Die Gatskuurmeul
Desember 2, 2015
Diamante word ontdek
Desember 2, 2015

(geskryf deur WJ Wentzel, Laerskool Gerrit Maritz, Westonaria, soos verskyn in Historia Junior)

“Kent gii dat volk vol heldenmoed,

En toch so lang geknecht?

Het heeft geofferd goed en bloed

Voor vrijheid en oor recht.

Komt burgers! Laat die vlaggen wapp’ren

Ons lijden is voorbij.

Roemt in de zege onzer dapp’ren.

Dat vrije volk zijn wij.”

As ons hierdie volkslied van Transvaal uit volle bors aanhef en die dade van ons dapper helde roem wat hul goed en bloed vir ons vryheid geoffer het, dan verrys daar onwillekeurig die name van die dapperstes voor ons geestesoog. En as ons die Groot Trek in herinnering roep, dink ons o.a. aan manne soos Piet Retief, Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en Gerrit Maritz.

Hier wil ons hulde bring aan laasgenoemde, Gerrit Maritz. Hy het nie ’n marteldood gesterf soos Piet Retief of was nie ’n held van Bloedrivier soos Andries Pretorius nie, maar deur sy stille kragtige optrede lewer hy feitlik net so ’n groot bydrae tot die geskiedenis van ons volk. Hy was die stut en steunpilaar van die Groot Trek. Hy was die man wat orde uit chaos kon skep, wat wanhoop en verwarring met berusting en hoop vervang het.

Hy was die tweede oudste seun van Salomon Maritz en Maria Elizabeth Oosthuizen en is in Maart 1797, in die Suurveld in die suidoostelike uithoek van die Graaff-Reinetse distrik gebore. Hier en later toe sy ouers by die Swartkopsrivier gewoon het, maak hy al kennis met die moeilikhede en probleme van die Oosgrensboere. Hy ervaar die verskriklike gebeure van Slagtersnek en die Swart Omgang as jong seun. Hy groei op in ’n ouerhuis waar sy ouers hom geestelik opvoed. Al hierdie dinge sou later ’n groot invloed op sy lewe hê, as ons hom leer ken as ’n diep gelowige mens, streng gedissiplineerd en vasberade om wat hy glo wat reg is, te laat geskied.

Later gaan woon sy ouers in Graaff-Reinet. Op 14 Mei 1820 word hy en Anginitha Olivier in die huwelik bevestig. Hulle huur gesamentlik ’n huis met Willem van Straaten. Gerrit, wat hom bekwaam het as timmerman, begin ’n wamakersbesigheid. Hy toon vroeg al dat hy ’n bekwame sakeman is en sy besigheid floreer en spoedig kon hy meer eiendom aanskaf. Sy fyn sake-insig en onuitputlike energie dra daartoe by dat hy op die vroeë leeftyd al ’n vermoënde man word.

In 1834, toe daar sprake van trek was, was hy een van die eerstes wat besluit het om te trek. Hy het nie sy materiële belange bo sy plig teenoor sy land en volk gestel nie, maar het hom dadelik begin beywer vir die groot saak.

Terwyl Maritz op Graaff-Reinet gewoon het, was hy ook wyksmeester en moes toesien dat wet en orde in sy wyk gehandhaaf word. Hierdie plig het hy met nougesetheid uitgevoer en selfs nie geskroom om landdros Stockenström te betig oor sy perde wat op onverskillige wyse deur die strate aangejaag word nie. Hy verklaar dat dit gevaarlik is en kinders beseer kan word. (Wonder wat sou hy van vandag se motoriste gesê het!) Hier doen hy besondere nuttige ervaring op en hy kry te doen met administratiewe en bestuurlike aangeleenthede wat later baie goed te pas kom. Sy persoonlike belange as wamaker ontwikkel sy deursettingsvermoë en sy werk as beampte leer hom om wet en orde te handhaaf.

In 1836 is daar ernstig begin met die voorbereidings van die Trek. Een van die eerste persone wat hiermee begin het, was Gerrit Maritz. Nadat daar verskeie kommissies uitgestuur is om die binneland te verken en veral Uys met baie gunstige kritiek oor Natal teruggekeer het, het Maritz sy sewe swierige, blou waens begin toerus vir die lang pad en ook verskeie ander boere aangemoedig om te trek en met hulle toerusting behulpsaam gewees. In September 1836 het Maritz en sy huisgesin Graaff-Reinet verlaat. Sy vrou en ses kinders, sy weduweemoeder, drie broers en sy suster wat met eerwaarde Erasmus Smit getroud was, het die kern van sy trekgeselskap uitgemaak. ’n Neef van hom “M. Oosthuizen”, Coenraad en Gert Scheepers, asook verskeie ander persone het by hom aangesluit.

By Sanddrif het hulle deur die Grootrivier getrek. Voor hulle egter kon deurtrek, het hulle tyding ontvang van die wrede wyse waarop Silkaats die Liebenbergs vermoor het, maar selfs dit kon Maritz nie ontmoedig nie en onverskrokke trek hy voort. Van Sanddrif af trek hulle deur die Caledonrivier en op 19 November span hulle aan die suidekant van Blesberg, waar Thaba’Nchu vandag is, uit.

Hier tref Maritz Hendrik Potgieter en sy geselskap aan. ’n Soort van mark word gehou en Maritz voorsien in baie behoeftes van die minder gegoede Trekkers van die Potgieter-geselskap. Hier maak ons kennis met Maritz se ruimhartigheid en sy behulpsaamheid teenoor ander. Ofskoon hy soms uiterlik koud en afsydig voorgekom het, het hy ’n groot hart en ’n oop hand gehad.

Die Trekkers het nou ’n moeilike taak gehad om te verrig en dit was die daarstelling van ’n Trekkersregering. ’n Burgerraad wat uit sewe lede bestaan het, is gekies. Maritz word as “President” gekies en Potgieter as “Leger-kommandant”. Hulle sou vir wetgewing plus uitvoering en regspleging verantwoordelik wees. Hierdie regeringstelsel was baie elementêr, maar het tog aan sy doel beantwoord. Dit was veral toe te skrywe aan die nugtere, wakkere optrede van Maritz.

Hy was ’n man met suiwere demokratiese opvattings en in die uitvoering van sy pligte sorg hy dat hy goed op hoogte van regsake en wetgewing is. Tussen sy boeke vind ons dan ook naas sy Bybel en Teologiese boeke, boeke wat handel oor die regspleging: Boeke van regsgeleerdes soos Van der Linden en De Groot. Hy is dus in alle opsigte ook op intellektuele gebied, geskik om die waardige amp as President te beklee.

Na die vreeslike moorde van Silkaats op die Liebenbergs het die Trekkers ’n vurige begeerte om silkaats te straf. Potgieter in Maritz ruk op teen die Matebeles en in een van die grootste militêre Prestasies wat ooit in Suid-Afrika gelewer is, verslaan hulle Silkaats en keer terug met baie van die vee en goedere wat Silkaats gebuit het.

Toe daar tyding ontvang word dat Piet Retief hom by hulle sou aansluit, besluit die Trekkers onmiddellik om hom as leier van die Trek te kies. Na Retief se aankoms word daar weer ’n Trekkerraad saamgestel en hy word as goewerneur aangestel, terwyl Maritz as landdros diens doen. Laasgenoemde was verantwoordelik vir die regspleging; hy was hoof-huwelikskommissaris en later ook boedeladministrateur en Weesheer.

Retief met sy warm menslike geaardheid het gou die vertroue van almal gewen, maar dit was Maritz met sy koel sakevernuf en kennis wat versigtig was. Dit blyk duidelik dat hy ’n fyner waarnemer as Retief was, want toe Retief vol vertroue manne bymekaar maak om Dingaan te gaan spreek oor die grondgebied wat Dingaan hom beloof het, was dit Maritz wat hom gesmeek het om nie weer na Dingaan te gaan nie. Retief wou egter nie luister nie en moes op Hlomo Amaboeta die hoogste tol betaal. Nou was dit weer Maritz wat die Trekkers aangevoer het om hulle laers in gereedheid te bring, indien die Zoeloes besluit om hulle aan te val. Dit was dan ook net sy laer en die van Van Rensburg wat daarin geslaag het om die Zoeloe-aanvalle af te weer.

Toe Potgieter ’n strafekspedisie teen Dingaan organiseer, het hy ook nie na die raad van Maritz geluister nie, en word hy en sy manskappe by Italeni verslaan en keer hulle moedeloos terug. Was dit nie vir die besielende optrede van die vrouens nie, het baie van die Trekkers seker omgedraai na al die verskriklike ontberings.

Geduldig en met sorg het Maritz egter sy taak uitgevoer. Hy het omgesien na die arme weeskinders wie se ouers by Bloukrans en Moordspruit vermoor is, al die sake i.v.m. die afgestorwenes se boedels behartig en toegesien dat elkeen regverdig behandel word. Hy stuur ook briewe aan die Kaapkolonie en probeer hulp kry teen die Zoeloes. Dis dan ook nou dat Andries Pretorius besluit om te trek en hom uiteindelik by die Trekkers aansluit.

Maritz en sy mense trek nou na die Klein-Tugela en laer af langs die Boesmansrivier. Hy tref weer eens sorgvuldige voorbereidings om nie onverhoeds deur die Zoeloes oorval te word nie en gooi selfs ’n hoë wal van sooie om sy laer sodat dit bekend staan as Sooilaer.

Hiervandaan onderneem hy ’n tog na Port Natal en onderhandel met die Engelse daar. Sy gesondheid versleg egter mettertyd en as hy vir die tweede keer na Port Natal gaan om handel te drywe met die Engelse moet hulle hom by sy terugkeer na sy tent dra.

Op Saterdag 22 September het sy siekte ernstig toegeneem, terwyl daar ’n geweldige storm oor die laer losgebars het. Sondag was sy toestand nog erger en Erasmus Smit het gekom en Maritz in sy laaste ure bygestaan. Hy was teleurgesteld, omdat hy nie die einde van die Trek in Natal kon beleef nie, maar hy vergeet sy eie teleurstelling en sê: “My raad aan julle is: wees getrou aan die Heer en aan die owerheid. Hoe moeilik dit ook blyk, julle sal die opbloei van ons volk seker aanskou in hierdie veelbelowende land.”

Elfuur die aand, met net die sagte getik van reëndruppels op die tentseil, het hy gesterf. Hy was ’n man wat ’n ideaal, nagestreef het met ’n strenge doelgerigtheid en onverskrokkenheid, iemand wat besef het dat sonder orde en dissipline so ’n Trek op ’n ramp sou afstuur.

Hierdie groot, stil man wat soms afsydig en hard kon wees, maar op ander tye weer sy hulp en bystand verleen het, het op 41-jarige leeftyd heengegaan en plek gemaak vir ’n nuwe leier: Andries Pretorius.

Maar as ons by Bloedrivier staan en die wonderlike oorwinning aanskou wat deur die wil van God deur Andries Pretorius behaal is, bring ons ook hulde aan diegene soos Maritz en roem ons ook hulle heldedade.