Gerhardus Marthinus Rudolph, CMG – Landdros van Ladysmith, 1881–1899

Die gelofte van 1838
February 22, 2016
Kaptein JEB Seely
February 22, 2016

geskryf deur mev. Lettie Malan (kleindogter van GM Rudolph, soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1967)

Gert Rudolph, vernoem na sy vader se neef Gerhardus Marthinus Maritz (Voortrekkerleier), is gebore op 28 September 1828 te Port Elizabeth. Saam met sy ouers het hy by Gert Maritz op Saailaer aangesluit in Natal. As ’n seun van tien jaar, was hy saam met die Voortrekkers en Hans (Dons) de Lange se laer op die wal van die Groot Boesmansrivier, ses myl bokant Estcourt, vir drie dae en nagte omsingel deur Zoeloes (13, 14 en 15 Augustus 1838). Hierdie plek is toe Veglaer genoem.

Sy skoolopleiding het hy in Pietermaritzburg ontvang. Op 14 November 1849 is hy in die huwelik bevestig met Anna, dogter van Matthys Marais van Umkomaas en later van die distrik Estcourt.

In 1853 het hy een van sy skoonvader se plase gekoop, grensende aan Estcourt, die geskiedkundige plaas “Zaailaager”, waar Gert Maritz, Hans Dons de Lange en ’n paar ander Voortrekkerlaers gestaan het.

In 1859 stuur hy aan as tolk in Engels, Afrikaans en Zoeloe by die Landdroskantoor Estcourt,  onder Landdros MacFarlane, eerste Landdros van Estcourt.

In 1873 verlaat hy Estcourt en gaan na Utrecht onder die Suid-Afrikaanse Republiek as Landdros. Hierdie pos beklee hy tot 1881.

Na die anneksasie van die Transvaal op 12 April 1877 is hy en Hendrique Shepstone benoem tot ’n tweeman-kommissie om die lang bestaande grensgeskil met Cetewayo te besleg. Cetewayo was uiters onvriendelik. Hy het die Landdros toegesnou: “Hoe durf jy ’n Engelsman in my land bring. Weet jy nie ’n Engelsman is soos ’n padda nie? Vanaand buite jou, stroois, more-aand is hy daar binne.”

Ceterwayo was so kwaad dat hy ’n aantal Zoeloes gestuur het om die twee op hulle terugreis te vermoor. Maar vir Rudolph was die barbaar se mentaliteit ’n ope boek. Hulle is met ’n ompad huis toe. Later het Cetewayo hom raakgeloop en vertel van die moordpoging, en daarby toegevoeg: “Jy is ’n slim jakkals.”

In 1879 is berig ontvang dat Cetewayo se wagte reeds tot tien myl van Utrecht af opgeruk het om die inwoners van die dorp uit te roei. Vir die Landdros het Cetewayo baie agting gehad, en dit was begryplik dat Rudolph die aangewese man was om te probeer om die aanslag af te weer.

Hy het vrywilligers gevra om saam te gaan onderhandel, maar net 67 man het hulle aangemeld. Die volgende oggend het net sewe opgedaag. Met hierdie groepie en sy polisiejong het hy die vyand tegemoet gery. ’n Entjie van die Zoeloes af het die sewe man agtergebly, en hy met sy polisiejong het tot by die aanvoerders gegaan. Hy het op sy perd bly sit en uiteindelik die aanvoerders van Cetewayo se magte oorreed om nie die bevele van hulle koning uit te voer nie.

Net na hierdie ooreenkoms het een van die Zoeloes egter met ’n assegaai op die Landdros afgestorm. Rudolph het die knopkierie van sy polisiejong gegryp en die Zoeloe se kop verpletter. Die Landdros wou sy rewolwer gebruik, maar die aanvoerders het geskree dat hy nie moet skiet nie. Daarop het die menigte die dooie Zoeloe met hulle assegaaie verder vermink. So is die aanval op Utrecht afgeweer. Vir hierdie kordaatstuk is hy op 24 Mei 1882 deur Koningin Victoria vereer met die toekenning van ’n ivoor en goue stervormige CMG- medalje, “The Companion of the most distinguished Order of St. Michael and St. George”.

In 1881 verlaat hy Utrecht, en word landdros van Ladysmith, Natal, tot 1899. Vanaf 1899 het hy by sy seun op sy plaas “Zaailaager” gebly tot na die Tweede Vryheidsoorlog. In 1903 verhuis hy na sy nuwe tuiste te Greytown waar hy op 14 April 1906 oorlede is in die ouderdom van sewe-en-sewentig en-’n-half jaar.