Gerhardus Marthinus Maritz (1798-1839)

Pieter Lafras Uys (1797-1838)
March 5, 2019
Susanna Catharina Smit (1798-1863)
March 5, 2019

WEESHEER EN BOEDELBEREDDERAAR VAN DIE VOORTREKKERS

In die naam van die stad Pietermaritzburg is verewig die name van twee groot Trekkerleiers, Piet Retief en Gert Maritz. Die eerste van hierdie twee persone was ’n grootse figuur, ’n man wat in persoon en werk in reliëf bo sy omgewing vertoon het, maar dan was Gert Maritz self ’n Afrikaner in woord en daad, vroom, eerlik, sterk. Die Trekkers kon opsien na hierdie man en sy trekgenote het agting vir hom gehad, hom bemin, sy sterk persoonlikheid aangehang. Nie soseer krygsman nie, maar ’n leier, die egte vader van sy makkers was hy.

Gerhardus Marthinus Maritz is in die jaar 1798 in die “swaargeteisterde Suurveld-wyk” in die distrik Graaff-Reinet gebore. Hier het hy sy plek volgestaan in die burgerlike lewe. Hy was nie alleen ’n leier op kerklike gebied nie, maar ook sakeman. Die beste wamakersbesigheid in Graaff-Reinet en omstreke, was sy eiendom, en op stoflike gebied was hy daar goed aan toe. Hy het ’n goeie opvoeding geniet, was beminlik van geaardheid en vir sy tyd was hy ’n man van ontwikkeling. In hierdie distrik sou hy die nodige ervaring opdoen, waardeur “hy vir sy belangrike en verantwoordelike werk in verband met die Trek voorberei sou word.”

Die naam van Gert Maritz sal altyd verbind bly aan die derde groot Trekgeselskap wat in 1836 met nagenoeg 100 waens en baie vee Graaff-Reinet en omstreke verlaat het en op trek gegaan het na Thaba Nchu, die voorafbepaalde bymekaarkomplek van die Trekkers. By Thaba Nchu aangekom, stuur hy onmiddellik hulp aan Hendrik Potgieter by Vegkop, en op 2 Desember word hy op ’n volksbyeenkoms gekies tot president van die burgerraad. Potgieter word “leegerkommandant”.

Vroeg in Januarie 1837 is hy saam met Hendrik Potgieter medebevelvoerder van die strafkommando teen Silkaats. Die onderneming was ’n skitterende sukses, maar ongelukkig kom daar nou verwydering tussen die twee aanvoerders.

Beide was ambisieus en koppig, twee sterk persoonlikhede. Met die aankoms van Retief, kort hierna, word Maritz “President-Rechter van die Raad van Policie”, terwyl Retief verkies is tot “Goeverneur en Opperbevelhebber”. Potgieter is absoluut oor die hoof gesien en sy groot teenstander, Maritz, was nou president van die raad, siviele hoof van die staat, slegs onderhewig aan die hoof en goewerneur, Retief.

Foto: Gert Maritz (Denkbeeldige tekening)

Potgieter trek nou noordwaarts en Retief en Maritz alleen Natalwaarts. Eers gedurende Maart 1838, na die moord op Retief, sou Maritz sy ou teenstander weer ontmoet. Maritz moes die strafkommando teen Dingaan lei, maar met die aankoms van Potgieter en Piet Uys, het hy met edelmoedige onselfsugtigheid teruggestaan en die leiding van die veldtog aan Potgieter oorgelaat.

Hyself sou as weesheer en boedelberedderaar agterbly. Na die noodlottige slag van Italeni trek Potgieter, omdat hy beskuldig is van lafhartigheid en verraad, weer weg oor die Drakensberge Transvaal-toe.

Maande van kommer, lyding en gebrek het nou gevolg. Die mense was beroof van byna alles wat hulle besit het, en het Maritz en andere nie mildelik gegee nie, sou hulle omgekom het van honger en naaktheid. Maar Maritz was reeds deur kommervolle dae en ontberings in ’n verswakte toestand, en op 3 Desember is hy ernstig siek. Twintig dae later is Maritz, die geliefde leier, op wie almal se oë in die uiterste nood gevestig was, oorlede in die ouderdom van slegs 41 jaar en ses maande. Met sy dood bereik die trekkerlewe ’n laagtepunt; die groot kudde was nou herderloos.

Gert Maritz is wel deur sy teenstanders van ambisieuse beskouings en onversoenlike optrede beskuldig, maar sy naam sal deur ’n dankbare nageslag in ere gehou word solank die Afrikaner bestaan. Hy was ’n man van edele inbors, ’n waardige leier wat onder alle omstandighede sy pligte getrou nagekom het en iemand wat vryelik bygedra het om lyding van sy volgelinge te lenig. Ook wat betref administratiewe aangeleenthede en op die gebied van die burgerlike bestuur van die Trekkergemeenskap het hy baanbrekerswerk verrig.

’n Leier na wie die Voortrekkers opgesien het

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.