar kappie. Regs na bo word beeste en skape die berg afgebring.

 

“Blijde Vooruitzicht”

Blijde Vooruitzicht, en die terrein waar die Kaalvoetvrou-monument te vinde is, is feitlik bymekaar geleë. Kerkenberg is ook glad nie ver daarvandaan geleë nie. Erasmus Smit, predikant gedurende die Groot Trek, skryf op Saterdag die 11de November 1837 “noemde nu deze vallei Blijde Vooruitzicht”.

Die naam is deur Smit aan die omgewing gegee omrede ’n brief van Piet Retief ontvang is. Die brief is deur Piet en Coenraad Meyer, wat deel was van die Retief-geselskap, gebring. Piet en  Coenraad het ook vrugte, al die pad vanuit Natal, saamgebring. Die brief het bevestiging gebring dat Dingaan positief ten opsigte van ’n grondtransaksies was. Ook is daarin konsent gegee om die berg af te trek.

Smit skryf op Dinsdag die 14 November 1837 die volgende: “In de morgen om 8 ure spanden we de ossen voor de 23 wagens, om de zeer hoge Drakensberg af te rijden.  Na zeer veel moeite,  meer dan 20 remhoogten kwamen wij met 18 wagens tegen zonsondergang, in de laagte aan de voet van die grote Drakensberg; alwaar wij bij water en zeer goed gras uitspanden.” Smit skryf verder dat slegs die wa van W Prinloo omgeslaan het en dat ’n pragtige stel stoele gebreek het.

Die paneel beeld ’n seun net regs van ’n wa uit wat met die Voortrekkervlag (van die latere Republiek Natalia) teen die berg afstap. Dit het duidelik gereën omrede die wa diep spore trap, en die veldblomme pragtig staan. Anders as met Tregardt wat sy waens se agterwiele afgehaal het, is hierdie waens gebriek deur remskoene, asook rieme vasgehou deur van die Voortrekkers. Samelopend met bogenoemde, skryf Smit ook dat sommige waens se agterwiele met remkettings aan die waens se onderstelle vasgemaak was. ’n Vrou met ’n lam is stadig besig om ’n trop skape en bokke teen die berg af te stoot. Net links van die vrou kan ’n dogtertjie ook met ’n lam in haar hande gesien word. Haar “suster” net agter haar het veldblomme in haar hand terwyl die groter dogter ’n pop in haar hande dra. Let op dat al die vroue verskillende kappies dra, en ook die veldblomme heel regs in die hoek. Al op die rand van die berg is mans te perd besig om te help.

 

“Retief se afskeid”

Piet Retief staan hier in die middel van die tapisserie. Sy vrou, tant Lenie, het haar hand op haar seun Pieter se skouer. Retief se dogter Deborah staan net regs voor van hom en is besig om sy veldfles vol water te maak. Retief se seun wou vreeslik graag op die tog saamgaan. Hierdie toneel waar die seun pleitend vra, Retief oorweeg, en die moeder probeer keer, word ook uitgebeeld. Regs op die doek is van die ruiters al gereed om te vertrek. Die bladsak aan Retief se lyf waarin die traktaat gevind is, asook die veldfles, is later by sy oorskot gekry. Let ook op dat beide hy en sy seun kruithorings dra. Kyk net hoe mooi is Lenie, Retief se vrou, se kappie en mantel. Deborah se kappie en rok is self ook baie mooi. Vier jong seuns by name Pieter (Retief se seun), Danie Liebenberg, Kosie Oosthuizen en Kootjie Opperman sou die tog tesame met 65 ander Voortrekkermans en agterryers meemaak. Die doel van die tog was om die beeste wat Sekonyela gesteel het aan Dingaan terug te besorg. Deur dit te doen, sou die grondtransaksie vasgemaak gewees het. Die geselskap het op die 25ste Januarie 1838 vertrek en niemand sou lewend terugkeer nie.

 

“Bloukraansmoord”

Die skilder het vertel dat toe hy die paneel geverf het, hy na musiek van Grieg se Liriese Suite geluister het om die chaos, angs en verwoesting van die nag te kon vorm en vaslê. Die werkster, mev. Steyn vertel dat Coetzer haar gereeld aan huis besoek het om te kyk hoe sy vorder en die werk hanteer. Op ’n dag het hy lank en aandagtig na haar werk gesit en kyk. Dit was die lang vlegsel van die  vrou met die verskrikte kind in haar arms wat hom vasgehou het. Na ’n ruk het hy haar aangeprys en gesê dat hy nie kan glo dat hy so ’n werk met sy hande gemaak het nie.

Die tragedie van die Bloukraansmoorde gedurende die nag van die 17de Februarie 1838 was een van die grootste harseerverhale van die Groot Trek. In net een nag is 41 mans, 56 vroue 200 “bediendes” en 185 kinders om die lewe gebring. Letterlik alles wat leef en beef, mens sowel as dier, het omgekom. Groot volwasse mans het die volgende dag trane afgevee oor wat hulle gesien het.

Die tapisserie beeld vlamme en rookwolke wat hoog die lug in staan uit. Daar is gebreekte wawiele, stoele banke en kiste, en dan ook vroue wat huil, bid en veg. Let op na die oop Statebybel amper heel links onder, asook die dogtertjie net bo die Bybel se groot oë. Dan is daar die dogter net na regs met die pangeweer in die hand wat skiet en die kruithoring net links by haar elmboog. Geen van die vroue dra kappies nie en almal is in nagklere omdat die moorde in die nag gebeur het.

 

Bron: Kruger, Nellie. 1988. Die geskiedenis van die Voortrekker-Muurtapisserie. Pretoria: Gutenberg Boekdrukkers.