Geskiedenis van die geweer van ds. Jozua Naudé wat in besit van Laerskool Jozua Naudé is

Die storie van ’n straat waar helde eens gewoon het
June 23, 2017
’n Groot figuur in die Suid-Afrikaanse geskiedenis … Hendrik Potgieter
June 27, 2017

(geskryf deur Stephanie Viviers, St. V, soos verskyn in Junior Historia, Februarie 1969)

Tydens die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 was wyle ds. Jozua Naudé ’n onderwyser te Germiston. Hy het as gewone burger by die Boeremagte aangesluit.

By die slag van Colenso, wat op 13 Desember 1899 begin het en twee dae geduur het, het hy in besit gekom van hierdie geweer en wel op die volgende wyse:

Die Boeremagte het hulself ingegrawe op die skuinstes en rantjies rondom die dorp. Generaal Buller hei met 23 000 man en 50 kanonne opgetrek teen die Boere wat maar 3000 getel het. Generaal Louis Botha was die aanvoerder van die Boeremagte. Die vyand het die slag verloor met ’n verlies van 1000 dood en gewond aan hulle kant terwyl aan die kant van die Boeremagte slegs ses gesneuwel het en 23 gewond is.

Die hitte van die barstende bomme was so erg dat die lang somergras plek-plek aan die brand geraak het. Jozua Naudé was een van dié wat deur die brandende gras vorentoe gestorm het om aan die regte kant te kon kom van die winde wat die vuur in hulle rigting aangewaai het. Toe hy anderkant uitkom, gewaar hy ’n soldaat voor hom en toe hy wou skiet, vind hy dat sy magasyn heeltemal leeg was. Ook sy bandelier het geen patrone meer nie. Meer van skrik as van vernuf “hensop” hy toe die soldaat deur die leë geweer op hom te rig. Daar en dan neem hy toe die geweer en bandelier met patrone van hom af. Hy het die soldaat, wat net so verskrik was, daar gelaat en self verder teen die rant afgehardloop om nader aan die Engelse soldate te kom wat verder na onder saamgetrek was.

Vir die res van die oorlog het hy die geweer gebruik. Sy eie geweer, ’n mauser, wat hy daar moes agterlaat, het nog op die kolf die wapen van die Republiek gehad.

Toe die twee Republieke met die ondertekening van die vrede op 31 Mei 1902 hulle onafhanklikheid moes prysgee, moes al die afgevaardigdes wat by Vereeniging bymekaar gekom het, ook wapens neerlê en die vredesakte onderteken.

Saam met vyf ander afgevaardigdes het hy nie kans gesien om wapens neer te 1ê nie en het dus ook geweier om die akte te teken.

Hy was sy hele lewe lank ’n vurige Republikein en het vas geglo dat ons uiteindelik weer ’n Republiek sou word. Sy geloof is nie beskaam nie, hoewel hy self nie die voorreg gehad het om dit te belewe nie.

Die kinders van wyle ds. Jozua Naudé het dit as hulle eer gestel om hierdie geweer aan Laerskool Jozua Naudé te skenk, en dit sal as trotse eiendom van hierdie skool bewaar word.