Fea Robertse
July 27, 2015
Marthinus Oosthuizen
July 27, 2015

deur CR Swart.

Die skrikwekkende oggend en dag van 17 Februarie 1838 toe Zoeloemagte die laers van die Voortrekkers aangeval en al die mense probeer uitmoor het, is een van die aakligste in ons hele geskiedenis. ’n Mens sidder as jy dink aan die verskriklike wreedheid van die Zoeloes en die lyding van die arme klompie mense – mans, vrouens, seuns, dogters en klein kindertjies.

Maar te midde van al die droefheid en aakligheid blink die heldedade uit wat deur ons Voortrekkers verrig is, dade van heldemoed wat net so mooi is as wat in die geskiedenis van ander nasies in die wêreld voorgekom het. En dit was nie alleen die grootmense op wie ons kan roem nie, maar ook die seuns en dogters. Die kinders van die Voortrekkers het in daardie donker nag en in die bloedige dag wat daarop gevolg het, getoon dat hulle geen lafaards was nie.

Laat ons nou eers vertel van die seun en dogter van Gerrit Maritz, een van die leiers van die Voortrekkers. Hulle laer het by Doringkop gestaan, ’n hele entjie van die ander af. Piet Retief het voor sy vertrek bevel gegee dat die laers bymekaar moet bly, maar dit was moeilik om so ’n klomp mense vir ’n lang tyd in een laer bymekaar te hou. Dit was ongerieflik en ook was die beeste dan ’n las, want hulle kon deurmekaar raak en ook nie voldoende weiding kry nie.

Vroegoggend het Gerrit Maritz se mense ook die lawaai en geweerskote in die verte gehoor. Hulle dink toe dat dit Retief se manne is wat nou van Dingane se kraal terugkom en dat die skote wat geskiet word ’n begroeting is en om te laat weet dat die kommando terug is. Hulle was baie bly en het nie eens aan gevaar gedink nie. Maar naderhand, toe die skietery aanhou, sê een: “Die aanhoudende geskiet laat my ’n verkeerde gedagte kry.” Die ding begin toe vir hulle lelik lyk en hul blydskap het in vrees begin verander.

Ná ’n rukkie kom Petrus Bezuidenhout daar aangejaag op sy perd met die kruisbande vir ’n toom, en hy vertel wat by die ander laers besig is om te gebeur. Ander vlugtelinge kom ook aan en bring dieselfde nare tyding. Gerrit Maritz gee toe dadelik bevel dat die mans moet opsaal en uitgaan om te kyk wat gaande is en of die Zoeloes kom. Die vroue bly by die laer en trek die klomp waens in ’n kring teen mekaar om as verskansing te dien.

Die Zoeloes het hulle teen Maritz en sy burgers vasgeloop en die geveg het begin. Die burgers was klaar vir hulle en het die koeëls op die vyand laat reën, maar die vroue en dogters het nie weggekruip of in die waens gaan sit en huil of kerm nie. Dit was ’n saak van lewe of dood en hulle moes help. Die vroue en jong dogters gryp sakkies kruit en koeëls en hardloop uit in die gevaar om vir die mans skietgoed te neem.

Gerrit Maritz se vrou het die eerste met ammunisie weggespring om haar man te gaan help. Toe sy van die wa afspring en vorentoe hardloop, gryp haar dogtertjie van dertien jaar ook twee sakkies en gaan agter haar ma aan, reguit na die Zoeloes toe.

Al moet sy ook haar eie jong lewe waag, sou sy nie agterbly nie. Sy hardloop heen en weer van die waens af na waar die mans op die Zoeloes skiet, en help koeëls en kruit aandra saam met haar ma en die ander vrouens.

Gerrit Maritz se kindersAs die mans se skietgoed moes opgeraak het, sou die Zoeloes maklik op hulle kon afstorm en almal voor die voet doodsteek en dan die vroue en kinders by die waens gaan uitmoor. En dan het daar miskien geen enkele persoon lewendig uitgekom nie. Alle eer kom hulle daarvoor toe.

Gerrit Maritz het ook nog ’n seuntjie gehad. Die knapie was maar tien jaar oud, maar bang was hy nie. Hy het ook nie gaan wegkruip nie. Nee, ’n Voortrekkerseun het nie weggekruip solank as wat hy kon help nie. Toe sy pa en die ander burgers uitgegaan het om die Zoeloes te keer, het hy natuurlik by die waens by sy ma en suster gebly. Toe die geveg aan die gang was en sy ma en suster die skietgoed aandra, wou hy ook saamgaan.

Sy ma sê toe vir hom hy moet in die waens bly en wegkruip, sodat die Zoeloes hom nie kan steek of met hul assegaaie raakgooi nie. Dink daaraan: hy was maar klein, net tien jaar oud, en sy ma was besorg oor haar klein liefling. Het hy toe onder komberse of in die wakis gaan wegkruip? Nee, glad nie. Hy was klein, maar nie ’n lafaard nie. Vir ’n lafaard was daar nie plek onder die Voortrekkers nie. Nee, die klein Maritz was ’n kêreltjie van staal.

Toe sy ma vir hom sê om te gaan wegkruip, wat doen hy? Hy sê dadelik: “Mammie, ek sien nie ’n plek waar ek kan wegkruip nie. Gee my die pistool en laat my skiet.”

Mooi so, klein Maritz, jy was ’n pure man. Daar was natuurlik baie plekkies in die waens waar ’n kind kon wegkruip, maar hy wou nie ’n plek sien nie. Wegkruip was nie in sy geaardheid nie.

Pragtig het die vroue, dogters en seuns gehelp. Gerrit Maritz en sy handjievol burgers het dit naderhand reggekry om die Zoeloes op loop te sit en het hulle toe agtervolg. Daarna het hulle die ander laers te hulp gesnel en só baie ander mense van ’n wrede dood gered.