saamgestel deur John Roderick
“Vegkop”
Die slag van Vegkop het op die 16de Oktober 1836 plaasgevind. Die Voortrekkers was hier deur ’n enorme mag Matabeles aangeval. Coetzer se werk toon duidelik, “Vegkop” (’n koppie) in die agtergrond. ’n Kakebeenwa toon duidelik ’n paal ingeplant by die agterwiel. Dit is gedoen om te verhoed dat die waens omgegooi kon word en uit die kring geruk kon word. Onder die middelste wa, links by die voorwiel sit Paul Kruger, op daardie stadium nog ’n jong seun. Let op na die lopers wat links onder in die hoek gegiet word, en die dogter wat haar pa help laai en aangee. Die vrou direk langs haar gee aan haar man ’n klaar gelaaide pangeweer. Na regs amper in die middel vul ’n dogter ’n kruithoring met kruit. Langs haar word ’n gewonde verpleeg. Die getal assegaaisteekplekke in die wa se seil, asook die hoeveelheid na links is realisties inaggenome die feit dat na die slag daar net onder die 2000 assegaaie in die laer opgetel was.
“Uitspanning by Thaba Nchu”
Thaba Nchu, of soos dit ook in die tyd bekend was, was ook bekend as Blesberg. Die paneel bied ’n unieke blik rondom die veelvoudige take wat die vroue gedurende die Groot Trek gehad het.
Let op die dogtertjie na links wat vir haar pa ’n gebreide vel vashou sodat rieme, voorslae ens. gesny kon word. Net agter hulle staan twee vroue by ’n tafel. Die een is besig om deeg te knie en die ander een skink koffie uit ’n koper konfoor. Net na regs is ’n ander vrou besig met wasgoed. Let gerus op die houtemmer in haar hande. Net effens meer na agter staan ’n vrou met ’n broodpan vol deeg wat sy in die miershoopoond wil bak. Heel regs blaas ’n moeder die vuur onder die seeppotte aan terwyl die ander een roer. Let gerus op die gloed van die vuur op die vroue se rokke. Heel regs is ’n dogtertjie wat vet in ’n kersvorm giet om kerse te maak.
“Begrafnis in die veld”
Geskiedkundige gegewens vir hierdie paneel is deur Coetzer uit Tregardt se dagboek gekry. Tregardt skryf op die 11de Maart 1837 dat die dogtertjie van juffrou Scheepers te sterwe gekom het. Op Sondag die 12de Maart het ook Anna Phillipina Susanna Scheepers na ’n lang siekbed van 5 maande te sterwe gekom. Tregardt skryf dat hy en Carolus die kiste gemaak het. Die begrafnis het omstreeks 3 uur die middag geskied. Die toneel dui die oomblik aan toe die kissie in die graf afgesak het. Louis staan met ’n Bybel in sy hande en het pas klaar gelees. Langs hom, met die grys hare staan “ou” skoolmeester Daniël Pfefer. Die res van die trek geselskap staan ook almal om die graf. Martha Tregardt staan heel links, en die weduwee Scheepers staan regs in rou. Laasgenoemde het ’n paar maande tevore haar man aan malaria afgestaan. Haar seuntjie met sy hond hou aan haar rok vas.
Op die kis lê ’n eenvoudige kransie van veldblomme, en ’n dogtertjie wil as laaste eerbewys ’n bossie veldblommetjies op die kis laat val. Die gebreekte boompie heel regs word gebruik as simbool van die jong lewe wat nie meer bestaan nie. Let gerus op die waens en osse in die agtergrond.
“Herstel van wawiele”
WH Coetzer was ’n opgeleide wamaker gewees wat elke deel van die wa geken het. Coetzer het hier sy ambag as wamaker saam met die dagboek van Louis Tregardt gebruik om die paneel te skilder. Tregardt en sy geselskap het by geleentheid naby Hangklipberg, na aan die huidige dorp Louis Trichardt oorgestaan. Die kakebeenwaens was daar almal baie deeglik nagegaan aangesien die tog oor die Drakensberge na Delagoabaai op hande was. Die (kommetjie) wiele van die waens moes gekort en herstel word. Die geselskap was toe reeds net oor ’n jaar op die trek-pad gewees. In die middel is “ouwe Botha”, na wie Tregardt dikwels in sy dagboek verwys, besig om vellings vir die speke van ’n wiel aan te sit. Tel gerus die speke, hul is presies veertien. Net agter hom staan Tregardt besig om ’n brief aan die Portugese in Delagoabaai te skryf. Hy vra kruit, lood, klerasie, naalde linne ens. aan en bied in ruil ivoor en velle aan. Let gerus op die gereedskap wat op die tafel uitgepak is. Daar is ’n omslag, skaaf, swaaihak tot selfs ’n kommetjie koffie vir die dors. Na links agter kan die vuur gesien word waaruit die rooiwarm waband gehaal is en waarmee die wiel gekort gaan word. Let op die vuur se rooi-oranje gloed teen die mans met die band, en ook teen die tent wat oor die wa gespan was. Oor die aambeeld in die voorgrond hang enkele hoefysters wat pas klaar gemaak was. Net langs die aambeeld is ’n houtemmer water waarin die tange afgekoel word. Let op die kakebeenwaens in die agtergrond onder die kremetartbome en die ruiter heel regs in die agtergrond. Coetzer se vrou, Tring het hierdie besondere paneel uitgewerk. Die twee het saam in sy ateljee gewerk, hy met die kwas en sy met die naald.
Bron: Kruger, Nellie. 1988. Die geskiedenis van die Voortrekker-Muurtapisserie. Pretoria: Gutenberg Boekdrukkers.